• Tuisblad
  • Sake
  • Pionier van beleggings in ontluikende markte tree af
Pionier van beleggings in ontluikende markte tree af
Pionier van beleggings in ontluikende markte tree af

Pionier van beleggings in ontluikende markte tree af

Die veteraanbelegger Mark Mobius van Franklin Templeton Investments tree einde Januarie op 81-jarige ouderdom ná drie dekades by die firma af.

Mobius is ’n pionier oor beleggingsgeleenthede in Afrika, Asië, Oos-Europa en Latyns-Amerika.

Mobius het van sy aanstelling by Franklin Templeton in 1987 af een van die eerste aandelefondse vir ontluikende lande ter wêreld bestuur.

Van sy basis in Singapoer het hy in ’n stadium 250 dae van elke jaar in ’n Gulfstream IV- private straler gereis om fabrieke en verskaffers in afgeleë hoeke van die wêreld te besoek om beleggingsgeleenthede te vind.

Greg Johnson, voorsitter en uitvoerende hoof van Templeton, sê geen individu is meer sinoniem met belegging in ontluikende markte as Mobius nie.

Mobius was bekend vir sy insig in alle markte. Hy het die begin van die bulmark in 2009 reg voorspel; hy het winskopies opgeraap ná die Asiatiese finansiële krisis van 1997; en hy het in 1998 Russiese aandele gekoop ná paniekverkope in dié land.

Hy was ook een van die eerste institusionele beleggers wat Afrika as ’n belowende nuwe mark geïdentifiseer het. Die Templeton Africa Fund is in 2012 begin.

“My idee van ’n winskopie is terloops nie baie ingewikkeld nie,” het hy in sy 1999-boek, Passport to Profits, geskryf. “Ek koop aandele in maatskappye met goeie groeipotensiaal oor ’n vyfjaartydperk.”

Mobius is in Hempstead, New York, gebore. Sy pa was ’n Duitser en sy ma van Puerto Rico en sy huistale is Duits en Spaans. Hy het in 1955 ’n beurs gekry om aan Boston-universiteit te studeer, en het as klavierspeler in ’n nagklub gewerk terwyl hy gestudeer het.

Hy het ’n graad in beeldende kuns en toe ’n meestersgraad in kommunikasie behaal voordat hy ’n doktorsgraad in die ekonomie en politieke wetenskap aan die Massachusetts Institute of Technology behaal het.

Hy het as politieke adviseur en aandelemakelaar by verskeie firmas wêreldwyd gewerk voordat hy deur John Templeton, stigter van Franklik Templeton, genader is. Hy was toe 50 jaar oud.

In sy eerste jaar by Templeton het die ineenstorting van Oktober 1987 ’n derde van die waarde van Mobius se nuwe beleggingsfonds uitgewis. Dit het hom laat besluit om van net vyf lande in Asië te diversifiseer na ander ontluikende lande, insluitende Argentinië, Mexiko en Rusland.

Die afgelope jare het Mobius se Templeton Developing Markets Trust, wat hy van 1991-2017 help bestuur het, nie so waffers gevaar nie – swakker as 80% van soortgelyke fondse oor die afgelope 15 jaar. Russel Kinnel van die navorsingsfirma Morningstar skryf dit aan tegnologiese vordering toe wat nuwe beleggingstrategieë moontlik gemaak het.

Mobius het al meer as tien boeke oor beleggings die lig laat sien, insluitende The Investor’s Guide to Emerging Markets in 1994. Hy is ook verewig in ’n Japanse strokiesprent oor ’n wêreldreisiger bekend as die “Bald Eagle”.

Bloomberg Markets Magazine het Mobius in 2011 as een van sy 50 invloedrykste mense uitgesonder.

“Hoewel sommige mense my jammer kry omdat ek geen huis, geen gesin, geen persoonlike lewe om van te praat het nie, het my ietwat eksentrieke leefsyl matelose geleenthede vir verskeidenheid, stimulering en kreatiwiteit gebied,” het hy in sy 1999-boek geskryf. - Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!