Plaaslike skatte nou aanlyn ­beskikbaar

Bemagtig ambagsmanne, kunsvlyt-ondernemers
Yandi Du Plessis
Kuns- en kunsvlytliefhebbers kan nou handgemaakte Namibiese produkte aanlyn via die nuwe Namibia Craft Shop-webwerf aanskaf.

Dié platform sal as die aanlyn katalogus van die Namibia Craft Centre (NCC) dien, en het ten doel om die impak te versag wat die pandemie op die plaaslike kuns- en kunsvlytsektor gehad het, aangesien produkte wat normaalweg slegs in die winkels beskikbaar was, nou bloot met die klik van 'n knoppie in jou inkoopmandjie kan beland.

Die afleweringsproses word vergemaklik deur die NCC se vennootskap met die koerierdiens DHL.

Die idee van hierdie nuwe aanlyn winkel kon verwesenlik danksy die voortgesette vennootskap tussen die Namibiese ministerie van nywerheidsontwikkeling en handel, die ministerie van finansies en GIZ Namibia se ProBATS-program – onder die Duits-Namibiese samewerking.

Die ministeries en ProBATS het die beste strategieë ondersoek om die ekonomiese ontwrigting en afname wat die Covid-19-pandemie meegebring het, teë te werk.

Die Namibiese ekonomie en veral klein- en mediumgrootte ondernemings (SME's) soos dié van ambagsmanne en kleinskaalse vervaardigers van kuns en kunsvlyt, kry swaar in die nasleep van die pandemie. Die gebrek aan toeriste wat die land besoek het, beteken diegene wat aandenkings en handgemaakte produkte verkoop, het die meerderheid van hul kliënte verloor.

Deur hierdie produkte nou op die nuwe Namibia Craft Shop-webwerf beskikbaar te stel, beteken vakmanne van oraloor Namibië word nie net in die fisiese winkels van die NCC verteenwoordig nie, maar ook aanlyn.

Die NCC-kunstenaars en ambagsmanne het besluit om met kliënte oraloor die wêreld in gesprek te tree deur die aanlyn katalogus te skep wat “goed ontwerp is, maklik is om te navigeer en 'n veilige aanlyn koopervaring bied”.

Die beskikbare produkte sluit onder meer aandenkings, juweliersware, leerprodukte, kuns en versamelstukke, klere en ander handgemaakte uniekhede in. Betalings werk dieselfde as by enige ander aanlyn winkel.

Geweefde mandjies, Makalani-pitte, San-juweliersware uit volstruiseiers en kleurvolle, geborduurde linne – 'n versameling van items wat die omvang van Namibiërs se kreatiewe vermoë uitbeeld – is wat jy te wagte kan wees.

Die Namibia Craft Shop is op die been gebring as 'n inisiatief tussen die Namibiese Kunsteraad (NACN) en die NCC met die doel om die lewensgehalte van Namibiese ambagsmanne en kunsvlyt-ondernemers te verbeter.

“Dié monumentale stap vorentoe wat ons as sentrum gemaak het met die oprigting en bekendstelling van die Namibia Craft Shop, kan nie onderskat word nie. Namibiese kuns en kunsvlyt sal nou wêreldwyd 'n mark vind. Ons pragtige produkte wat deur baie talentvolle kleinskaalse ondernemings gemaak word, verdien 'n groter mark en daar is geen groter mark as die internet nie,” het Shareen Thude, besturende direkteur van die NCC, gesê.

“Die betrokke ministeries en ProBATS se kundigheid op dié gebied help SME's om hul lewensvatbaarheid te behou, nuwe perspektiewe te skep en kunsvlyt-ondernemers in staat te stel om tydens die pandemie aan te pas en nuwe ontwrigtings en uitdagings te navigeer.”

Dit gee alle Namibiërs die geleentheid om voort te gaan om vir hul gesinne en gemeenskappe te sorg en die internet as 'n verkoopsinstrument te gebruik om hulle op 'n heel nuwe manier te bemagtig.

Plaaslike kunstenaars en kunsvlyt-entrepreneurs word uitgenooi om by dié platform aan te sluit. Vir meer inligting, stuur 'n e-pos na [email protected].

Besoek die nuwe aanlyn winkel hier: https://q.my.na/24AJ

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!