Petrolprys: Val van olieprys help dalk niu00e9 jou sak
Petrolprys: Val van olieprys help dalk niu00e9 jou sak

Petrolprys: Val van olieprys help dalk nié jou sak

Francois Williams en Bloomberg – Suid-Afrikaners kan in April ’n daling in brandstofpryse verwag as die skerp val in oliepryse en internasionale brandstofpryse voortduur.

Wat teen plaaslike brandstofpryse tel, is die ewe swakker rand, wat ’n deel van die voordeel van laer oliepryse teenwerk.

Die jaarlikse verhoging van brandstofheffings, vanjaar altesame 25c per liter, gaan ook ’n deel van die voordeel van laer oliepryse uitkanselleer.

Tans is daar ’n gemiddelde oorverhaling van 64c per liter op petrol, en 78c op diesel. As markfaktore stabiel bly vir die res van die oorsigtydperk, tot 26 Maart, kan petrol dus teoreties met 64c per liter daal en diesel met 78c.

Maar die verhoging van 16c in die brandstofheffing en 9c in die Padongelukfondsheffing sal die daling waarskynlik dan tot 39c vir petrol en 53c vir diesel beperk.

Dit is nog geraamde syfers, en met die huidige erge wisselvalligheid in die finansiële markte sal enige veranderings van nou tot 26 Maart in die rand-dollar-wisselkoers, asook veranderings in internasionale brandstofpryse die finale syfers bepaal.

Brent-ruoliepryse was teen Maandagmiddag 22% laer op $35,26 per vat. Oliepryse was vroeër die jaar nog so hoog as $68 per vat.

Oliepryse het sedert Vrydag met meer as 31% geval in die grootste enkele daling sedert die Golfoorlog in 1991.

Oliepryse het reeds sedert einde verlede jaar gedaal as reaksie op ’n verwagte demper op die wêreldekonomie weens die koronavirus.

Maar die groot vonk in die kruitvat was die naweek toe Rusland en die Organisasie van Petroleumuitvoerlande nie in Wene, Oostenryk, saam kon stem met hoeveel olieproduksie gesny moet word om oliepryse te ondersteun nie. Rusland wou nie toegee aan Saoedi-Arabië se versoek dat hy deel word van ’n ooreenkoms om 1,5 miljoen vate te sny nie, en ’n verlenging van die bestaande produksieperk kon ook nie beklink word nie.

Saoedi-Arabië het Rusland se koppigheid beantwoord met ’n skerp verlaging van pryse aan sy kliënte, wat ’n prysoorlog in die oliemark ontketen het.

Internasionale brandstofpryse het ook Maandag op die Nymex-beurs in New York skerp geval, maar nie so skerp soos ruoliepryse nie. Petrolpryse op die Nymex-beurs was 17% laer, en verhittingsolie en gasolie – min of meer dieselfde as diesel – was sowat 15% laer. Amerikaanse ruoliepryse was 22% laer op $32 per vat. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!