Pireneë lok dapper duo

Die komende uitda­ging lyk moeiliker as die Cape Epic, wat die tweetal reeds saam getem het.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die 35-jarige Wim Steenkamp en Frikkie van Greunen (36) van Windhoek gaan vanaf komende Sondag 10 tot Saterdag 16 Junie die moordende 2018 Transpyr Gran Raid bergfietsmarathon aandurf.

Tussen die beginpunt by Roses aan die ooskus van Spanje en die eindpunt Hondarriba aan die weskus lê die uitmergelende roete van 780 km.

Dié bergfietswedren wat in 2010 vir die eerste keer aangebied is, strek oor sewe dae waarin ryers deur 'n totale klimhoogte van bykans 18 km in die gesig gestaar word!

Die grootliks ongemerkte roete strek al langs die Pirenese gebergte, wat 'n natuurlike grens tussen Spanje en Frankryk vorm.

Anders as die gewilde Cape Epic wat jaarliks in Maartmaand in Suid-Afrika aangebied word, moet ryers self die roete vind en navigeer.

Die roetekaart word vooraf op die ryers se globale posisioneringstelsels (GPS) afgelaai wat dan hul weg deur die Spaanse platteland en Pireneë op enkel-, tweespoorpaadjies en tegniese dele moet vind.

Sondag se eerste skof van 116 km spring om 07:00 by Roses in die ooste van die land, teenaan die Middellandse See wag en eindig by Camprodon aan die Atlantiese Osean.

Met hul ondervinding van die 2017 Cape Epic nog vars in die geheue, vertel Van Greunen wat vir hulle in Spanje wag. Steenkamp en Van Greunen het verlede jaar as 'n tweemanspan (Team Land Rover Windhoek) algeheel 99ste en 63ste in die mansresies klaargemaak.

“Om die Transpyr te ry, is baie goedkoper as die Epic en beslis 'n groter uitdaging vir my en Wim wat verlede jaar die Epic suksesvol afgelê het.

“Die roete is baie moeiliker as die gevreesde bergfietsmarathon in die Kaap, met baie meer en hoër klimgedeeltes. Daar is ook baie bos- asook enkelspoorpaadjies wat ons self moet navigeer.

“Die Pireneë-bergreeks op sigself is berug vir sy gevreesde steil klimme en ons sal daar moet uit!

“Ons spring elke oggend om sewe-uur weg en ná 40 km in die saal kry ons kos wat soms deur die plaaslike inwoners in die dorpies voorgesit word.

“Saans slaap ons op die grond in 'n slaapsak by 'n skoolsaal saam met van die ander ryers. Hopelik is 'n ou moeg genoeg om goed te slaap en die volgende dag met vars bene in die pad te val.

“In ons voorbereiding staan ek en Wim soggens douvoordag (vyfuur) op om vir 'n uur fiets te gaan ry, want met gesinne en ander pligte is daar nie eintlik ander tyd om in die saal te spandeer nie.

“Volgens my fiets se afstandmeter het ek sedert Januarie al 5 600 km gery; dis meer as wat ek met my kar afgelê het.

“Ons sien geweldig uit na die geleentheid, want dit is beslis 'n nuwe uitdaging, veral met min mense daar wat behoorlik Engels kan praat.

“Ons gaan sommer Namibië terselfdertyd as 'n aantreklike toeristebestemming onder die ander deelnemers bemark, as 'n mekka wat soveel uniekhede vir bergfietsryers bied,” vertel Van Greunen entoesiasties.

O. Behrens & Co (Windhoek) en Hansgrohe (Suid-Afrika) het die Namibiërs met die geskikte fietsry-uitrusting bederf wat boonop met die Namibiese vlag getooi is. Steenkamp en Van Greunen ry beide Specialized S-Works Epic-bergfietse wat deur Cycletec voorberei is.

“Ons opregte dank aan Werner Margull van O. Behrens wat 'n trotse ondersteuner van bergfietsry en dié gesonde leefstyl is, asook Hansgrohe SA wat ons borg.

“Tokkie Bombosch en Patrick de Goede van Cycletec het ons fietse meganies versorg, waarvoor ons baie dankbaar is.

“Baie dankie aan almal vir jul ondersteuning sodat ons die byeenkoms kan bywoon,” het Van Greunen afgesluit.

Van Greunen en Steenkamp vertrek vandag vanaf Internasionale Lughawe Hosea Kutako na Spanje.

Team Hansgrohe Obeco kan op sosiale media gevolg word, waar mense ook pryse van Obeco met gelukstrekkings kan wen.



Hul spyskaart vir sewe dae

Dag 1, Roses tot Camprodon 116 km (2 200 m klim).

Dag 2, Camprodon to La Seu d'Urgell 118 km (2 700).

Dag 3, La Seu d'Urgell to El Pont de Suert 115 km (3 200).

Dag 4, El Pont de Suert to Aínsa 98 km (2 900).

Dag 5, Aínsa tot Jaca 98 km (2 200).

Dag 6, Jaca tot Buguete/Auritz 132 km (2 600).

Dag 7, Burguete/Auritz tot Hondarriba 92 km (2 100).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!