Petrolprys: Su00f3 lyk Januworrie se daling
Petrolprys: Su00f3 lyk Januworrie se daling

Petrolprys: Só lyk Januworrie se daling

Dis die tweede agtereenvolgende maand waarin brandstofpryse daal.
Karin Eloff
Hanlie Stadler



Hier kom goeie nuus vir Suid-Afrika – net wanneer 'n mens dit die nodigste het, in Januworrie, wat altyd voel soos die langste maand van die jaar.

95-oktaan-petrol word vandag met nagenoeg R1,00 per liter goedkoper. Die groothandelprys van diesel daal met nagenoeg R1,30 per liter.

Dis volgens die laaste daaglikse syfers wat die Sentrale Energiefonds vir die oorsigtydperk vir Januarie uitgereik het.

Die finale aankondiging oor brandstofpryse is nog nie gedoen nie, maar dit behoort baie na hieraan te wees. Die syfer sal om die waarheid te sê slegs verskil indien die fonds die balansheffing, wat op die oomblik 21,92c per liter is, verhoog of verlaag, of weens afronding.

Die aankondiging word deesdae dikwels oor die naweek of selfs eers Maandae gedoen.

Dis die tweede agtereenvolgende maand waarin brandstofpryse daal nadat petrol in Desember met R1,84 per liter goedkoper geword het en diesel met R1,45 of R1,47, na gelang van swaelinhoud.

Die skerp daling beteken petrol gaan nagenoeg 20c per liter goedkoper wees as in Januarie 2018. Dit beteken ook petrol het sedert Desember met R2,84 per liter goedkoper geword, oftewel 'n stewige R127,80 vir 'n tenk van 45 liter.

Diesel het wel die afgelope 12 maande duurder geword, met nagenoeg 63c per liter, maar gaan darem R2,76 goedkoper wees as in November.

Verreweg die grootste rede vir die oorverhaling is die daling in internasionale oliepryse. Brent-ruolie, wat gebruik word vir die vervaardiging van Suid-Afrikaanse petrol, het Maandag kortstondig tot onder $50 per vat gedaal en het in die hele oorsigtydperk net een keer bo $60 per vat gesluit.

Die Nuwejaarspartytjie is 'n klein bietjie bederf deur die swak rand van die afgelope ruk. In die oorsigmaand het die rand selfs teen R14,64 teenoor die dollar gedraai.

En hoe lyk die vooruitsigte vir brandstofpryse vir die res van 2019?

Moet liefs nie dink die Desember- en Januarie-daling is die begin van 'n tendens nie. Op 1 Januarie word nuwe produksieperke wat die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (Opul) en ander groot produsente, vernaam Rusland, beding het, van krag.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) sê in 'n verklaring dit lyk asof die VSA op die punt staan om 'n netto uitvoerder van olie te word. “Indien dit gebeur, sal die mag van Opul-lande om brandstofpryse te beïnvloed, aansienlik verminder, wat tot groter stabiliteit in oliepryse kan lei.”

Dis egter 'n langtermynvooruitsig, en die AA waarsku dat motoriste op kort termyn geraak gaan word deur veral die rand-dollar-wisselkoers.

“2018 het gewys presies hoe kwesbaar Suid-Afrika vir wisselkoers-wisselvalligheid is, en ons belangrikste boodskap aan die regering is om te werk om die ekonomie te stabiliseer en staatskuld te hanteer.”

'n Styging in staatskuld relatief tot die bruto binnelandse produk kan tot 'n afgradering tot volslae rommelstatus lei as Moody's Investors Service die land afgradeer. Dit sal die rand ongetwyfeld laat verswak.

Die AA glo dat die ekonomie en beleggersvertroue in 2019 die rand gaan beïnvloed, en dat dit die grootste faktor gaan wees vir brandstofpryse.

Ontleders voorspel dat die wisselkoers besonder wispelturig gaan wees in 2019. Dit kan die rand tot selfs R12,56 laat versterk, reken Nomura, of tot R16,50 laat verswak, volgens JPMorgan Chase & Co.

Faktore soos hoe vinnig die Federale Reserweraad rentekoerse in die VSA verhoog en die handelstwis tussen die VSA en China gaan ook 'n rol speel.

Een faktor wat wel 'n bietjie verligting vir motoriste sal bring, is wanneer die balansheffing van 21,92c per liter opgehef word. Die Sentrale Energiefonds het dié heffing in November ingestel omdat die balansrekening waaruit hy brandstofmaat­skappye vir tekorte moet vergoed, 'n negatiewe balans van R2,2 miljard opgebou het weens herhaaldelike stygings in brandstofpryse in 2018.

Volgens Netwerk24 se ruwe berekeninge behoort die heffing nie langer as vyf maande, dus tot Maart, te geld nie.

 – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer