Philander laat gordyn sak op internasionale loopbaan
Krieket
Christo Buchner - Suid-Afrika se krieketspan het gister ekstra motivering gekry om die komende reeks van vier toetse teen Engeland te wen, met die nuus dat dit die 34-jarige snelbouler Vernon Philander se swanesang in internasionale krieket sal wees.
Hierdie uitstaande bouler wat sy toetsdebuut in 2011 op Nuweland in Kaapstad teen Australië gemaak het, het aangekondig die reeks teen Engeland sal die gordyn laat sak op sy speeldae vir Suid-Afrika.
“Ek voel dit is die regte tyd om hierdie merkwaardige reis vir my te laat eindig,” sê Philander in 'n verklaring op die vooraand van die eerste toets wat Donderdag in Centurion begin.
Reeds in sy debuuttoets teen Australië het hy die krieketwêreld laat regop sit met 'n wedstrydontleding van 8/78, wat 'n sensasionele skof van 5/15 ingesluit het met die Aussies wat vir slegs 47 in hul tweede beurt uitgeboul is.
In sy eerste sewe toetse het hy nie minder nie as 51 paaltjies geneem en hy is in 2012 aangewys as Suid-Afrika se Speler van die Jaar. In dieselfde jaar is hy ook as die Toetsspeler van die Jaar en die Ondersteuners se Speler gekies.
Hy was knaend met sy rigting en lengte en het ook die vermoë gehad om die bal soms soos 'n frisbee te laat swaai. In sy 60 toetse tot dusver, het hy 216 paaltjies geneem, met 'n beste ontleding van 6/21.
Hy het ook in 30 eendagwedstryde en in sewe T20-kragmetings gespeel.
Hy kan met reg daarop aanspraak maak dat hy 'n veelsydige speler van formaat was en benewens die 261 paaltjies wat hy in alle formate vir die Proteas geneem het, het hy ook 1 784 lopies aangeteken.
Die kolfbeurt waarvoor hy die langste onthou sal word, was in 2014 in 'n wegtoets teen Sri Lanka, toe hy in baie moeilike toestande 105 minute voor die paaltjies deurgebring het en 98 balle getrotseer het in sy onoorwonne 27, wat die toets vir Suid-Afrika gered het en hulle hul status as die voorste toetsspan in wêreldkrieket laat behou het.
“Ek dank my Hemelse Vader dat Hy my die geleentheid gebied het om vir my land te speel. Dit was inderdaad 'n eer en voorreg om saam met van die bestes ter wêreld te speel en om deel te kon wees van die beste toetsspan vir etlike jare.
“Ek bedank ook my vrou, familie en vriende vir hul lojale ondersteuning op hierdie reis waar daar talle hoogte-, maar ook laagtepunte was. Spesiale dank aan my grootste ondersteuner vanaf die eerste dag, my ma. Mammie, oneindig dankie,” sê Philander in sy verklaring.
Hy sê sy fokus is daarop om die SA span te help om Engeland in die toetsreeks te klop en om op 'n hoogtepunt af te sluit.
Graeme Smith, die direkteur van krieket, is vol lof vir die enorme rol wat Philander in veral die toetsspan gespeel het. “Jy kon altyd op hom staatmaak om net sy beste te lewer,” sê Smith.
“Hy het 'n sterk karakter en is baie vasbeslote en is altyd reg om te veg in elke wedstryd. Hy het 'n leeuehart en ek glo hy sal in hierdie laaste reeks met dieselfde veggees en karakter vertoon as waarvoor hy bekend geword het,” sê Smith.
Dr. Jacques Faul, die waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), het Philander ook geloof en veral melding gemaak van sy boulskof teen Nieu-Seeland op Nuweland, toe hy die vinnigste vyf paaltjies nóg in toetskrieket laat kantel het.
“Die grootste lof vir hom is dat hy selfs in 'n stadium vir Dale Steyn uit die kussings gelig het as die voorste toetsbouler ter wêreld,” sê Faul. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie