Perde se pleidooi ruk wu00eareld
Perde se pleidooi ruk wu00eareld

Perde se pleidooi ruk wêreld

Die ministerie het vanjaar steeds geen poging aangewend om die hiënas te verwyder nie, hoewel hulle in Desember reeds onderneem het om dit te doen.
Tanja Bause
Tanja Bause – Ná die wilde perde van die Namib se pleidooi gister in sosiale media gedeel is, word die Namibian Wild Horses Foundation met oproepe van oorsese koerante en TV-stasies oorval.

Só het mnr. Manni Goldbeck, voorsitter van dié stigting, Dinsdag gesê.

“Organisasies is geskok oor hoe Namibië met hul nasionale erfenis omgaan. Talle het aangedui hulle sal so vroeg as volgende week reeds in Namibië wees om stories te skryf en te verfilm. Ons hoop dié geweldige internasionale aandag kan dalk help om die perde te red,” het hy gesê.

Hiënas, wat onder die wilde perde maai, het feitlik al die nuwe vullens vrekgemaak, wat in die laaste paar maande gebore is.

Hoewel mnr. Romeo Muyunda, woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme (MET), op 24 Januarie gesê het die ministerie hét in Desember, sonder sukses, probeer om die hiënas te verskuif, het hulle onderneem om in Januarie weer te probeer.

Tot dusver is oënskynlik geen verdere poging deur die ministerie aangewend om die hiënas te probeer te verskuif, of om die perde van uitwissing te red nie.

‘Hulle monitor niks’

“Intussen monitor ons die perde, en veral die vullens, om te verseker die hiënas vang hulle nie terwyl ons aan die oplossing werk nie,” het Muyunda ook in Januarie gesê.

’n Betroubare bron het gesê hy ry amper elke dag in die gebied rond en het nog nie verteenwoordigers van die ministerie daar teëgekom nie.

“Hulle was in Januarie glad nie hier nie. Hulle monitor niks nie,” het die bron gesê.

In die afgelope weke het die hiënas vyf vullens gevang, en volgens hom was daar Maandag nog net een lewende vul.

“Dit was Maandag. Ek kan jou verseker dié vul, en dus die laaste vul, is nou ook al dood,” het hy gesê.

Muyunda het intussen Dinsdag gesê die ministerie is bewus van ’n verklaring wat Namibia Wild Horses Foundation vroeër vandeesweek uitgereik het.

“Die ministerie het belowe om die wilde perde-kwessie op te los, en ons staan by dié belofte. Dit is ongelukkig dat verskeie pogings in Desember om die hiënas te vang, onsuksesvol was. Die operasie is verder deur vakansiedae ontwrig, toe die meeste mense met vakansie was. Die ministerie het homself daaraan toegewy om die hiënas te vang. Ons het ook personeel in die omgewing gestasioneer om die hiënas dop te hou, terwyl die ministerie steeds probeer vasstel wat die beste metode is om die hiënas te vang en te verplaas,” het hy gesê.

‘Nuwe opdrag uitgereik’

“Die onlangse tyding van die vullens wat deur hiënas doodgemaak is, is ongelukkig en betreurenswaardig. Ons het ons streekpersoneel beveel om feite hieroor te bevestig en verslag aan ons te doen oor hoeveel vullens dood is en hoeveel oor is. Intussen is ‘n nuwe opdrag uitgereik dat die hiënas as ’n saak van dringendheid gevang moet word. Ek is ingelig personeel is reeds in die veld met die doel om hulle te vang,” het hy gesê.

Volgens die bron was daar teen Dinsdag egter geen teken van enige ministeriële beamptes in die omgewing nie.

Volgens die Namibian Wild Horses Foundation se verklaring het die finale uur vir die Namib se wilde perde aangebreek, wat vir meer as 100 jaar reeds op die Garub-vlaktes bly.

“Sedert 2012, toe ’n trop gevlekte hiënas na die gebied getrek het en die perde begin vang het, het hul getalle van 286 tot 79 gekrimp. Nie een vul het die afgelope vyf jaar oorleef nie, wat die jongste perde sewe jaar oud maak,” lui die verklaring.

Verlede jaar is die droogte gebreek, die perde se toestand het verbeter en die eerste vullens is gebore.

Die hiënas het weggetrek en daar was vir die eerste keer hoop dat die perde sal bly voortbestaan.

Dít was egter van korte duur.

“Die stigting onderhandel sedert 2015 al met die ministerie om óf die hiënas te verskuif, óf kuratorskap oor die perde aan die Namibian Wild Horses Foundation toe te staan. Dít sou die stigting in staat stel om geskikte grond iewers anders te soek, en die perde te verskuif sodat hul voortbestaan verseker kan word. In Desember het die ministerie ’n verklaring uitgereik en gesê hulle sal die hiënas verskuif omdat hulle die waarde van die perde vir toerisme en as nasionale erfenis erken.

“Ongeveer 10 van die merries is dragtig, en die vullens is die laaste hoop op voortbestaan. Ons is nou in die laaste uur van die bestaan van dié wilde perde op die planeet. Sonder die kans op nuwe lewe is hul bevolking gedoem,” sluit die verklaring af.

Die plasing van dié verklaring op Facebook het internasionale én plaaslike opskudding veroorsaak.

Hier volg van die kommentaar wat uit alle oorde gelewer is:

“Weer eens doen MET wat hulle die beste doen: niks. Net gepraat en geen aksie nie wanneer dit kom by die beskerming van Namibië se erfenis.”

“Iemand moet net die moed het om die hiënas te skiet. MET gee net 'n belofte sodat ons stil bly. Dit is meer as hartseer en onregverdig en moet dadelik gestop word.”

“Nee, nee, nee, dit kan nie gebeur nie. MET hoe kan jy dit toelaat?”

“Kom ons begin ’n GoFundMe om geld in te samel om 'n groep te vorm om die hiënas te verwyder? Moenie wag vir die ministerie nie.”

“Dit is so hartverskeurend, net beloftes van MET wat nie gehou word nie. Hoe kan dit stopgesit word? Die perde het blykbaar geen reg om daar te wees nie. Beloftes net sodat ons stil bly, ons oë toemaak en die hiënas toelaat om te doen wat hulle doen, die perde doodmaak.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 37° Rundu: 22° | 38° Eenhana: 21° | 37° Oshakati: 22° | 34° Ruacana: 19° | 37° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 21° | 36° Omaruru: 20° | 38° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 18° | 34° Henties Bay: 14° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 18° | 34° Mariental: 18° | 35° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 17° | 35° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 17° | 34° Oranjemund: 14° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 16° | 32° Lubumbashi: 16° | 33° Mbabane: 12° | 25° Maseru: 7° | 24° Antananarivo: 17° | 27° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 19° | 30° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 24° Durban: 14° | 23° Johannesburg: 13° | 27° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 30° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!