Petrolbom bars!
Petrolbom bars!

Petrolbom bars!

Petrol het sedert die begin van die jaar met N$2,80 of amper 25% per liter duurder geword, terwyl die dieselprys met N$2,50/liter of 22% gestyg het.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Woensdag bars die petrolprys aan die kus vir die eerste keer sedert die draai van die eeu deur die vlak van N$14 per liter.

Die ministerie van myne en energie het Vrydag die tweede grootste petrolprysstyging vanjaar aangekondig. Dié styging van 60c per liter gaan die petrolprys aan die kus tot N$14,15 per liter opjaag.

Die naaste wat die naald sedert 2000 nog aan dié prys gekom het, was in November 2018 toe petrol teen N$13,95 per liter aan die kus verkoop is.

Die dieselprys verhoog ook Woensdag en wel met 30c tot N$13,88 per liter aan die kus, steeds beduidend onder die piek van N$14,53 in November 2018.

Die jongste brandstofprysverhoging is die vyfde een tot dusver vanjaar en beteken petrol het sedert die begin die jaar met N$2,80 of amper 25% per liter duurder geword, terwyl die dieselprys met N$2,50 of 22% per liter gestyg het.

Aan die begin van die jaar het 'n tenk met 45 liter petrol aan die kus bykans N$511 gekos. Woensdag sal dit jou amper N$637 uit die sak jaag. 'n Tenk met 80 liter diesel in Januarie was sowat N$910 aan die kus. Nou gaan dit meer as N$1 110 kos.



SUBSIDIE

Die tier in die brandstofprystenk is die verswakking van die Namibiese dollar teenoor sy Amerikaanse eweknie.

Een Amerikaanse dollar in Augustus het teen gemiddeld N$14,74 verhandel vergeleke met N$14,52 in Julie. Hoewel die gemiddelde petrolprys van US$82,66 per vat vandeesmaand laer as die US$85,72 van Julie was en die dieselprys gemiddeld van US$79,34 tot US$75,51 per vat gesak het, kon brandstof dus nie goedkoper ingevoer word nie.

Data op die webwerf van die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor) toon die regering onderverhaal elke maand sedert die begin van die jaar op die petrol- en dieselprys. 'n Onderverhaling beteken brandstof word teen 'n duurder prys ingevoer as wat dit in Namibië verkoop word.

Onderverhalings op petrol was tussen 38c (Mei) en N$1,17c (April) per liter, terwyl dit tussen 14c (Mei) en N$1,11 (Maart) per liter op diesel was.

In Augustus het die onderverhaling op petrol N$1,01 per liter beloop. Vir diesel was dit 42c per liter. Dié onderverhalings sal deur die Nasionale Energiefonds (NEF) gesubsidieer word en nie op die verbruiker afgeskuif word nie, het mnr. Andreas Simon, senior woordvoerder van die ministerie, gesê.



IMPAK

Die jongste brandstofprysstyging sal beslis 'n uitwerking op September se inflasiekoers hê, sê mnr. Robert McGregor, navorsingshoof van Cirrus Capital. Brandstof maak sowat vyf present van die Namibiese verbruikersmandjie uit.

Die hoër brandstofprys vuur reeds die afgelope maande die prysmonster aan. In Julie was Namibië se algehele inflasiekoers 4% vergeleke met 2,1% in Julie 2020. Voedsel- en vervoerinflasie was vir sowat tweederdes van dié styging verantwoordelik, luidens Cirrus. Die inflasiekategorie, “bedryf van persoonlike vervoertoerusting” wat die brandstofprys insluit, het in Julie 'n koers van 14,2% getoon vergeleke met -4,7% in Januarie en -7,9% in Julie 2020. Ondanks die nuwe stygings, betaal verbruikers in Namibië steeds van die laagste pomppryse in Suider-Afrika, sê die ministerie.

Volgens Globalpetrolprices.com was die gemiddelde petrolprys in Namibië van 24 Mei 2021 tot 23 Augustus 2021 N$13,35 per liter.

Daarenteen was die gemiddelde prys in die wêreld N$23,63 per liter.
[email protected]

FOTO
Volgens Globalpetrolprices.com was die gemiddelde petrolprys in Namibië van 24 Mei 2021 tot 23 Augustus 2021 N$13,35 per liter. Daarenteen was die gemiddelde prys in die wêreld N$23,63 per liter. Foto Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!