PetroSA bevestig Eskom het diesel
Dit beteken die ergste van die buurland se beurtkragkrisis is dalk binnekort verby, hoewel instandhoudingsprobleme by kragstasies voortduur.
Francois Williams – PetroSA het bevestig dat Eskom Woensdagaand ’n nuwe voorraad diesel gekry het om sy noodkragstasies aan te vuur.
Dit beteken die ergste van Suid-Afrika se beurtkragkrisis is straks verby, hoewel instandhoudingsprobleme by steenkoolkragstasies voortduur.
Die staatsbeheerde oliemaatskappy het Donderdagaand bevestig dat hy Woensdag om 17:00 begin het om ’n nuwe voorraad diesel aan Eskom te lewer vanaf ’n skip wat reeds Saterdag aangekom het. Dít nadat vertragings met die bergingsproses opgelos is.
Beurtkrag is Sondag vir die eerste keer vanjaar in werking gestel en het selfs fase 4 gehaal die afgelope week.
Slegs een skip kan op ’n keer by Mosselbaai vasmeer en ’n skip met petrol was reeds vasgemeer toe die dieselskip Saterdag aangekom het.
Die diesel is teen Dinsdag afgelaai. Alle diesel moet egter eers vir gehalte nagegaan word, ’n proses wat tot 24 uur kan duur en wat teen Woensdag afgehandel is.
PetroSA sê egter hy het deurentyd diesel aan Eskom verskaf uit sy bestaande voorraad.
PetroSA het geantwoord op navrae nadat die energiekenner Chris Yelland Donderdagoggend getwiet het die dieselkrisis is dalk verby.
Eskom se dieselkragstasies - Ankerlig by Atlantis aan die Weskus en Gourikwa langs PetroSA in Mosselbaai - werk oortyd om beurtkrag te help beperk. Eskom het vroeër aangedui ’n tekort aan diesel by die twee spitstydkragstasies het tot die huidige beurtkrag gelei.
Yelland van EE Publishers het Donderdag getwiet hy het betroubaar by ’n bron in Eskom verneem die skepe kan uiteindelik hul vrag aflaai, maar moes dae wag, want PetroSA het sy brandstoftenks aan ’n private brandstofhandelaar verhuur gehad.
PetroSA het brandstofopgaartenks by sy Voorbaai-aanleg in Mosselbaai, waarvandaan daar pypleidings is na die PetroSA gas-tot-brandstofaanleg buite Mosselbaai. Eskom se Gourikwa-dieselkragstasie is reg langs die PetroSA-aanleg en het ’n kontrak met PetroSA om diesel aan hom te lewer.
Maar PetroSA se aanleg produseer net teen die helfte van sy vermoë weens die kwynende aardgasbronne van sy veld aan die Suid-Kaapse kus. Die Gourikwa-aanleg moet na verwagting dus steun op dieselbronne van elders, hetsy ingevoerde diesel van raffinaderye in Indië of elders, of diesel van die olieraffinaderye in Durban of Kaapstad wat per skip na Mosselbaai gebring sou moes word.
Eskom self het nog nie op navrae hieroor gereageer nie.
Gourika en Ankerlig is oorspronklik bedoel as spitstyd-kragstasies wat net vir twee ure in die oggend en twee ure in die aand aangeskakel word om aan die skerp toename in kragvraag oor daardie tye te voldoen.
Maar weens die swak prestasie van ander kragstasies in tye van krisis soos tans word dié duur kragstasies vir veel langer as wat hulle ontwerp was om te loop in bedryf gehou. Dit dra ook tot Eskom se skerp stygende bedryfskoste by weens hoë dieselpryse.
Vir Eskom se Ankerlig-dieselkragstasie by Atlantis aan die Weskus was die plan aanvanklik dat private verskaffers soos BP of Chevron aan hom diesel sou verskaf. Chevron se Caltex-raffinadery in Milnerton het self egter min produksievermoë om aan die Wes-Kaap se brandstofvraag te voldoen. Daarom het die bemagtigingsgroep Burgan Cape Terminals in 2017 nuwe brandstofopgaargeriewe in die Kaapse hawe gebou om te voldoen aan die vraag na opgaartenks vir ingevoerde brandstof.
Suid-Afrika se eie olieraffinaderye, Sasol en PetroSA kan al vir jare nie genoeg brandstof produseer om aan die vraag te voldoen nie, en daarom word voltooide brandstofprodukte reeds geruime tyd ingevoer om die gaping te vul. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie