Plaaslike owerhede kan omgewing help
Plaaslike owerhede kan omgewing help

Plaaslike owerhede kan omgewing help

Munisipaliteite speel ‘n groot rol in klimaatsverandering omdat hulle daagliks te doen kry met die doeltreffende gebruik van hulpbronne.
Elvira Hattingh
Munisipaliteite behoort doeltreffende maatreëls in hul daaglikse bedrywighede toe te pas om die gevolge van klimaatsverandering te takel, het mnr. Clemens Olbrich, projekbestuurder van Service Agency Communities in One World, gesê.

Dié opmerkings het hy Woensdag by die amptelike opening van die Windhoekse netwerk-vergadering van Afrika- en Latyns-Amerikaanse munisipaliteite oor klimaatsvennootskappe gemaak.

Die vergadering sal tot Vrydag voortduur en sluit in dat verteenwoordigers van die munisipaliteite besoeke aan onder meer die nuwe Goreangab-waterherwinningsaanleg, die Gammams-rioolwaterwerke, asook die Ujams-rioolwaterwerke en –herwinningsaanleg besoek.

Hy sê uiterste weerpatrone en risiko’s vir mense verhoog – veral in Afrika, Latyns-Amerika en Asië, en daarom is dit nodig dat munisipaliteite dié maatreëls aanneem.

Olbrich het bygevoeg plaaslike aksie kan ‘n wêreldwye impak hê en munisipaliteite kan dus internasionale spelers word om die uitwerking van klimaatsverandering te versag.

“Onderwerpe soos onderrig oor klimaatsverandering, hernubare energie, die doeltreffende gebruik van energie, water- en vullisbestuur, biodiversiteit en die plant van bome is ’n goeie voorbeeld hiervan in munisipaliteite se daaglikse werksaamhede,” het hy gesê.

Hy het ook gesê die uitruiling en oordrag van kennis en goeie praktyke op plaaslike vlak is ‘n belangrike deel van die legkaart om klimaatsverandering teen te werk.

Olbrich het bygevoeg munisipale vennootskappe is ‘n betekenisvolle en beproefde benadering om die uitdagings van klimaatsverandering aan te spreek.

By dieselfde geleentheid het Windhoek se adjunkburgemeester, me. Teckla Uwanga, gesê dié vlak van wêreldwye aksie teen klimaatsverandering kan slegs bewerkstellig word wanneer ‘n beleidsraamwerk bestaan en prioriteite gestel word om die gevolge van klimaatsverandering te versag en daarby aan te pas.

Uwanga het gesê om dié rede is dit belangrik om kennis te neem munisipaliteite in die suide van die wêreld volg al meer volhoubare ontwikkelingsbeleide na, wat ook tot die voordeel van die hantering van klimaatsverandering strek.

“Klimaatsveranderingsinisiatiewe om die groeiende produksie van koolstofvrystelling te bekamp, kan as basis dien vir drastiese eknomiese groei. Dit kan bewerkstellig word deur die oordrag en verspreiding van ‘skoon’ tegnologie,” het sy gesê. – Nampa en eie berig

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer