• Tuisblad
  • Sake
  • Petra se enorme blou diamant verkoop vir $14,9 m.
Petra se enorme blou diamant verkoop vir $14,9 m.
Petra se enorme blou diamant verkoop vir $14,9 m.

Petra se enorme blou diamant verkoop vir $14,9 m.

William Horne – Die enorme 20,08 karaat blou diamant wat die beleërde Petra Diamonds in September in sy Cullinan-myn gevind het is deur ’n anonieme koper vir $14,9 miljoen aangeskaf.

Die diamant word as tipe IIb geklassifiseer, wat as die skaarsste soort diamant ter wêreld beskou word.

Petra het Vrydag in ’n verklaring gesê die koper is ’n “vooraanstaande diamantmaatskappy”, maar dat dié verkies om nie sy naam bekend te maak nie.

Die Cullinan-myn, waar die blou diamant gevind is, is in 1902 as die Premier-myn begin en is wêreldberoemd vanweë sy groot en skaars diamante.

Die beroemdste hiervan is waarskynlik die Cullinan-diamant self, wat in 1905 in dié myn ontdek is en later in nege kleiner diamante opgesny is vir hoofsaaklik die kroonjuwele van die Britse koningshuis.

Volgens Petra is die Cullinan-myn die bron van meer as ’n kwart van al die wêreld se diamante groter as 400 karaat, en ook die voorste bron van blou diamante.

Die prys wat die jongste uiters skaars blou diamant gehaal het, is ook die hoogste wat ontleders verwag het en kom neer op $741 000 per karaat.

Volgens Yuen Low, ’n ontleder van Shore Capital, kan dié enkele steen se rekordprys op sy eie ’n baie “welkome hupstoot” aan Petra se beleërde geldsake verskaf, berig Mining.com.

Richard Duffy, uitvoerende hoof van Petra, het self sy opgewondenheid in die maatskappy se verklaring gedeel.

“Ons is baie tevrede met (die prys wat die steen gekry het) wat ooreenstem met ons verwagtinge en die veerkragtigheid in die waarde van blou diamante van baie hoë gehalte – ongetwyfeld een van die natuur se skaarsste skatte – herbevestig,” sê Duffy.

“Ons sien uit daarna om hierdie uitsonderlike steen se reis na sy gepoleerde vorm te volg.”

Petra het in September, toe die diamant gevind is, pas sy myne se waardasie met $250 miljoen verlaag terwyl hy ook aangekondig het dat Adonis Pouroulis, sy voorsitter en medestigter, gaan uittree.

Die diamant se enorme prys kan wel eensklaps vir sowat 5% van sy myne se verlaagde waardasie opmaak.

Petra het grootskaalse finansiële probleme wat onder meer ’n magdom skuld insluit.

Dié skuld spruit hoofsaaklik uit die grootskaalse opknapping van die Cullinan-myn, ongelukkig uitgevoer net toe die wêreld se diamantmarkte begin krimp het weens die toenemende gewildheid van sintetiese diamante.

Petra het Vrydag ook aangekondig dat sy bestuurstruktuur drasties verander is.

Die mynmaatskappy se bedryfshoof, Luctor Roode, gaan nie net die maatskappy verlaat nie, sy pos sal ook gevries word.

Alle myne sal nou regstreeks aan Duffy rapporteer.

Duffy sê Roode se aandeel in die broodnodige herstrukturering was enorm en besing die lof van die voormalige bedryfshoof in Vrydag se verklaring. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!