Persiebaas handhaaf hoogste standaarde

Ná 37 jaar se boer met Persieskape weet Wedloop se boer wat gehalte is, en die bewys daarvan lê in die magdom kampioentitels wat hy reeds huis toe kon neem.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Elke keer wat Oom Johan van Zyl van Wedloop-stoetery se Persieskape op die Windhoek Skou meegeding het, het hy óf skoonskip onder die kampioentitels gemaak óf minstens een van die grootkampioene opgelewer.

Die Suideboer, wat reeds sedert 1980 met die skape boer, kén ’n mooi Persie as hy hom sien. Toe hy in 2010 die eerste keer met sy diere begin skou het, het hy al die kampioentitels gewen. Dieselfde het in die daaropvolgende twee jaar gebeur.

In 2013 het hy nie geskou nie, maar toe hy die volgende jaar weer skoudiere inskryf, het hy nog ’n klomp kampioentitels huis toe geneem. Hy het daarna eers weer verlede jaar geskou en weer eens was die grootkampioenram syne.

“Indien jy sorg dat jy die beste genetika bekom, sal jy die vrugte daarvan pluk. Dit is ’n belegging,” sê hy.

Hy sê hy het intussen effens afgeskaal as dit by die grootte van sy stoet kom en hou nou 120 ooie en drie stoetramme aan.

“Ek streef daarna om met die minste aantal diere steeds die meeste ramme moontlik te teel.

“Indien iemand byvoorbeeld 50 stoetooie het en 25 ramlammers word gebore, kan mens dikwels net so 10 van hulle as ramme gebruik – die res word hamels gemaak omdat hulle gehalte nie goed genoeg is nie.

“Ná baie jare van teling is die genetika in my kudde van so ‘n aard dat ek 18 tot 20 uit 25 ramlammers as ramme kan verkoop. Ek probeer die standaard handhaaf en is alte bewus daarvan dat net een verkeerde ram jou jare terugsit.”

BEOORDELAAR

Van Zyl het intussen verskeie beoordelings- en keuringskursusse afgelê en het sedert 2015 verskeie kere op skoue beoordeel.

“Vanjaar gaan ek ook nie self skou nie, net beoordeel. Ek het reeds vir drie jaar beoordeling op die Stampriet Skou gedoen en ook een jaar by die Gobabis Skou. Vanjaar sal dit die tweede keer wees wat ek in Windhoek beoordeel.

“Ek het die beoordelingskursusse ter wille van ’n voorliefde vir die skaapras gedoen.”

Van Zyl sê arbeidsprobleme is die grootste rede waarom hy nie self vanjaar skou nie.

“Boonop voel ek ek is waar ek wil wees met die teling en het reeds ’n goeie mark deur goeie advertensie opgebou.”

As Persieskaapboer en beoordelaar glo hy die perfekte ram moet ’n manlike kop hê.

“’n Persieskaap se manlikheid lê in sy kop. Hy moet ook voldoen aan die ‘vier b’s’ van die ras, naamlik hy moet ’n sterk bek, bene, balans en bouvorm hê. As hy al hierdie elemente het, kan jy weet jy het ’n wenner.

“Mense soek Persieskape omdat dit ’n vet skaap is. Hy maak lekker biltong en wors. Dit beteken ’n goeie persieskaap het ’n groot stert wat hoog aangeheg is. Indien die stert te laag sak, veroorsaak dit vrugbaarheidsprobleme by die ooie.”

Van Zyl sê ’n goeie Persieskaap se kleur is ook korrek: “Die swart kop mag nie enige wit kolle hê nie, daar mag nie inhamme wees in die swart deel nie.

ARANOS - VAN KINDWEES AF

“Ek sal aanhou boer tot ek nie meer fisies kan nie. Ek het twee seuns, FJ en Toeloes, wat dan by my sal oorneem,” sê hy.

Van Zyl het in die Aranos-omgewing grootgeword en boer nou self daar naby – in Gochas se rigting.

Hy het die plaas waarop hy steeds boer, Wedloop, in 1987 gekoop nadat hy sy eerste stuk grond verkoop het en van Okahandja na Aranos verhuis het.

“Ek het aanvanklik eers vir Karoo-Ochse en later vir Agra gewerk. Ek het op die ‘kantlyn’ geboer en eers in 2010 begin skou omdat ek eers my voetwerk agtermekaar wou kry.

ANDER YSTERS IN DIE VUUR

Van Zyl teel ook vir homself Witdorperramme en boer ook met beeste – Simmentalers, Braunviehs, Afrikaners en wit asook rooi Brahmane. Alhoewel dié stoeterye nie geregistreer is nie, handhaaf hy ook hier die hoogste standaarde sodat mense wat diere by hom koop, hulle wel as stoetdiere moet kan registreer.

Wedloop se water is ook goed vir die vee.

“Ons het goeie loogwater op Wedloop en ek het dit laat ontleed.

“Ons het genoeg water en alhoewel dit nie goed tuinmaak nie, bevat dit goeie nitrate en minerale vir die diere – soveel so dat ek meestal nie aanvullingslekke vir die vee hoef te gee nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!