Pionierras gedenk 125 jaar

Die vestiging van die Simmentaler in Suider-Afrika het geskied omdat pioniers in die Duitse tyd die ras vir kruisteling ingevoer het. Twee en 'n halwe dekades later druk die Simmentaler steeds sy genetiese stempel sterk op vleisproduksie in Namibië af.
Ronelle Rademeyer
Die naam Simmentaler is afgelei van die vallei (“tal” in Duits) van die Simmerivier in Switserland. Dit word algemeen aanvaar dat die ras van die Aurochs (Bos Taurus primegenius), die inheemse beeste van Europa, afstam. Rekords wat uit die Middeleeue dateer, verwys na die rooi en wit beeste van Switserland.

Simmentalers is teen die einde van die 19de eeu in groot getalle vanaf Switserland na buurlande sowel as Balkanstate en Oos-Europa uitgevoer. In die periode 1880 tot 1887 alleen is sowat 95 000 Simmentaler by Thunstasie vir uitvoer in spoorwegtrokke gelaai. In Europa was ’n groot aanvraag na hierdie veelsydige ras vanweë sy voortreflike produksie van melk, botter en vleis asook sy bruikbaarheid as trekdiere.

Tans is daar ongeveer 30 miljoen Simmentalers in die wêreld wat onder name soos Fleckvieh, Abondance, Pezzata Rossa, Montbeliarde en Simmental bekend staan. Lande met die grootste bevolkings is die destydse USSR, Duitsland, die ou Joegoslawië, Oostenryk en Frankryk.

In Europa word die dubbeldoel eienskappe van die ras ten volle benut en alle koeie word gemelk. So byvoorbeeld is die gemiddelde melkproduksie van die 652 300 Simmentaler Kuddeboekkoeie in Duitsland nie minder nie as 6 280 kg melk, met 4,1% vet en 3,5% proteïen.

Seuns van hierdie hoë melkproduserende koeie wat op stoetveilings verkoop is, het 637 kg op 15 maande geweeg met ’n daaglikse gewigstoename vanaf geboorte van 1,23 kg wat beter is as die meeste spesialiteitsvleisrasse in Suid-Afrika.

Buite die Europese vasteland het die gewildheid van die ras sedert die laat sestigerjare geweldig toegeneem, met amptelike kuddeboeke wat in 14 lande gehou word. Hier word die ras veral vir vleisproduksie gebruik en is sy gewildheid te danke aan sy geskiktheid vir kruisteling. ’n Wêreldfederasie vir Simmentaler/Fleckvieh, met Suid-Afrika as ’n stigtersland, het in 1974 ontstaan. Die Federasie, met 29 lidlande en 100 000 geregistreerde telers is vandag, naas die Holstein, die grootste internasionale stoetbeesfederasie.

Teling in Namibië: die beginjare

Buite Europa was Namibië die eerste land waar die ras suksesvol gevestig is. Eerste invoere is in 1893 deur die regering van die destydse Duitse kolonie gedoen, wat invoer vir kruisteling bevorder het ten einde “die melk- en vleisproduksie van die inheemse diere” te verbeter.

Die Simmentaler se pad in suidelike Afrika was aanvanklik vol struikelblokke en draaie. Ná ’n lang reis op see is die diere voor die kus in die water gegooi en moes hulle aan land swem om dan 80 km deur die woestyn te stap sonder enige water. Op Otjimbingwe is die diere dan hoefysters opgesit en het hulle hul reis na Okahandja of Windhoek voortgesit.

Talle van die ingevoerde beeste (veral Engelse rasse) is al op pad na Otjimbingwe só deur bosluise gebyt dat hulle nooit Windhoek gehaal het nie.

Die belangrikste rede vir die volgehoue voortbestaan en uitbreiding van die Simmentaler-ras in die eerste helfte van die eeu was sy dubbeldoel eienskappe. Die produksie van melk en room het ’n belangrike kontantinkomste vir beesboere verskaf. In die periode 1940 tot 1960 het die destydse Suidwes-Afrika met so te sê geen suiwelbeeste nie, ’n gemiddeld van 9,2 miljoen pond botter en 367 300 pond kaas per jaar geproduseer. Hierdie suiwelprodukte is hoofsaaklik deur Simmentalers of Simmentalerkruisings geproduseer.

’n Aanhaling uit ’n artikel wat deur die Simmentaler-pionier Gustav Voigts in 1921 geskryf is, lui só: “The endeavours of the former German rule in Namibia to import bulls from Germany to improve the livestock was also the beginning of the Voigtland Simmentaler breeding. These cattle, mainly highland breeds such as Allgaeuer, Pinzgauer, Simmentaler, Rotbunte and German Shorthorns were imported and ‘lent’ to farmers for trial purposes. Unless our farms are better developed, I have to plead for caution when the same is expected of other imported breeds as of the Simmentaler, which maintains its type well under extreme conditions and they were also the most resistant in 1896 during the cattle plague. Even in the extreme South the Simmentaler had been established.

“Many farmers made use of the good milk production capacities of the Simmentaler. In the years when the slaughter oxen could hardly be sold at lowest prices, farmers had to opt for milk production. It was meaningless to sell good cows for 20 shilling per cow if they delivered butter for 50 shilling per year. Young full-blood Simmentaler bulls on Voigtland weighed 515 kg at an age of five years and this after a march of 32 km through stony, hilly area. In England the maximum weight is 1.1 kg per day of life with sophisticated stable feeding.”

Hierdie artikel is ná die Eerste Wêreldoorlog geskryf toe die Engelse regering begin het om Engelse rasse na Namibië uit te voer.

Interras-toets wys Simmentaler is tops

’n Namibiese interras-toets wat in die laat vyftigerjare deur die departement van landbou uitgevoer is, was wêreldwyd die eerste proefneming waar Simmentalers onder ekstensiewe vleisproduksie-toestande getoets is. Die Simmentalers het die beste gevaar van tien rasse; nie net ten opsigte van produksie nie, maar ook wat gehardheid en aanpasbaarheid betref.

Die wye publikasie van hierdie proefresultate het die weg gebaan vir die vestiging van die Simmentaler in Suid-Afrika en in lande soos Australië, Argentinië en Amerika. Die feit dat die Simmentaler-ras binne so ’n kort tyd tot een van die belangrikste beesrasse in suidelike Afrika ontwikkel het, kan daaraan toegeskryf word dat die ras voldoen aan die belangrikste vereistes vir ekonomiese vleisproduksie, asook aan sy geskiktheid vir kruisteelt.

Stephan Voigts aan die woord

“Die gewildheid van ’n beesras word altyd deur die kommersiële bedryf bepaal,” sê Stephan Voigts, president van die Namibiese Simmentaler/Simbra Telersvereniging.

“Daarom moet die behoefte van die kommersiële veeboer bepalend wees in die teeldoelwitte wat vir ’n ras daargestel word.” Sulke doelwitte moet vroegtydig bepaal word sodat die tersaaklike eienskappe die nodige aandag kan kry, sê hy.

Tydens die bepaling van teeldoelwitte moet in gedagte gehou word dat as daar plek vir verskeie rasse is, daar ook plek vir verskeidenheid binne ’n ras moet wees. “’n Ras wat verskeidenheid handhaaf, kan veel vinniger by veranderende toestande aanpas. Die uitdaging vir die stoetteler en sy telersorganisasie is om te verseker dat sy doelwitte altyd effens voor die bedryf is.”

Hy sê wat kruisteelt betref, sal die kommersiële veeboer altyd op soek wees na rasse wat ten opsigte van een of twee eienskappe uitblink.

“So lê die toekoms van die Simmentaler-ras in die hande van die telersvereniging en sy lede – die een kan nie sonder die ander bestaan nie.”

Dié ras is besonder geskik vir kruisteling en die waarde van kruisosse en veral die benutting van F1 Simmentalerkoeie as moeders is onskatbaar. Die beleid van blootweg rekordhouding van geboorte en ouerskap in die stoetveebedryf het ondergeskikte funksies geword, sê hy. “Dit gaan vandag oor SimPro-ontledings, teelbeleid wat op marknavorsing gebaseer word en moderne teelwaardes (EBV).”

Die Namibiese Simmentaler/Simbra Telervereniging is deel van ’n groot Sim-familie, naamlik die Simmentaler/Simbra Genootskap van Suidelike Afrika. Alle dienste soos registrasie, keuring, evaluasie en so meer het die Namibiese kantoor aan die Simmentaler/Simbra Genootskap van Suidelike Afrika met sy kantoor in Bloemfontein gedelegeer.

“Daar is tans 303 Simmentaler-telers met 40 402 geregistreerde diere. In Namibië is 39 telers en 7 895 geregistreerde diere. Ons as Namibiese telers is trots daarop om aan ’n Genootskap te behoort wat as ’n leier beskou word.”

Elke teler word jaarliks deur ’n tegniese adviseur van die Genootskap besoek, sonder enige bykomende koste. Die tegniese adviseurs is hoogs opgeleide mense met ’n magdom kennis wat keuring doen, maar ook na elke koei se reproduksie (die belangrikste produksiemaatstaf) kyk, asook teelwaarde-ontledings van die kudde en van die stoetbulle uitvoer wat in die kudde gebruik word.

Die besoek van ’n tegniese adviseur moet gesien word as ’n besigheidsontleding en telers moet dit as sodanig benut, verduidelik Stephan.

Tydens die besoek kry elke teler ’n omvattende prentjie van sy kudde – waar hy tans staan en waarheen sy stoet op pad is. “Hierdie is verseker die belangrikste hulpmiddel om vooruitgang te bewerkstellig en om teeldoelwitte te bepaal.”

Ter afsluiting sê hy: “Die Simmentalervereniging van Namibië besef dat om markgerig en op die voorgrond te bly, hy met nuwe ontwikkelinge in die teel- en vleisbedryf tred moet hou. Nuwe stelsels en veranderende idees laat soms wenkbroue lig, maar tot nou het hierdie leiding net positiewe resultate opgelewer. Ek vertrou dat die telers en bestuur van die vereniging ook in die toekoms diep spore sal trap.”

*Saamgestel deur Ronelle Rademeyer

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!