Pistorius word dag en nag dopgehou
Abram Mashego
Oscar Pistorius was die afgelope week in die gevangenis onder selfmoordbewaking nadat hy ernstige gewrigbeserings opgedoen het wat hom in die Kalafong-hospitaal laat beland het.
Die geheimsinnigheid oor die voorval het hierdie week verder verdiep toe dit ook aan die lig gekom het dat die veroordeelde atleet glo drie weke gelede ’n klag van poging tot moord teen die tronkverpleërs ingedien het.
Kort nadat hy na die Kgosi Mampuru II-tronk in Pretoria teruggekeer het, het Pistorius ’n formele klag by die tronkowerheid ingedien waarin hy beweer dat drie verpleërs hom probeer doodmaak het deur vir hom “toksiese” medisyne te gee.
Drie senior tronkamptenare het die afgelope week aan City Press, Rapport se susterskoerant, gesê Pistorius het geweier om enige verdere medikasie wat die drie hom aangebied het, te gebruik.
Hy het daarop aangedring dat hy slegs medisyne sal drink wat sy eie dokter voorgeskryf het.
Een van die amptenare het gesê Pistorius “was baie ontsteld en het versoek om die polisie te sien om ’n kriminele saak in te dien”.
Pistorius het ook gevra om na die Zonderwater-tronk oos van Pretoria oorgeplaas te word, maar dié versoek is afgekeur.
Pistorius was veronderstel om verlede Vrydag die polisie te sien, maar die amptenare het nie sy versoek geprosesseer nie, het een bron gesê.
Die volgende dag is Pistorius inderhaas hospitaal toe geneem met beserings aan sy gewrigte. Hy het aan die tronkowerheid gesê hy het seergekry toe hy uit die bed geval het.
’n Mede-aangehoudene digby die hospitaalafdeling van die tronk het egter aan City Press gesê Pistorius het homself met opset beseer.
Bewaarders het verlede Saterdag sy sel deursoek en op lemmetjies afgekom. Nou word hy 24 uur per dag bewaak en die bewaarders hou hom fyn dop waar hy in die tronkhospitaal lê.
Pistorius se broer, Carl, het ontken dat sy broer selfmoord probeer pleeg het. Volgens hom het Pistorius in sy sel gegly.
Singabakho Nxumalo, woordvoerder vir die departement korrektiewe dienste, sê die departement gaan nie verder kommentaar lewer voordat die ondersoek na die voorval afgehandel is.
“Die ondersoek is ver gevorder.
“Ons reaksie sal deur die bevindings van die ondersoekspan gelei word,” het hy gesê.
Die ondersoek moet onder meer bepaal of daar wel ’n selfmoordpoging was en hoe die lemmetjies in sy sel gekom het.
Die ondersoek is begin kort nadat Pistorius van die hospitaal na die tronkhospitaal teruggekeer het en nadat die bewaarders ook ’n skêr, voorskrifmedisyne en “toksiese pille” in sy sel gekry het.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie