• Tuisblad
  • Sport
  • Pieter-Steph du Toit vir twee jaar wil Japan toe
Pieter-Steph du Toit vir twee jaar wil Japan toe
Pieter-Steph du Toit vir twee jaar wil Japan toe

Pieter-Steph du Toit vir twee jaar wil Japan toe

Rugby
Hendrik Cronjé – Die Japanse klubspan Toyota Verblitz is in die binnebaan om Pieter-Steph du Toit se rugbytuiste vir die volgende twee jaar te word.

Hoewel Du Toit wye oorsese belangstelling geniet, verneem Rapport hy kan sy onderhandelinge met Jake White se voormalige klubspan moontlik reeds dié week afhandel.

Du Toit het nog nie formeel 'n aanbod van sy huidige werkgewer, die WP, van die hand gewys nie, maar 'n ingeligte het aan Rapport gesê die Kaapse rugbybase berei hulle reeds vir 'n lewe sonder die blondekop-Springbok voor.

Du Toit, wat in 2019 Wêreldrugby se Speler van die Jaar was, sal met 'n Japanse skuif hoop om sy loopbaan as speler te verleng, soos wat die All Black-ster Brodie Retallick hoop om te vermag nadat hy hom in 2020 by die Kobelco Steelers aangesluit het.

Die 34-jarige Duane Vermeulen, yster-agtsteman van die Bulle en die Springbokke, is 'n sprekende voorbeeld van hoe 'n speler sy loopbaan kan verleng deur in Japan te speel. Hy het van 2018 tot 2020 sy rugby vir die Kubota Spears gespeel en slaag steeds daarin om gehaltespel op die topvlak te lewer.

Die Japanse seisoen is nie so lank soos dié van Frankryk nie en spelers is dus meer geneë om in Japan te gaan speel weens die ligter werkdruk.

Al het Japanse rugby baie vanweë die invloei van oorsese afrigters en spelers verbeter, word die fisiekheid van die spel daar nog nie op dieselfde vlak as Franse klubrugby, die Pro16-reeks of die Engelse Premierliga geag nie.

Dis ook bekend dat Japanse klubs bereid is om hul beursies groot vir Wêreldbeker-Bokke van die gehalte van Du Toit, Franco Mostert (Honda Heat), Le Roux, Malcolm Marx (Kubota Spears), Makazole Mapimpi (Docomo Red Hurricanes) en Jesse Kriel (Canon Eagles) oop te maak.

Nog iets wat Du Toit se besluit kan beïnvloed om by Toyota Verblitz te teken, is die ongelooflike indruk wat Japan met die aanbied van 2019 se Wêreldbekertoernooi op spelers, afrigters en ondersteuners gemaak het.

Japan se infrastrukture is van die beste in die wêreld, dis 'n skoon land en sy burgers is vriendelik en behulpsaam.

Die 28-jarige Du Toit sal hom boonop in die pragtige dorp Toyota by Suid-Afrikaanse spelers soos Lionel Cronjé en Willie le Roux aansluit, wat sy aanpassing daar sal vergemaklik.

Du Toit se vertrek sal egter 'n gevoelige slag vir die WP wees omdat Siya Kolisi 'n Haai geword het en Juarno Augustus hom by die Engelse klubspan Northampton Saints kan aansluit.

Die hoop bestaan wel nog in die Kaap dat Augustus kan besluit om te bly.

Nog 'n Kaapse losvoorspeler, Jaco Coetzee, is reeds deur die Engelse klubspan Bath gekontrakteer, terwyl die WP-slot JD Schickerling ook later vanjaar op pad Japan toe is.

Die WP is volgens 'n ingeligte nie haastig om plaasvervangers vir Kolisi-hulle te soek nie.

Evan Roos, 'n oudleerling van Bois­haai, is tans op 'n leenooreenkoms met die Haaie in die Kaap, wat met die WP se diepte help, terwyl 'n losvoorspeler soos Marcel Theunissen die speelkans wat hy vir die Stormers kry met albei hande aangryp.



DOBSON TOB NOG

John Dobson, afrigter van die WP, het nie die afgelope week sy kontrak verleng nie.

Rapport verneem hy tob nog of hy dit vir 'n jaar tot einde 2023 moet verleng.

Die pos as hoofafrigter van die Stormers en die WP word nie sonder rede nie deur vele ingeligtes in die rugbywêreld as een van die moeilikste posisies in wêreldrugby beskou.

Dobson het die afgelope seisoen of twee eerstehandse ervaring daarvan gekry. Hy moes dikwels help om vure van die speelveld af dood te slaan en kon weens die onstabiliteit in WP se raadsale nie al sy aandag op afrigting fokus nie.

Die onsekerheid oor Dobson se toekoms speel glo ook 'n rol waarom al WP se sterre nog nie hul kontrakte verleng het nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!