Pick n Pay verras met skerp groei in wins
Pick n Pay verras met skerp groei in wins

Pick n Pay verras met skerp groei in wins

Nellie Brand-Jonker – Pick n Pay se aandeelprys het Dinsdag in ’n stadium met 13% gestyg nadat die groei in sy handelswins in die halfjaar tot 1 September beleggers verras het.

Die winkelgroep het sy omset in Suid-Afrika, waar die grootste deel van sy inkomste verdien word, met 6,5% en sy handelswins met 16% tot R1,1 miljard verhoog.

Dit was vir die eerste keer bo R1 miljard.

Richard Brasher, uitvoerende hoof, sê die belangrikste rede waarom die handelswins skerper as die omsetgroei gestyg het, was die verhoging in die bruto winsmarge.

Volgens hom is dit die eerste keer die afgelope jare dat ’n wesenlike verhoging in die marges gesien is.

Ontleders het by die aanbieding van die resultate gesê hulle is verras met die 1 persentasiepuntverhoging in die bruto winsmarge, wat as groot beskryf is. Dit het van 18,8% tot 19,9% toegeneem.

Brasher ontken dat pryse verhoog is ten einde die winsmarge te verhoog.

Die interne inflasie is op 2,2% beperk vergeleke met die land se voedselprysinflasie wat oor die tydperk 3,4% was.

Dit is reggekry danksy ’n kombinasie van faktore, waarvan die belangrikste is dat die groep se eie winkels, wat groter winsmarges het, ’n groter bydrae as die franchise-winkels gelewer het. Die verkope van Pick n Pay se eie handelsname het ook in verhouding tot die totale verkope toegeneem.

Ander faktore sluit in groter doeltreffendheid deur die produkreekse in sy verskillende winkels te vereenvoudig en deur minder vermorsing.

Kersfees sal ‘steeds soos Kersfees voel’

“Verbruikers het minder vertroue as wat ons graag sou wou gehad het,” antwoord Brasher op ’n vraag oor hul Kersverwagtinge.

“Verbruikers is versigtig met hul rande en bestee nie met oorgawe nie.

“Maar ons sal seker maak dit voel soos Kersfees. Ons gaan mense ’n goeie Kersfees gee en ons bes doen om te verseker hulle koop by ons.”

Oor Swart Vrydag einde November sê hy niemand het meer ’n ander keuse as om deel te neem nie.

“Ek is net nie heeltemal seker dis goed vir die samelewing of vir kleinhandelaars nie.”

Beplan produkreekse beter

Brasher sê sowel die Pick n Pay- as die Boxer-winkels in Suid-Afrika het ’n sterk vertoning gelewer omdat hul aanbod meer relevant was vir die mense wat hulle bedien.

Die groep het vanjaar gefokus op die optimalisering van produkreekse in winkels wat laer- tot middelinkomstegroepe bedien deur onnodige handelsname en verpakkingsgroottes op rakke te verwyder. Dit het promosies en beskikbaarheid op winkelrakke verbeter.

Dit het tot volumegroei bygedra.

“Ons besef nie elke klant is dieselfde nie en minder gegoede klante se vereistes is anders. Almal wil dieselfde gehalte en diens hê, maar sekere produkreekse is meer geskik in sekere winkels.”

Brasher sê produkte word nou rondom klante beplan eerder as om die formaat van die winkel.

Waardebewus

Brasher sê alle verbruikers in Suid-Afrika is waardebewus, of hulle nou in Sandton, Constantia, Khayelitsha of Dunoon bly. “Almal is gefokus op koste. Almal wil ’n kombinasie van gehaltediens en goeie pryse hê. Verbruikers is baie gefokus daarop om seker te maak hul rand sterk verder.”

Pick n Pay fokus dus op minder, maar groter promosies wat meer relevant vir sy klante is.

“Verskillende mense wil verskillende promosies hê. Tradisioneel het die maatskappy geografies gefokus.”

Geleenthede word nou geïdentifiseer uit die verbruikersinligting wat die Smart Shopper-kaart genereer. Dié kaart is al agt jaar gelede bekend gestel.

“Dit neem lank voordat die data iets begin beteken. Dit begin nou ons bedrywighede rig. Dit is deel van ons ambisie om ons onderneming om ons klante en hul verskillende behoeftes te bestuur.”

Die benutting van persoonlike verkoopbewyse wat aan Smart Shopper-klante aangebied word, het met 72% gestyg. “Dit beteken ons doen iets reg.”

Oor die lojaliteitskaart wat Checkers onlangs bekend gestel het, sê Brasher, dit gaan die mark nog meer mededingend maak. “Maar ons hou van mededinging. Ons belê elke jaar in meer as R200 miljoen se punte wat aan verbruikers gegee word.

“As ek ’n punt wil maak, sal ek ’n kaart hê wat ’n punt gee as jy inkopies doen,” het hy gespot. Dit is ’n verwysing na Checkers se bemarkingsveldtog vir sy nuwe kaart wat juis daarop gegrond is dat nie punte aangebied word nie.

Pick n Pay het sy dividend vir die halfjaar met 9,5% tot 42,80c per aandeel verhoog. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!