Philander nuwe besem vir sewesrugby se hoop

Groot wêreldwye geleenthede wink weer vir die nasionale span as hy in November presteer.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Sy aanstelling is nog net in 'n waarnemende hoedanigheid, maar David Philander het uiteindelik die posisie wat hy reeds tevore as sy groot droom bestempel het – afrigter van die Namibiese sewesrugbyspan.

Philander se taak is sommer met die intrapslag een van formidabele belangrikheid. Dit is om Namibië vir die Afrika-kampioenskap voor te berei wat op 8 en 9 November in Johannesburg gespeel word.

Net een kwalifiserende land – die kontinentale kampioen – sal die reg verwerf om volgende jaar by die Olimpiese Spele in Tokio op te daag. Die naaswenner se kans sal ook lewendig bly, hoewel hy eers 'n wêreldwye repechage-rondte sal moet deurgaan.

Die Afrika-wenspan se ander groot prys is dat hy uitnodigings na die Dubai Sewes asook volgende jaar se Hongkong Sewes ontvang. Die verslane finalis word met 'n plek in Hongkong beloon, waar hy 'n posisie op die HSBC Wêreldreeks kan beklink.

Op die vasteland het Suid-Afrika in die vorige seisoen met sy eindposisie (vierde) net-net voor Engeland sy Olimpiese plek vir 2020 verseker. Engeland het egter onlangs ook sy kaartjie bespreek as wenner van die kwalifiserende toernooi in Europa.

Die sport se ander tradisionele Afrika-reus, Kenia, sal dus in November weer sy spiere bult in die hoop om sy oorheersing teen spanne soos Zimbabwe, Namibië en die res voort te sit.

Afgesien van sy laaste deelname aan die 2017 Hongkong-sewes het al die groter geleenthede Namibië in onlangse jare ontwyk. Die hoop word nou op Philander se insig geplaas om die land se rou talent blink te vryf in 'n eenheid wat respek in die sport kan afdwing.

Philander (32) is 'n voormalige kaptein van die nasionale sewesspan. Hy het aan die einde van 2018 sy uittrede as speler aangekondig en het dadelik as afrigter van Rehoboth-rugbyklub sy merk gemaak.

In die vyftienmanspel was hy 'n ewe bekroonde speler, met elf drieë in 30 toetse en insluiting in twee Wêreldbeker-spanne (2011 en 2015).

Minstens een van sy voorgangers, Robbie Dickson, het die hoop uitgespreek dat Philander vrye teuels – en die steun van borge en klubs – gegee sal word om van die land se topspelers te betrek ten einde Namibië sy beste moontlike kans te gee om nuwe deurbrake in sewesrugby te maak.



LUSAKA 'n KEERPUNT

Drie naweke gelede het Namibië by die Zambië Internasionale sewestoernooi in Lusaka in 'n skaflike derde posisie geëindig.

Die waarnemende hoofafrigter van die afgelope twee jaar, mnr. Les Bougard, moes egter op die eerste wedstryddag na Windhoek terugkeer, met Philander wat oorgeneem het.

Die koerant verneem dat Bougard voor stok gekry is omdat sy toerspan van twaalf spelers 'n drietal met beserings ingesluit het. Dit het die span onder groot druk geplaas toe nog twee later in die toernooi ook beserings opgedoen het.

Philander, asook sy spanbestuurder mnr. Algenic de Klerk, is sedert verlede week aan die stuur van die groep se terugkeer na die oefenveld. Die afgelope naweek is ook amptelike nasionale proewe by die veld van FNB Western Suburbs aangebied.

“Ons het omtrent veertig spelers by die proewe gehad . . . al die beste van die plaaslike manne. Sodra die vyftien-span terug is van die Wêreldbeker, sal van daardie spelers ook by ons aansluit,” het Philander gesê.

Volgens hom het hy byvoorbeeld na die UJ-flank Wian Conradie en die Blou Bulle se vleuel Divan Rossouw uitgereik, maar wag hy nog op bevestiging dat hulle te midde van ander verpligtinge beskikbaar sal wees.

Spelers vir wie hy nie kon oorweeg nie, was Lesley Klim, wat na sy Walliese klub Ospreys moet terugkeer, asook die beseerde Milaan van Wyk en Oderich Mouton.

“Daar is tans omtrent ses manne met ligte kwale vir wie 'n sperdatum geld om terug op die veld te kom. Die manne buite die groep kan dus maar aanhou oefen, want dis nie onmoont­lik dat hulle steeds 'n oproep terug na die oefengroep kan kry nie.”

Philander se groep van 30 spelers bestaan uit 13 voorspelers, 13 agterspelers en vier skrumskakels in.

Die groep is:

Peter Diergaardt (FNB Wanderers)

Cameron Langenhoven (FNB Unam)

Adriaan Booysen (FNB Wanderers)

Max Katjijeko (FNB Unam)

Wian Conradie (Universiteit van Johannesburg)

Johann Tromp (FNB Wanderers)

PJ Walters (FNB Western Suburbs)

Nazúme Swartz (FNB Western Suburbs)

Camlo Martin (FNB Unam)

Riaan de Klerk (FNB Wanderers)

Dirk de Meyer (FNB Wanderers)

Nikin Cloete (FNB Western Suburbs)

Johnny Mwenyo (FNB Unam)

Elmarco Beukes (FNB Wanderers)

Shareave Titus (FNB Unam)

Denzo Bruwer (Blou Bulle)

Carlton Stevens (Trustco United)

Aurelio Plato (Kudus)

Henrique Olivier (Rehoboth-rugbyklub)

Gerswin Mouton (Blou Bulle)

Léan Stoop (FNB Wanderers)

Lloyd Jacobs (Kudus)

Alcino Izaacs (Durban Rovers)

Janry du Toit (FNB Wanderers)

Xavier van Wyk (Rehoboth-rugbyklub)

Sunday Haitembu (FNB Unam)

Tuna Amutenya (FNB Wanderers)

Nandivatu Karuuombe (FNB Wanderers)

Chess Lawrence (Kudus)

Chad Plato (FNB Unam)

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!