Pepsi wil bekende SA kosgroep koop
Pepsi wil bekende SA kosgroep koop

Pepsi wil bekende SA kosgroep koop

Volgens die Sens-verklaring het PepsiCo se filiaal PepsiCo Offerer ’n vaste voorneme gedoen om ál Pioneer Foods se aandele te koop.
Hanlie Stadler



Die Amerikaanse koeldrankreus PepsiCo wil Pioneer Foods uitkoop, is bekend gemaak.

Dit sal van Suid-Afrika se bekendste kos- en koeldrankprodukte in Amerikaanse hande plaas, insluitend Marmite, Bovril, ProNutro, Weetbix, Sasko, Moir’s, Lipton, Peck’s Anchovette, Futurelife, Heinz en Mama’s.

Pioneer het dié enorme aankondiging Vrydagoggend op Sens gedoen nadat hy vroeër die week die mark aan die gons gehad het met die aankondiging dat onderhandelinge aan die gang was wat sy aandeelprys kan beïnvloed.

Die transaksie is volgens die Sens-verklaring een van PepsiCo se grootste verkrygings nóg buite die VSA en “demonstreer PepsiCo se geloof in Suid-Afrika se potensiaal en sy langtermynverbintenis tot die land.”

Volgens die lang Sens-verklaring het PepsiCo se filiaal PepsiCo Offerer, wat spesifiek vir die transaksie gestig is, ’n vaste voorneme gedoen om ál Pioneer Foods se aandele te koop.

Die aanbod is vir R110 kontant per aandeel, dus sowat 22% meer as Donderdag se sluitingsprys van R77,60. As die transaksie ná 30 September vanjaar plaasvind, sal aandeelhouers steeds ’n dividend ontvang, en as die ná 31 Maart 2020 plaasvind, ’n tussentydse dividend.

Pioneer self sê die aanbod – wat nog verhoog kan word – verteenwoordig ’n premie van 56,5% op die 30-dae- volumegeweegde aandeelprys van R70,31, soos op 12 Julie gemeet. Die aandeelprys het ná Maandag se omsigtigheidsaankondiging begin klim.

Pioneer het ’n onafhanklike direksie van drie mense vanuit sy groter direksie geskep spesifiek om die transaksie te oorweeg en dié direksie beveel die transaksie eenparig vir aandeelhouers aan. Dit is Norman Thomson, Sango Ntsaluba en Lindiwe Mthimunye.

Aandeelhouers wat 52,85% van Pioneer se gewone aandele besit, het reeds belowe hulle sal die transaksie steun. Dit sluit in die beleggingsbeheerfirma Zeder, wat 28,23% van Pioneer besit.

MOTIVERING VIR DIE TRANSAKSIE

PepsiCo besit benewens Pepsi ook koeldranke soos Mountain Dew en 7UP en skyfies soos Simba, Nik Naks, Doritos, Fritos en Lays. Hy het bedrywighede in meer as 200 lande en grondgebiede.

PepsiCo neem ’n sterk politieke standpunt in deur te verwys na die verkiesing van pres. Cyril Ramaphosa onlangs.

“Te midde van ’n uitdagende wêreld- en plaaslike ekonomiese omgewing, verteenwoordig die transaksie ’n mosie van vertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie.

“Die regstreekse buitelandse investering wat die transaksie sal meebring, sal betekenisvol tot die groei van die Suid-Afrikaanse ekonomie onder sy nuutverkose leierskap bydra. Dit sal ook help om verdere regstreekse buitelandse investering te lok en herbekragtig die saak dat Suid-Afrika ’n aanloklike beleggingsbestemming vir multinasionale maatskappye is.”

PepsiCo het hom tydens die apartheidsjare aan Suid-Afrika onttrek en sukkel sedertdien om hond haaraf te maak teen Coca-Cola, wat in die land gebly het.

PepsiCo beskou Afrika as ’n “sleutelmark vir toekomstige groei” danksy die potensiaal vir groei “en die betreklike bekostigbaarheid en waardeproposisie van baie van PepsiCo se produkte”.

Hy beskou die verkryging van Pioneer Foods as ’n manier om sy teenwoordigheid “in ’n land en streek met hoë groeipotensiaal” te laat styg.

“Pioneer Foods se vervaardigings- en verspreidingsvermoëns sal die penetrasie van PepsiCo se produkte aan Suid-Afrikaanse verbruikers uitbrei. Pioneer Foods vorm ’n belangrike deel van PepsiCo se strategie om nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Afrika suid van die Sahara uit te brei.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer