Pienk Proteas maak dit 3-0 teen Sri Lanka
Pienk Proteas maak dit 3-0 teen Sri Lanka

Pienk Proteas maak dit 3-0 teen Sri Lanka

Krieket
Tielman van Lill
Christo Buchner



Op 'n dag waarop die gezoem van die bye die oorheersende geluid was, het Sri Lanka sy angel finaal op die Wanderers in Johannesburg in die eendagreeks teen Suid-Afrika verloor.

Suid-Afrika het 'n baie eensydige kragmeting met sewe paaltjies gewen om homself op 3-0 in 'n onaanvegbare posisie te bevind in die reeks van vyf kragmetings. Hiermee behou die tuisspan sy perfekte Pienkdag-rekord en het nou vyf agtereenvolgende wedstryde in dié gewaad gewen.

Dit was egter 'n wedstryd wat nooit regtig uit tweede rat kon kom nie en was dit nie vir die bye wat hul opwagting in die middag gemaak het nie, sou dit maar bra vervelig gewees het.

Nadat Sri Lanka vir net 163 in 39.2 beurte uitgehaal is, het Suid-Afrika dit op 'n drafstap bereik en op 164/3 geëindig. Daar was nog 108 balle oor toe die wenlopies geslaan is.

Die besoekers wat ingestuur is, het heel goed afgeskop met 'n aanvangsvennootskap van 60 lopies tussen Niroshan Dickwella (74, 80 balle, 7x4) en Upal Tharanga (31, 45 b, 5x4).

Benewens dié twee het geen ander Sri Lankaanse kolwer iets noemenswaardig uitgerig nie.

Die 65 minute wat die bye op die veld was voordat hulle suksesvol verwyder is, was aansienlik langer as wat die meeste Sri Lankaanse kolwers voor die paaltjies kon vertoef.

Dwaine Pretorius het in net sy vierde eendagstryd vir sy land 3/19 geneem en ook twee goeie vangskote benut. Hy kan tevrede met sy eerste vertoning in pienk voel.

Kagiso Rabada, Andile Phehlukwayo en Imran Tahir het elkeen twee paaltjies geneem, met die Sri Lan­kaanse beurt wat verkrummel het en die laaste ses paaltjies wat vir net 38 lopies gekantel het.

In sy 100ste eendagstryd vir ­Suid-Afrika, het Faf du Plessis (24, 27 b, 3x4, 1x6) met doelgerigtheid ­afgeskop en soos 'n man op 'n missie gelyk. Hy het egter gou 'n slagoffer van die groentjie Lahiru Madushaka geword wat sy eerste boulbeurt in ­internasionale eendagkrieket afgestuur het.

Die Suid-Afrikaanse kolwers was nooit juis onder enige druk om die lopietempo te jaag nie en kon hul tyd neem om by die wenteiken uit te kom. Vir die groot skare was die wedstryd dus eintlik maar 'n antiklimaks, aangesien Sri Lanka nie die vuur kon stook om die wêreld vir Suid-Afrika 'n bietjie warm te maak nie.

Selfs AB de Villiers (60 nun, 61 b, 5x4) kon kolf asof hy op 'n Sondagmiddag-uitstappie was en dit was nie nodig vir hom om die groot houe te speel wat die toeskouers graag van hom wou sien nie.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!