Plaas moratorium op oliesoektog, vra drukgroepe
Plaas moratorium op oliesoektog, vra drukgroepe

Plaas moratorium op oliesoektog, vra drukgroepe

Nog ’n salvo skote is gister gevuur in die stryd teen planne om na ’n groot nuwe olieveld in die groter Okavangogebied te soek.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – ’n Alliansie van bykans 80 plaaslike en internasionale burgerlike organisasies en aktiviste, bekend as Save Okavango’s Unique Life (Soul), wil hê ’n moratorium moet geplaas word op Reconnaissance Energy Namibia (ReconAfrica) se soektog na olie in die Kavangostreek.

Die alliansie het die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, versoek om ander belanghebbende ministeries te betrek en onmiddellik ’n moratorium te plaas op die verkenningsboorwerk vir olie wat tans gedoen word.

Soul vra ook die Namibiese regering moet opdrag gee dat ’n oorgrens- strategiese omgewingsondersoek (SEA) gedoen word wat die impak van hidrobreking bepaal op al die lande wat die Kavangorivier deel.

Die alliansie sê in ’n ope brief aan Schlettwein ’n moratorium moet verdere eksplorasiewerk, soos die beplande seismiese opnames, verbied totdat die bevindings van ’n ondersoek na die impak van klimaatsverandering op die grondwaterbronne in groot akwifers wat tans gedoen word, bekend is.

Mnr. Jan Arkert, ‘n geoloog en een van die inisieerders van dié brief, sê die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het onlangs ‘n ooreenkoms met die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) onderteken vir ‘n studie na wat die impak van klimaatsverandering op die land se ondergrondse waterbronne is.

Mnr. Max Muyemburuko, voorsitter van die Streekbewarings- en gemeenskapsbosbouvereniging vir Kavango-Wes en -Oos, sê voorbeeld in die VSA toon boere word veral beïnvloed deur die olie- en gasbedryf se groot aanvraag na vars water.

“Hoekom met ReconAfrica se dors na water vir olieboorwerk en hidrobreking voorrang geniet bo die bestaansbehoeftes van die plaaslike gemeenskappe, boere en die wildlewe,” wil hy in die brief aan Schlettwein weet.

ReconAfrica het vroeër vandeesmaand sy aansoek vir ’n omgewingsklaringsertifikaat (ECC) om tweedimensionele (2D) seismiese opnames in die Kavango te doen, by die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme indien.

’n Omgewingsimpakstudie (EIA) en -bestuursplan (EMP) moes dié aansoek vergesel.

ReconAfrica se boorinstallasie waarmee hy sowat 50 km suidoos van Rundu sy eerste toetsgat boor, het in Desember per skip by Walvisbaai aangekom. Die prospektering sal toon of daar wel olie is.

Dié Kanadese groentjie in die olie- en gasbedryf hou in voorleggings aan voornemende beleggers vol hy het “’n massiewe petroleumbron in die Kavangokom ontdek”. Dié bron “kan miljarde vate olie” lewer, sê hy.

ReconAfrica haal op sy webblad die geochemikus, Dan Jarvie van Worldwide Geochemistry, aan wat sê die aard van die sedimentêre bron is sodanig dat dit “produktief sal wees” en “hoë gehalte olie lewer”.

Soul het gister tydens ‘n vreedsame optog in Windhoek gesê die ope brief is die eerste stap van verhoogde nasionale en internasionale mobilisering teen die voorgenome boorplanne in Kavango, asook in die noordweste van Botswana. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer