Petrolreus terug as Tara-borg
Petrolreus terug as Tara-borg

Petrolreus terug as Tara-borg

Die tydren vernoem na ’n kat vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar.
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Geesdriftiges van motorsport sal verheug wees oor die nuus dat Total Namibië vanjaar ’n terugkeer as borg van die ikoniese Tara-tydren in sy halfeeuvieringsjaar beplan.

Richard Slamet, voorsitter van die Windhoek Motorklub wat die aanbieder en eienaar van die Tara-byeenkom is, het aan Republikein bevestig dat Total vir 2018 en 2019 terug aan boord as hoofborg is.

“Ons het weens onderhandelinge vir borgskappe ’n bietjie later met die Tara se reëlings afgeskop wat as wat ons wou. Maar ons is druk besig om alles in orde te kry en niks gaan die fantastiese tydren benadeel wat ons beplan nie.

“Total sal ook volgende jaar by die Tara betrokke wees en dan kan ons verder vir die toekoms beplan,” het Slamet ingenome verduidelik.

Slamet sê die 2018 Windhoek Motorklub en Vriende Total Tara-tydren skop vanjaar op 8 November in Swakopmund af, waar verskeie supersneldele asook ’n aandtrajek gejaag sal word.

Die Walvisbaai Motorklub sal vir die sneltrajekte by die kus tot by Wilhelmstal wes van Okahandja op die Transkalahari-hoofweg verantwoordelik wees.

Allan Martin, voorsitter van die Walvisbaai motorklub, is nie net ’n kenner van die kusstreek nie, maar ook ’n uiters bekwame en gerekende jaer op die langbaan sowel as tydrenne. Martin wat in 2013 die Namibiese nasionale tydrenkampioenskap gewen het, en sy span sal verantwoordelik wees vir sneldele wat tot by Wilhemstal loop.

“Ek, Jan Everson en Oswaldo Mendes is besig met die sneldele wat by die kus gejaag word en ook die roetes wat by Wilhelmstal eindig. Die Walvisbaai-klub is verantwoordelik vir 12 sneldele en ons het reeds vier vir Swakop beplan waarvan een ’n nagsneldeel is wat die Donderdagaand gery word.

“Die Vrydagoggend kry die Total Tara sy koers na die binneland waar ons by Uis ’n draai gaan maak en later die namiddag by Wilhelmstal gaan eindig. Van daar vertrek die deelnemers na Windhoek waar die volgende en uiters gewilde aandsneldele by die Tony Rust-renbaan gejaag word.

“Op die Saterdagoggend is die jaers suid van Windhoek doenig waar die laaste trajekte afgelê word. Ons beplanning is van so ’n aard om die supersneldele so kykervriendelik as moontlik te maak en daarvoor sorg Tony Rust en die trajekte suid van die hoofstad met uitsonderlike kykgenot,” het Martin opgewonde vertel.

Martin sal vanjaar self aan die Total Tara in ’n 4x4 VW Golf S2000 in die S3-Klas deelneem en menige ander Namibiese jaers soos Slamet (S4 4x4 Subaru 2 liter) is lankal reeds besig om hul tande vir die byeenkoms oor drie dae te slyp.

In 2016 het Japie van Niekerk van Suid-Afrika saam met navigator Robert Houghton die Tara in sy S3 4x4 Ford Fiesta 2 liter gewen. Verlede jaar was Van Niekerk nie terug om sy titel te verdedig nie en Wilro Dippenaar en navigator Riaan van der Westhuizen het gemaklik met die S3 4x4 Shell V-Power Toyota Auris geseëvier.

Indien Van Niekerk weer sy opwagting maak, kan hy stewige teenstand van die plaaslike manne en die 2017-kampioen verwag.

Van Niekerk het in 2013, 2014 en 2016 gewen en is die enigste jaer sedert 1969 wat die Tara drie maal kon inpalm. Dippenaar was ook in 2011 eerste op die podium.

Ander moontlike inskrywing uit plaaslike bodem is Oswaldo Mendes (S4 4x4 Subaru 2 liter), Cecil Koorts, Tinus Malan, Jan Everson (S2 VW Polo 2 liter), Marco Luis (S4 4x4 Subaru 2 liter), Peer Rohm, Roland Himmel, Jaco Redelinghuys (S3 4x4 Gobabis Toyota Yaris S2000), Hanré Myburgh (S1 VW Polo), Willem Hugo (S4 4x4 Subaru 2 liter), Pieter Greef met Muhatu (S1 1600 Toyota Corolla), Jannie Coetzee (S2 VW Golf ), Rian Viljoen, Ettienne van der Heever, Jay-Dee Kessler, Gert Coetzee (S2 VW Golf 2 liter GTi), Stefan Labuschagne (OR 4x4 Land Rover 3.9 liter V8), Jacques Botha, Johan Oosthuizen, Bertie Smit (OR BSCS 4.3 liter V8 Mazda), Wilro Dippenaar (S3 4x4 Shell V-Power Toyota Auris S2000), Freddie van Niekerk, Morné Oosthuizen, Rolf Pretorius, Welmie Kuhn, Jandré Dippenaar (OR 4x4 PZN Panelbeaters Ford Coyota 5.3 liter V8), Niekie Swart (OR Eastern 1 Stop 3.8 V6 Chev Space Frame), Willem Oosthuizen, Japie Koortzen (OR 4x4 land Cruiser V8), Johan Berg (S1 Toyota Conquest 1600).

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer