Pessimistiese Reserwebank wek kommer
Pessimistiese Reserwebank wek kommer

Pessimistiese Reserwebank wek kommer

Hanlie Stadler

Ekonome se oë het Donderdag gerek toe die Reserwebank sy verwagting vir ekonomiese groei vir 2018 met ’n halwe persentasiepunt tot slegs 1,2% verlaag het.

In Mei het die sentrale bank nog groei van 1,7% verwag en selfs die Internasionale Monetêre Fonds het pas aangekondig hy verwag darem 1,5%.

Die Momentum-ekonoom Sanisha Packirisamy wys daarop dit bring die Reserwebank se groeiverwagting vir 2018 weer terug by dít wat in November 2018 voorspel is – op ’n tydstip van geweldige onsekerheid in die aanloop tot die ANC-leierskonferensie in Desember.

Ná pres. Cyril Ramaphosa se verkiesing tot ANC-leier het die Reserwebank sy groeiverwagting in Januarie tot 1,7% verhoog.

Nog slegte nuus is dat die Reserwebank se raming van die verskil tussen werklike en potensiële ekonomiese groei, die sogenaamde produksiegaping, vergroot het.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het Donderdag ná die rentekoersaankondiging gesê groei sal verbeter indien Suid-Afrika toerisme ’n hupstoot gee, lewe blaas in investering, breëbandspektrum beskikbaar stel en die voorstelle van die Nasionale Ontwikkelingsplan deurvoer.

RENTEKOERS

Die rentekoers is vir eers onveranderd gelaat, maar Kganyago sê dit lyk in dié stadium of vyf rentekoersverhogings oor die volgende paar jaar vir Suid-Afrikaners voorlê.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit, sê dis uit die monetêrebeleidskomitee se ontleding duidelik dat die ekonomie oor die volgende paar maande die wind van voor gaan kry.

Parsons sê benewens ander nadele beteken dit die staat gaan sukkel om sy boeke te laat klop – trae groei kan ook beteken dat belastinginkomste minder is as wat in die Februarie-begroting voorsien is.

“Tesame met die hoër as verwagte stygings in staatsamptenare se salarisse, sal verdere kredietafgraderings die ekonomie bedreig indien die mediumtermyn-begrotingsraamwerk in Oktober onthul dat Suid-Afrikaanse statistieke sy fiskale teikens met heelwat misgeloop het.

“’n Ommekeer in die ekonomie is nodig.”

Bianca Botes, van Peregrine Treasury Solutions, sê die verlaging van die groeiverwagting “is ’n terugslag vir die reeds sukkelende ekonomie en ons pogings om kredietgradeerders tevrede te stel. Dit sal ook ’n donker prentjie vir potensiële beleggers skets”.

Parsons sê maatskappye sal nie in Suid-Afrika belê sonder “beleidsekerheid en konsekwentheid” nie. Dit behels sekerheid oor onder meer grondhervorming en die herstrukturering van staatsbeheerde maatskappye.

“Suid-Afrika móét eenvoudig net op ’n hoër groeitrajek kom. Pres. Cyril Ramaphosa se veldtog om US$100 miljard se beleggings oor die volgende vyf jaar te werf, hang grootliks van groter beleidsekerheid af en dit moet die hoogste prioriteit bly indien Suid-Afrika groei ryk aan werkskepping wil lok.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!