Pikkewynvrektes brei uit na buureiland

Tanja Bause
Tanja Bause - Agt dooie pikkewyne is glo onlangs op Ichaboe-eiland, in die omgewing van Halifax-eiland naby Lüderitz, gevind.

Sedert die Afrika-pikkewyne in dié omgewing in Desember begin vrek het, is al 345 karkasse op Halifax-eiland en omliggende strande opgetel.

Die totale getal dooies is egter heelwat meer omdat alle karkasse nie op die strand uitspoel nie.

Na raming het 500 voëls reeds gevrek, waarvan die meeste teelvoëls is.

Verlede week is nóg 20 dooie Afrika-pikkewyne op Halifax-eiland ontdek.

Dr. Jessica Kemper, pikkewynnavorser en -kenner, sê die meeste van die geraakte pikkewyne is deel van “kolonie 2” aan die suidekant van die eiland, naby ’n nat modderkol.

“Die H5N8-virus kan weke lank in ’n nat omgewing oorleef en ons dink dié kol is dalk die rede vir die voortgesette sterftes, aangesien volwasse pikkewyne wat uit die see kom, daagliks daardeur stap,” sê sy.

Werkers van die ministerie van visserye en mariene hulpbronne het verskeie emmers soutwater op die modderkol gegooi omdat die virus glo nie in ’n baie sout omgewing kan oorleef nie.

Die kol is toe met sand bedek in ’n poging om die infeksiekoers te verlaag.

“Intussen het ons berig ontvang dat agt dooie pikkewyne in die laaste drie weke op Ichaboe-eiland gevind is.

“Dit kan ook weens ander oorsake wees, want as mens dit vergelyk met die 20 dooies in een week op Halifax is dit redelik min. Ons het een siek pikkewyn van Ichaboe ontvang, wat nog leef, en dit lyk of hy gaan herstel. Ons hou die situasie op die eiland nou dop. Niks is al bevestig nie. Die staatsveearts van Keetmanshoop het monsters vir toetse geneem,” het Kemper gesê.

Halifax is een van die min plekke in die Afrika-pikkewyn se verspreidingsgebied waar pikkewyngetalle die afgelope paar jaar toegeneem het – moontlik minstens gedeeltelik weens ’n instroming van voëls uit Suid-Afrika waar getalle drasties afneem.

Daar is tans sowat 7 000 volwasse pikkewyne, wat sowat 1 400 telende pare op Halifax insluit.

Die pikkewyne wat gevrek het, is meestal volwasse voëls en baie van hulle is teelvoëls, wat die verlies selfs meer tragies maak en ‘n ernstige impak op die plaaslike bevolking kan hê, aangesien Afrika-pikkewyne eers op vyfjarige ouderdom begin broei en monogaam is.

Dit sal tyd neem om hierdie broeipare in die bevolking te vervang.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!