Plaaslone styg 10,7% sedert 2018
Plaaslone styg 10,7% sedert 2018

Plaaslone styg 10,7% sedert 2018

Plaasarbeiders geniet bykomende voordele soos gratis behuising, vervoer en om vee aan te hou.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Plaaswerkers verdien tans sowat 10,7% meer as twee jaar gelede, asook 69% méér as die vereiste minimumloon.

Die Landbouwerkgewersvereniging (LWV) het onlangs die jongste ­weergawe van hul tweejaarlikse loonopname vir die 2019-'20-boekjaar beskikbaar gestel, waarvolgens plaasarbeiders 'n gemiddelde salaris, wat kontant en rantsoen insluit, van N$2 367 per maand verdien.

Dit bestaan uit 'n gemiddelde maandelikse kontantsalaris van N$1 754, asook rantsoene ter waarde van N$613.

Dit is 69% hoër as die minimumloon vir plaaswerkers wat tans N$1 400 is.



WERKLIKE ­VERGOEDING

“Die gemiddelde totale vergoedings­pakket per plaasarbeider, indien die waarde van gratis byvoordele bygewerk word, staan egter op N$3 660 per maand of N$18,77 per uur.

“Dit bewys dat die vergoeding van werkers op die kommersiële plase van ons lede baie gesond en mededingend is.

“Byvoordele sluit in gratis behuising, gratis vervoer vir skoolkinders na skole, gratis vervoer vir arbeiders en hul afhanklikes na klinieke en hospitale, asook om vee, donkies en perde gratis aan te hou,” het die LWV in die Namibië Landbou-unie (NLU) gesê.

“Ons moet onthou dat die mini­mum­loon slegs 'n intreevlakloon vir jong plaaswerkers sonder ondervinding is,” is bygevoeg.



VERBLYF

Die gemiddelde aantal plaaswerker­huise per werkgewer is 6,12. Die huise het 'n ­gemiddelde grootte van 43 m².

Die gemiddelde waarde van hierdie gratis voordeel vir plaaswerkers beloop N$973 per maand.

'n Totaal van 61% van arbeiderhuishoudings op plase het elektrisiteit in hul huise, terwyl 'n verdere 25% van sonkrag gebruik maak.

Behalwe vir behuising, het tot 90% van die respondente bevestig dat hulle 'n jaarlikse bonus aan arbeiders betaal. Altesaam 80% van respondente het ook aangedui hul werkers het gedurende die jaar salarisverhogings ontvang, ten spyte van die landswye droogte.

Gratis items soos elektrisiteit, water, vuurmaakhout, asook Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC)- en pensioen­fondsbydraes deur die werkgewers is nie in bogenoemde syfers ingesluit nie, ­alhoewel dit ook voordele vir ­arbeiders inhou en 'n verdere koste-implikasie vir werkgewers het.



GROTER DEELNAME

Die LWV sê heelwat meer van hul lede het aan die afgelope opname ­deelgeneem as voorheen en daar was genoeg ­respondente uit al die streke om goeie, werkbare data in die verslag te verseker.

“Die data van 603 respondente, wat oor 5 340 plaaswerkers verslag doen, is verwerk. Verskillende aspekte van die vergoedingstruktuur en arbeids­bestuur van plaaswerkers is op ­nasionale en streekvlak ondersoek en ontleed,” het die LWV gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!