Piepklein en waardevol
Hierdie paartjie is so lief vir hierdie unieke plante, dat hulle selfs GPS-koördinate oor die voorkoms daarvan aanteken.
Tanja Bause
Beeskloutjies is unieke plante wat net in die woestyn- en semi-woestyngebiede van westelike en suidelike Namibië en noordelike Suid-Afrika voorkom.
By die Alte Kalköfen Lodge buite Keetmanshoop is die grootste versameling van beeskloutjies in Namibië en waarskynlik in die wêreld.
Hier is 37 spesies waarvan 12 net in Namibië voorkom. Vier spesies groei in Namibië en Suid-Afrika en 21 spesies net in Suid-Afrika. Baie van die spesies is wetenskaplik geklassifiseer in subspesies en variëteite as gevolg van plaaslike variasies in geïsoleerde populasies.
Volgens Frikkie en Hilde Mouton het hulle die eerste beeskloutjie in 1999 by iemand gekry.
“Iets wat vir ons baie mooi was, het vinnig 'n passie geword,” het Frikkie gesê.
“Ons het besef ons het hier iets baie besonders. Toe begin ons die beeskloutjies van nader bekyk, stel ondersoek in en begin data bymekaar maak. Ons het deur die jare elke plek besoek waar beeskloutjies in Namibië voorkom en GPS-koördinate aangeteken van waar hulle voorkom. Dié plantjies moet vir die toekoms en toekomstige generasies bewaar word,” het hy gesê.
NUWE SPESIE ONTDEK
In 2003 het die egpaar saam met hulle vriende en mede-beeskloutjie-entoesiaste Tok en Denise Schoeman op 'n plaas in Bethanie 'n nuwe spesie ontdek. Die Lithops amicorum is die jongste spesies wat die afgelope tien jaar ontdek is.
“Die amicorum, wat 'vriendskap' beteken, groei net in twee plekke, wat toevallig drie kilometer uitmekaar geleë is. Dit is baie raar. Eintlik is daar net vyf mense in Namibië wat weet waar dié plantjies groei. Ons wil nie die spesifieke ligging bekend maak nie omdat ons bang is mense gaan dit eenvoudig uitgrawe en sodoende 'n baie unieke beeskloutjie uitroei,” het Frikkie gesê.
In 2009 het die Moutons saam met dr. Ronnie Uijs en Tok en Denise Schoeman 'n plaas naby die Waterberg besoek.
“Die Lithops Pseudotruncatella-subspesie, pseudotruncatella var. elisabethae, groei op dié plaas. Ons was baie teleurgesteld ná ons gesprek met die boer omdat hy nie kon onthou waar die plant voorkom nie en ook dat hy hulle al vir 'n aantal jare nie gesien het nie. Maar ons het begin soek en dit gelukkig gevind. Die kolonie was gesond, alhoewel drie plantjies deur reën uitgespoel is. Die eienaar het ons toestemming gegee om die plante huis toe te neem om hulle te probeer red. Ongelukkig het twee gesterf, maar in September 2010 het die oorlewende een geblom,” het Hilde gesê.
In teenstelling met die geel blom van die Waterberg-plantjie, was dié blom wit. Dus word dit as 'n subspesie beskou en kon hulle vir die plantjie 'n nuwe naam gee, naamlik 'White queen'.
VOLWASSE BEESKLOUTJIE
'n Volwasse beeskloutjie bestaan uit twee blare wat by die basis saamgesmelt is. Dit word die kop van die plant genoem terwyl die oppervlak van die blare die gesig genoem word. Een keer per jaar, veral ná goeie reën, lewer die plant 'n enkele blom wat tussen die twee blare van die kop verskyn. Aan die einde van die seisoen gaan die plant in 'n rustydperk in.
Die blare word dan deur die plant geabsorbeer en vrek. Soms krimp die plantjie en kan dit net gesien word wanneer daar nuwe blare verskyn.
“Die beeskloutjie trek terug in die grond in en kan vir so lank as agt jaar daar weggesteek bly. Wanneer die reën kom, absorbeer die plant water en binne dae breek dit deur die grond, swel die blare op en kan ons dit weer sien.
“Nog 'n interessante kenmerk van beeskloutjies is dat wanneer hul blare weer uitkom, is dit teen 'n hoek van 90 grade teenoor hoe dit die vorige jaar opgekom het – met ander woorde dit groei dan dwars.”
Beeskloutjies kan tot 80 jaar oud word en mag nie sonder permitte aangehou word nie omdat dit 'n beskermde spesie is. “Mense besef nie dat hulle 'n hele kolonie kan uitwis as hulle plante uithaal nie.”
Die Moutons se eie versameling is nou eers 20 jaar oud. “Ten spyte daarvan dat ons al daarin kon slaag om plantjies uit saad te groei, is dit net in 2% van gevalle wat dit gebeur.”
Die egpaar is by vier projekte betrokke waardeur hulle van die beeskloutjie terug in die natuur plant, met 'n 50% suksessyfer.
“Ons moet terug in die natuur ploeg wat aan die natuur behoort. Ons versameling is 'n nasionale bate wat aan Namibië behoort.”
By die Alte Kalköfen Lodge is nie net Namibiese beeskloutjies nie, maar ook talle vanuit Suid-Afrika.
SPESIES EN VARIANTE
In 2016 het die laaste van die 24 spesies en variante van die Des en Naureen Cole se versameling op die lodge aangekom.
“Naureen het 'n paar maande vroeër ons genooi om die plante oor te neem. Sy het geweet dat ons dit sal koester en oppas. Die logistiek om plante vanuit Suid-Afrika na Namibië in te voer was nie maklik nie, maar ná ons die permitte gekry het en vervoer gereël is, het die plantjies ná 'n 12 uur lange reis by ons aangekom. Ons kan met opgewondenheid sê dat alle plante oorleef het en goed by hulle nuwe omgewing aangepas het.”
Die boek Lithops of Namibia deur Roy Earle en Janice Round is in samewerking met Frikkie en Hilde vrygestel. Meer inligting oor die beeskloutjies is by www.lithopsfoundation.com beskikbaar.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie