Pieter, Ruan en Franja toer Namibië plat

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – “Ons drie het nog nooit saam in Namibië getoer nie en het besluit dit is nou tyd.
" Ons het koppe bymekaargesit om te beplan en dit gaan heerlik wees om in ons geboorteland te kom kuier. Ons is almal opgewonde en tel die dae af!”
Só het Pieter Naude, Juanita du Plessis se broer, en haar kinders Franja en Ruan, wat tans in Namibië toer, vooraf tydens 'n gesprek met Kollig gesê en meer vertel oor die konserte wat hulle oral oor die land aanbied.
“Vir die konserte gaan ons ? lekker variasie van liedjies doen. Dit moet vir die publiek nog ‘n verrassing wees wat ons alles gaan sing, maar ons gaan probeer om vir elke persoon iets te bied.”
En hoekom kom hul ma/suster Juanita nie saam op hierdie toer nie?
“Ongelukkig is haar dagboek reeds ‘n jaar vooruit vol bespreek. Sy sou egter graag wou saamtoer.”
Pieter, Ruan en Franja tree vandag in Grootfontein by die Primêre Skool Wilhelm Nortier (Suret 081 255 4552) op. Môre tree hulle by WHS in Windhoek (Suzette 081 1492 858) op, voor hulle ? finale konsert Saterdag in die Rehoboth-gemeenskapsaal bied (Dennis 081 148 0377).
Lees onder meer oor hoe opgewonde hulle is om hul geboorteland te besoek en wat hulle alles vir dié optredes in die mou voer.


Pieter Naudé
Nadat die Namibiese Pieter Naudé se sangtalent in 2006 deur die talentsoeker Kosie van Niekerk raakgesien is, het hy ? geliefde kunstenaar in suider-Afrika geword.
Ten spyte van sy stryd met ? breingewas daarna, het hy steeds vier albums vrygestel. Sy eerste album, Mooiste Meisie, het in 2006 die lig gesien, gevolg deur die CD Wag Vir Jou twee jaar later. In 2010 het die dubbelalbum Gee My Net Vlerke gevolg en vanjaar het hy ? Tienjaar Trefferalbum vrygestel. Hy het ook aanvanklik vir Juanita aan haar deurbraaktreffer Ska-Rumba help skryf.


Vertel van jou grootwordjare?
“Ek is in Windhoek gebôre.
" My grootwordjare was lekker en sorgeloos, ek het in ? baie veilige tyd grootgeword en kon net ‘kind wees’. Ek was in Pionierspark in die laerskool en daarna in Windhoek Hoërskool (WHS). Daarna het ek vir twee jaar lank weermag toe gegaan en my eerste werk was ook in Windhoek.
“Dit was wonderlik om in Namibië groot te word. Ons kon as kinders nog sonder vrese in die straat loop en speel. My ma se familie het in die Suide, naby Tweerivier, in die Kalahari geboer en ons het gereeld daar gekuier. Ek sal altyd die rooi Kalahari-sandduine onthou waar ons so baie gespeel het. En natuurlik Hentiesbaai, waar ons vakansie gehou het. Daar is nie ‘n lekkerder see en strand as Hentiesbaai nie.
“Ek dink jou geboorteland sal altyd spesiaal bly, dit maak nie saak waar jy later gaan woon nie. Ek sal altyd lojaal aan hierdie mooi land bly.”


Kom jy steeds gereeld hierheen?
“Ek is baie lief vir hierdie land.
" Ek kom nog terug vir optredes en ek hou nêrens anders as in Hentiesbaai vakansie nie. Dit bly maar ‘n heerlike plek en die see is so pragtig! Net jammer die vis is so skaars.”


Hoe loop jou paadjie vanuit Namibië tot ? sanger in SA?
“Ek was in Namibië deel van ‘n orkes met die naam Jupidu.
" Ek het toe my suster met haar klank in Suid-Afrika gaan help en later self begin sing en albums opgeneem. Nou is ek self ‘n erkende sanger.”


Waaraan werk jy nou wat jou musiekloopbaan betref?
“My Tienjaar Trefferalbum is nou uit – ek is baie opgewonde en dankbaar.
" Verder werk ons aan ‘n heel nuwe CD vir volgende jaar.”


Die grootste struikelblokke in jou lewe?
“Daar was baie, maar die twee breingewasse wat ek in 2006 en toe in 2012 gekry het, wat verwyder is en ook die bestraling na die tweede operasie, was nogal traumaties.
" My hare het alles uitgeval. Gelukkig is ek ‘n baie positiewe mens en het dit met die hulp van my Hemelse Vader oorkom.”


Ander talente?
“Ek is n baie goeie ‘handy man’ en natuurlik ‘n goeie kok! Ek hou van kosmaak en tuinmaak.”


Enige iets anders op jou hart?
“Dankie aan al die mense daarbuite wat ons ondersteun. Julle is ons omgee- en hartsmense.”


Franja en Ruan
Die 21-jarige sangeres Franja is ook ‘n liedjieskrywer en aktrise.
Sy neem van skool af aan sang en talentkonserte deel. Franja het ? klompie optredes agter die blad en was al deel van konserte soos Afrikaans is Groot (2013) en Gospel Skouspel in Kaapstad (2013). In 2013 verskyn sy in die Afrikaanse rolprent As jy Sing en vertolk die rol van Marna, een van die hoofkarakters. Sy skryf ook die liedjie “In twee geskeur” vir die rolprent.
Franja het help skryf aan Juanita du Plessis-liedjies soos “Pinkie” en “Kaalvoetkind.” Sy studeer tans musiek en musiekprogrammering aan die Berkeley Universiteit van Kalifornië.
Ruan is ‘n 25-jarige sanger, akteur en besigheidsman.
Hy neem van skool af aan kompetisies en produksies deel. In 2007 is hy aangewys as Beste Byspeler in die ATKV se Nasionale Tienertoneel-kompetisie by Aardklop in Hoërskool Die Wilgers se produksie Reis, Vleis en Gebakte Klippe.
Ruan het ook reeds al verskeie optredes gehou en was ook deel van Afrikaans is Groot in 2013 en weer in 2014 en Gospel Skoupsel in Kaapstad (2013). Ruan verskyn ook in die verhoogproduksie Droomkind – Die storie van Josef.
Hieronder volg Ruan (R) en Franja (F) se pittige antwoorde.


Oorweeg jy ? loopbaan in die musiek- of rolprentbedryf?
F: “Musiek is my passie! Dis nog altyd deel van my lewe en ek wil graag 'n verskil met my musiek maak. Ek is tans besig om aan my eerste solo-album te werk en ek sien baie uit dat almal dit kan hoor. Ek werk nie aan enige rolprente in hierdie stadium nie, maar as daar 'n aanbod kom, sal ek dit definitief oorweeg. Ek het dit geniet om dit te doen!”
R: “Musiek is in ons are en deel van ons menswees. Die feit dat ons met musiek en in die musiekbedryf van Suid-Afrika grootgeword het, het ‘n passie in ons albei gekweek. Daarom werk ons reeds aan ons eerste albums. Ek is baie lief vir besigheid en hoop om eendag ‘n paar besighede te bestuur. Verder werk ons albei by die familiebesigheid, wat gelukkig alles met musiek te doen het.”


Hoe begin jou liefde vir sing?
F: “Van kleins af al het ons met musiek in die huis grootgeword en gemaak asof ons optredes hou! Dis iets wat ons baie geniet het. Daar is altyd musiek in ons huis.”
R: “Vir my het dit begin toe ek as klein seuntjie saam met Steve Hofmeyr se CD’s gesing het. My ma en pa het in Namibië ook baie orkes gespeel en so elke nou en dan het my pa my op ‘n stoel getel en kon ek vir die mense “Liewe Lulu” sing. Vandaar het ek meer optredes by die skool begin doen. Ek het in 2007 absoluut verlief geraak op die verhoog. Ons skool het tweede in die land gekom en van daar af het ek geweet dat ek op die verhoog tuis voel.”


Wat maak ? sangeres ? goeie een?
F: “Dit is ‘n moeilike vraag om in hierdie tydstip van my lewe te beantwoord. Ek glo as dit die Here se wil is, moet dit gebeur en die publiek besluit self van wie hulle hou.”
R: “‘n Goeie sanger ken sy gehoor, geniet wat hy doen, vermaak die gehoor en hy moet per slot van sake darem ‘n noot kan hou . . .”


Op watter prestasies in jou lewe is jy die trotsste?
F: “Definitief die rol in die rolprent As Jy Sing. Dit was vir my 'n baie groot oomblik. Ook toe ons die voorreg gehad het om op die Gospel Skouspel, Innibos en Afrikaans Is Groot te kon sing.”
R: “Elke dag wat voluit geleef is, is vir my ‘n prestasie. Ons moet lag, liefhê en dien met oorgawe. ‘n Prestasie is vir die eie ek, maar ons is op aarde om ons naaste te dien. Voorbeelde van dit waarop ek trots is, is toe ek as hoofseun in matriek ingehuldig is en toe ek Beste Byspeler by die ATKV Tienertoneel gekry het. En ek moet sê, om ons verspreidingsmaatskappy te bestuur, is nogal my trots.”


Wat is die belangrikste ding wat geld nie kan koop nie?
F: “Liefde, geluk en herinneringe. Al die dinge wat vir altyd sal hou!”
R: “Jou geloof, hoop en liefde.”


Kan julle Namibië goed onthou?
F: “Ons kan, ja! Ons onthou baie lekker tye. Ons probeer om so een keer 'n jaar of elke twee jaar Namibië toe te kom. Ons verlang baie na Hentiesbaai!”
R: “Ons verlang baie terug en probeer om een maal ‘n jaar bietjie te gaan visvang in Henties. Dan ‘vervreet’ ons onsself aan brötchens!”


'Kaalvoetkind' is besonders. Hoe het jy en Ruan besluit om dit saam met jul ma op te neem?
F: “Omdat ons stemme so mooi saam klink en die harmonieë so mooi ‘blend’, het ons gedink dat dit 'n goeie idee sal wees om 'n liedjie saam op te neem. Ons sit en sing altyd saam en het met idees vorendag gekom en het saamgewerk om 'n melodie te kry. En toe het ‘Kaalvoetkind’ onstaan!”
R: “Ons het nog altyd langs die vuur met ‘n kitaar gesit en sing. Dit kom baie natuurlik vir ons om net ‘n lekker ‘sing-along’ te hê wanneer die geleentheid homself bied. ‘Kaalvoetkind’ het ons opgeneem om so bietjie daarvan met die publiek te deel en dit is vir ons ‘n baie groot oomblik!”


Hoe voel dit om ? ma te hê wat so bekend en beroemd is?
F:“Ons is ongelooflik trots op haar! Vir ons is sy net 'n ma soos enige ander ma vir hulle kinders is, maar ek kan partykeer nie glo dat dit my ma is nie. Sy is so mooi! Ons leer baie by haar.”
R: “Vir ons is dit normaal, ons het so grootgeword en sien dit as ons ouers se werk. Hulle is vir ons soos enige ander ouerpaar. Ons maak tyd om saam te wees en op hoogte van mekaar se lewens te bly. Sy is maar net ons ma wat toevallig bekend is.”

Watter ander talente het julle?
F: “Ruan maak baie lekker kos. Ons hou baie van eet. Ek het 'n soettand, so ek hou daarvan om nuwe resepte te probeer. Ek bak en brou dikwels. Ek geniet dit ook baie om liedjies te skryf en in die ateljee te verwerk.”
R: “Franja kan byna enige instrument bespeel en het deursettingsvermoë wat skrik vir niks! Ons al twee is lief vir kook en sport, Franja hou veral van bak. As ek nou so bietjie mag spog, my beesstertpotjie is amper die lekkerste ooit!”

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!