Pick n Pay so 5 000 mense 'ligter'

Die kleinhandelgroep Pick n Pay sê hy het die rolle en funksies in sy werkmag met sowat 10% gesny en sy program van vrywillige skeidingspakkette is nou afgehandel.

Maar die uitbetaling van die skeidingspakkette gaan 'n eenmalige koste op sy verdienste vir die halfjaar tot einde Augustus hê, wat sy wesensverdienste na verwagting met 20% of 17c per aandeel sal afdruk.

Dié nuus het sy aandeelprys in oggendverhandeling Maandag met 1,5% tot R60,69 laat daal.

Richard Brasher, uitvoerende hoof van Pick n Pay, sê die vrywillige skeidingsprogram was een van verskeie stappe wat die groep geneem het om die onderneming meer mededingend te kry te midde van 'n taai handels­omgewing.

“Dit sal 'n wesenlike impak op ons halfjaarsyfers hê, maar sal ons 'n meer vaartbelynde en doeltreffende onderneming maak, en die verlaging in ons koste sal ons meer beweegruimte gee om aan klante selfs laer pryse en beter waarde gee.”

Pick n Pay het in April met die vrywillige skeidingsprogram begin nadat sowat 10% van die rolle en funksies in sy hoofkantoor, streekstruktuur, winkelbedrywighede en voorsieningsketting geïdentifiseer is wat hy kan uitsny.

Volgens die groep was dit rolle en funksies wat danksy verbetering in organisering, beplanning en tegnologie nie meer nodig was nie.

Die vrywillige skeidingsprogram het werknemers 'n week en 'n half se ekstra betaling per voltooide diensjaar aangebied, asook vier weke se betaling vir die kennismaand.

David North, uitvoerende hoof vir strategie en korporatiewe sake by Pick n Pay, verduidelik die sny van 10% van die rolle en funksies het nie noodwendig 'n regstreekse korrelasie met die aantal personeel wat besnoei is nie, maar is wel 'n rowwe aanduiding.

Hy het verduidelik die koste van die skeidingspakkette wat uitbetaal is, sal oor die volle boekjaar tot einde Februarie neutraal wees, dus dit sal geabsorbeer word deur die groep se verwagte wins vir die volle boekjaar.

In die boekjare wat volg, sal dit 'n positiewe effek hê aangesien daar dan laer personeelkoste sal wees.

Van die doeltreffendheid wat behaal is, is veral by Pick n Pay se verspreidingsentra, wat oor die afgelope paar jaar gesentraliseer is.

Tussen 60% en 70% van sy verspreiding is nou al gesentraliseer, sê North.

Waar onderskeie verskaffers met hul eie vragmotors een ná die ander by elke Pick n Pay-winkel aflewerings gaan doen het en Pick n Pay dan personeel gereed moes hê om die voorraad te tel, word al hoe meer aflewerings nou van sy eie verspreidingsentra af gekoördineer. Daar is minder vragmotors wat na die winkels hoef te ry.

Die mense wat voorheen aangestel is om voorraad te tel, kon nou in ander rolle binne die winkel ontplooi word om klantediens te help verbeter.

Pick n Pay sê hulle sal binnekort 'n verdere handelsverklaring uitstuur oor die verwagte verdienste vir die halfjaar. Dit word op 17 Oktober verwag.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!