Peter Zensi: Praktiese raad vir kuddebestuur
Elvira Hattingh – Die noordeboer, mnr. Peter Zensi, het tydens die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) se kongres oor kuddebestuur gesels. Hy is van mening dat ‘n produsent produksie en groei in sy kuddes kan verhoog en verliese verlaag, maar dat weidingsbestuur steeds die belangrikste faktor in kuddebestuur bly.
“Die enkele grootste faktor wat tot produksie bydra, is bestokking. Jy produseer ‘n persentasie van dit wat jy bestok – gewoonlik tussen 30% en 38%,” het Zensi gesê. Hier volg meer van sy raad oor kuddebestuur.
Produksietempo
Volgens Zensi is gesonde koeie en genoeg, gesonde bulle wat vrugbaar is en ‘n goeie libido het, goeie weiding en die regte lekaanvulling asook geskikte en genoeg water, die beste manier om seker te maak jy handhaaf die beste produksietempo.
“As 85% van jou koeie nie kalf nie, is daar êrens ‘n probleem wat jy sal moet hanteer.
“Wat water betref – beeste moet gereeld toegang tot geskikte water hê. Moet hulle nie probeer leer om byvoorbeeld net twaalfuur by die pos vir water te wees nie. Hulle moet kan suip soveel hulle wil, wanneer hulle wil. Laat toets ook die water. Moontlik het jou pa die boorgat geboor – toe was die water nog geskik, maar nou is dit dalk te naby aan die kraal geleë,” het Zensi gesê.
Volgens hom is lekaanvulling ook belangrik. “Dit is minder belangrik wat jy gee as wat die bees werklik inneem. Gee die regte lek op die regte tyd.”
‘n Gesonde teelkudde
Zensi raai produsente aan om net bulle te koop wat as gesond gesertifiseer is, en dat hulle gereeld vir geslagsiektes getoets moet word.
“Ent hulle teen toepaslike siektes en tree voorkomend op. Beheer parasiete en behandel siek diere. Deesdae hoef jy nie jou diere gereeld en moontlik onnodig te doseer nie – laat hulle toets waar nodig, kyk byvoorbeeld vir lintwurms in die mis. Hoekom wil jy gereeld teen bosluise behandel as die beeste nie bosluise het nie?
“In die ou dae het die meeste plase ‘n diptenk gehad en al die beeste is daardeur gejaag. Vandag behandel ons kol-kol waar nodig. Ons het reeds byvoorbeeld die bosluis se siklus gebreek.”
Goeie voeding vir kondisietelling-bevrugting
Hoe beter die kondisietelling, hoe beter is jou kans dat jou koeie beset raak, sê Zensi.
“In ons land gebeur dit min dat ‘n koei te vet raak en dit bevrugting negatief beïnvloed. As ‘n koeie te maer raak, kom sy nie meer op hitte nie. Kom ons sê sy hou op 400 kg op om op hitte te kom. Sy kan dalk nog 300 kg bereik en sal eers weer op hitte kom as sy weer 450 kg weeg.”
Zensi sê produsente moet ook hul koeie volgens hul prestasie, hul omstandighede op die plaas en die behoefte van die mark selekteer. Maak gebruik van jou eie rekords asook ander wetenskaplike seleksiemetodes.
“Wat geboortegewig (en dus bulaankope) betref: Groter beteken nie altyd beter nie. Veral ‘n kleiner voedselinname en ‘n beter voeromset, maak een bul beter as ‘n ander.”
Zensi sê dis belangrik om onproduktiewe diere uit die kudde te haal – soos dié wat oorslaan en swak presteer. “Haal ook ou koeie uit, laat hulle op tien jaar vir die laaste keer kalf.”
Teelseisoen – ja of nee?
“As jy nie ‘n teelseisoen het nie en jou bulle heel jaar tussen die koeie loop, kan dit tweeledig wees – of ‘n katastrofe of dit is deel van jou beplanning. As jy van teelseisoene gebruik maak, moet jy verkieslik twee ‘n jaar hê,” sê Zensi.
Volgens hom is die nadeel van net een teelseisoen dat verse nie op een en ‘n halwe jaar kan paar nie, maar net op twee jaar en dit beteken ook as ‘n koei oorslaan, slaan sy ‘n hele jaar en nie net ses maande oor nie.
Minder teelseisoene beteken egter beter beheer oor siektes, beter kontrole oor prestasie, maar jy beperk jou koeie tot ‘n tussenkalfperiode (TKP) van 365 dae.
“Moet ook nie te rigied met teelseisoene wees nie, pas aan by omgewingsomstandighede.
“Wissel jou bulle tydens die dekseisoen, want as een bul nie vrugbaar is nie, het jy moeilikheid in daardie kudde. Die nadeel daarvan om bulle te wissel, is dat jy nie altyd gaan weet wie die pa was nie, maar minstens het jy dan kalwers.
“Plaas ‘n jong bul by ouer koeie en verse by ‘n ervare bul.
“‘n Koei gee, wat energie betref, eerste vir haar eie onderhoud, dan melkproduksie, dan haar eie groei en dan eers vir die volgende kalf. Verse wat vir die eerste keer kalf, groei nog en het ‘n bietjie spesiale aandag nodig,” sê Zensi.
Zensi sê as dit by die teelseisoen kom, is dit goed om kalwers af te hok, want dit stel jou in staat om beter beheer oor die koeie te hê en die bul kry hulle makliker. Volgens hom onstaan daar dan ook minder probleme met roofdiere.
“As die koeie nie op hitte kom nie, hok die kalwers vir 36 uur af. Dit help dat hulle makliker op hitte kom.
“Hou dop – sowat een uit elke 21 koeie in jou kudde moet per dag op hitte kom. As jy 100 koeie het, moet 10 elke 21 dae op hitte kom.
“As dit nie die geval is nie, moet jy meer kos gee. Let ook op – dek die bul die koeie reg, word dieselfde koeie herhaaldelik gedek en dies meer. Let ook op wanneer koeie gedek word. As jy sien dat die koeie wat die vorige seisoen eerste gekalf het, eers teen die einde van die dekseisoen gedek word, weet jy om aanpassings te maak.
“Kalwing, veral onder verse, moet onder toesig plaasvind. Die kalf moet binne drie tot vier ure gebore wees. Die kalf moet in die eerste ure ná geboorte van sy ma se biesmelk inkry, dit dra haar immuniteit na die kalf oor,” sê Zensi.
Vermy verliese
Zensi sê jy kan verliese onder jou kudde vermy deur hulle onder meer teen roofdiere te beskerm. “Maak seker jou kalwers wat gebore word, is gesond. As ‘n vers kalf en jy skuif die kudde na ‘n ander pos – maak seker haar kalf kom saam. Verse is geneig om die kalf soms agter te laat.
“Hou die koeie se kondisie dop vir die regte tyd om die kalwers te speen. As sy te ver ‘afgesuip’ is, kan sy probleme ondervind om tydens die volgende dekseisoen te vat,” het Zensi gesê.
Die kalf se gewig word as ‘n persentasie van die ma se gewig weergegee. Hou rekords hiervan.
“As jy die kalf vir die eerste keer direk ná speen hanteer – jy vang hom, onthoring, kastreer, brand en ent hom, dan het jy ‘n wilde kalf. Jy moet die goed vroeg doen.
“Speen hom in ‘n kraal met voer, waar moontlik. As jy nie kan nie, probeer die koeie en kalwers in twee kampe van mekaar met ‘n elektriese heining skei, sodat hulle mekaar nog kan sien. As jy dit ook nie kan doen nie en jy het twee koei-kuddes – ruil die koeie, dan het hulle steeds kalwers wat saam met hulle loop.”
Groei
Zensi sê boere moet van optimale bestokking gebruik maak.
“Hou altyd ‘n balans tussen bestokking van ‘n enkele dier teenoor produksie per hektaar. As jy baie min beeste op ‘n plaas aanhou, produseer elkeen van hulle 100%, maar jou produksie per hektaar is laag.
“Sodra jy jou bestokking verhoog en die beeste kompeteer, produseer die individuele dier moontlik nie meer so goed nie, maar jy het ‘n hoër produksie per hektaar.
“Jy moet die balans vind sodat jou beeste goed genoeg presteer en jy genoeg per hektaar kan produseer,” sê Zensi.
“‘n Dier moet kan selekteer wat hy vreet en nie gedwing word om alle gras te vreet nie. Dit veroorsaak dat hy goeie en minder goeie gras, smaaklik en onsmaaklik, moet vreet en dit bring sy prestasie af.
“Hou rekords van koste per kg geproduseer – maak seker hoeveel jy op die minste moet produseer om gelyk te breek en ‘n wins te maak.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie