Plaaslike toerisme aangemoedig
Plaaslike toerisme aangemoedig

Plaaslike toerisme aangemoedig

Binnelandse vlugte is hervat en nasionale parke se hekke is weer oop.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Verskeie lodges, gastehuise en kampeerplekke is slaggereed vir plaaslike toeriste met spesiale pakkette wat aangebied word noudat Namibiërs weer binnelands kan reis.

Nadat fase 2 van die inperking op Dinsdag (5 Mei) afgeskop het, word binnelandse reise toegelaat.

Met nog 'n langnaweek einde vandeesmaand in sig en die dalende brandstofprys, smag baie Namibiërs om ná die hoktyk van fase 1 die natuur se vryheid te ervaar.

Die gasvryheid- en toerismesektor is die ergste deur die pandemie getref en is op sy knieë.

Plaaslike toerisme kan 'n hupstoot vir dié bedryf gee.

Air Namibia het sy binnelandse vlugte van Woensdag af hervat.

Nasionale parke het ook van Woensdag af hul hekke weer oopgemaak, het die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, bevestig.

Die omgewingsminister, mnr. Pohamba Shifeta, het ook bevestig alle produktiewe bedrywe, die gasvryheids- en toerismebedryf ingesluit, mag volgens streng gesondheidsmaatreëls in bedryf wees.

"Diegene wat nie duidelikheid oor die gesondheidsmaatreëls het nie, moet hul vrae aan die gesondheidsministerie rig. Handhaaf higiëne, sosiale afstand, beskerm alle personeel en gaste deur maskers te dra, hande te was en alle akkommodasiegeriewe te reining," het Shifeta gesê.

Restaurante mag egter slegs wegneemetes verskaf en geen alkoholiese drankies – ook nie dié wat minder as 3% alkohol bevat – mag tydens fase 2 van die inperking in die land gekoop of verkoop word nie.

OPGRADERING

Namibia Wildlife Resorts (NWR) het intussen opgraderings by van hul oorde in die Etosha Nasionale Park tydens grendeltyd gedoen.

Okaukuejo se kampeerterrein se ablusiegeriewe en veldkombuis is opgegradeer en Halali het ook 'n nuwe baadjie aangetrek.

Dr. Matthias Ngwangwama, NWR se waarnemende besturende direkteur, het in 'n mediaverklaring gesê met die opening van nasionale parke word families aangemoedig om hulle te besoek.

NWR het tans 'n spesiale aanbieding van N$600 per kamer, kos en koeldrank uitgesluit.

Dit sluit nie hul Khorixas-enkelkamers, Hardap-koshuise, Shark Island Lighthouse en Myl 108 se Fisherman-chalets in nie.

Kampeerders sal slegs N$100 per persoon betaal.

NWR gaan ook met die oog op beter kliëntediens later vanjaar 'n gasvryheidsinstituut op die been bring.

"Een van die uitdagings in die toerismesektor is ons swak diensvlakke," het Ngwangwama gesê.

Op die Facebook-blad, Local Tourism is Lekker - Namibia, word spesiale aanbiedinge van selfs 50% afslag aangebied en sommige akkommodasieplekke sê prontuit "betaal wat jy kan".

Tóg sê die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië, me. Gitta Paetzold, verskeie lodges sal tot einde Junie toe bly.

"Dit is nie lonend vir hulle om hul lodge vir een of twee Namibiërs oop te maak wat miskien gaan kom nie, terwyl die groot Europese mark nog nie in die land kan inkom nie," het sy gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!