Personeel het skieter vertrou
Personeel het skieter vertrou

Personeel het skieter vertrou

’n Man het by sy vervreemde vrou se laerskoolklaskamer in San Bernardino, Kalifornië, ingestap en geskiet sonder om ’n woord te sê.

Die vrou en ’n agtjarige leerling is dood en ’n negejarige kritiek gewond. Die man, Cedric Anderson, het homself daarna doodgeskiet.

Die kinders was agter Karen Elaine Smith (53), 'n onderwyser vir leerlinge met spesiale behoeftes.

Sy is in Januarie met die Anderson getroud, maar hulle het sedertdien vervreemd geraak.

Die voorval het tot paniek gelei in die stad wat nog emosioneel herstel ná ’n terreuraanval 15 maande gelede waarin 14 mense doodgeskiet en 22 erg gewond is.

Honderde ouers het ná die skietery ure lank gewag om hul kinders op te laai.

Personeellede het Anderson geken. Hy het ­gesê hy moet iets by Smith aflewer en is toegelaat om na haar klaskamer te gaan, sê die polisie.

“Niemand het vorendag gekom en gesê dat hulle dit sien kom het nie,” sê Jarrod Burguan, polisiehoof.

Anderson het ’n misdaadgeskiedenis wat verband hou met vuurwapens, gesinsgeweld en moontlike dwelmgebruik. Dit dateer van voor sy huwelik met Smith.

Hy het die afgelope maand verskeie inskrywings op sosiale media oor sy vrou gedoen. Op sy Facebook-blad het hy gesê hy is “mal daaroor om met Karen Smith-Anderson getroud te wees”. Op 4 Maart het hy ’n foto van hulle twee geplaas waarop hulle liefderik styf teen mekaar staan.

Vroeër vanjaar is verskeie foto’s van sy troue met Smith geplaas, asook foto’s van hul wittebrood.

Vyftien leerlinge en twee volwasse ­assistente was in die klaskamer vir leerlinge met spesiale behoeftes toe Anderson ’n grootkaliber-rewolwer leeggeskiet en herlaai het.

Daarna het hy die rewolwer op homself gerig en die sneller getrek.

Jonathan Martinez (8) is ná die skietery inderhaas per lugambulans hospitaal toe gebring waar hy kort ná sy opname aan sy wonde beswyk het.

Die negejarige, wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, word in die hospitaal behandel.

Van die ander sowat 600 leerlinge is per bus etlike kilometers ver na die veiligheid van die Kaliforniese Staatsuniversiteit se kampus in die stad geneem. Sommige het hand aan hand onder polisiebegeleiding na die kampus ge­stap.

Paniekbevange ouers moes ure wag voordat hulle hul kinders by ’n nabygeleë hoërskool kon oplaai.

Holly Penalber, ouer van ’n negejarige seun en ’n sewejarige meisie, bestempel die dag as “elke ouer se ergste nagmerrie”.

Sy sê die lang wag was frustrerend, maar te verstane.

Toe die eerste busse van die skool na die kampus vertrek het, het ouers wat toe reeds by die skool opgedaag het, langs die busse gehardloop om te kyk of hulle hul kinders daarin kan sien.

Talle ouers sê hul kinders is nog te jonk om selfone te hê, terwyl ander sê hul kinders se selfone is nie beantwoord nie.

Toe die kinders veel later by die hoërskool opdaag met speelgoed wat aan hulle geskenk is om hulle besig te hou, het emosionele ouers, baie in trane, hul kinders omhels.

Alberta Terrell, ’n ouma, het lank op die hoërskool se sportterrein op haar kleindogter gewag. Sy het van verligting gehuil toe ’n vriendin haar meedeel dat haar kleinkind in ’n bus was, maar het eers ontspan toe sy die kind kon omhels. – News24Wire, AP

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer