Plaaswerker 28 jaar tronk toe
Plaaswerker 28 jaar tronk toe

Plaaswerker 28 jaar tronk toe

Jessica Botes
Jessica Botes – Nadat ‘n plaaswerker van Gobabis in die hoërhof daaraan skuldig bevind is dat hy sy lewensmaat vermoor het, is ‘n strawwe vonnis van effektief 28 jaar teen hom opgelê.
“Die slagoffer was ‘n weerlose vrou wat haarself nie teen haar aanvaller kon verdedig nie. Die wyse waarop die oortreding gepleeg is, dui daarop dat die beskuldigde geen waardering en respek vir ‘n ander persoon se lewe het nie. Dit is skokkend,” het regter Dinnah Usiku gister in haar uitspraak gesê.
Paulus Shilongo is op 30 Maart daaraan skuldig bevind dat hy me. Dina Eises (21) op die plaas Tredgold herhaaldelik met ’n klip en sambok geslaan en aan haar voete op die grond rondgesleep en vermoor het. Hy is op ‘n klag van moord kragtens die regsbeginsel van dolus eventualis, saamgelees met bepalings van die wet op die bekamping van huishoudelike geweld, skuldig bevind.
Shilongo en die oorledene het op 8 November 2012 na die plaas gegaan om alkohol te drink. Terwyl hulle besig was om te drink, het die oorledene begin om in Damarataal met ander mense te praat en gelag. Die ­beskuldigde kon nie verstaan wat hulle sê nie en het vir Eises gevra waarom hulle lag.

Shilongo het die oorledene twee keer geslaan en haar ‘n rukkie later met ‘n klip teen haar oog geslaan. Daarna het hy die klip teen Eises se voorkop gegooi. Die beskuldigde het haar gelos waar sy op die grond neergeval het en na sy vriende teruggekeer om verder te drink. Hy het later vir Eises geroep om huis toe te gaan, maar sy het nie geantwoord nie.

Shilongo het vir Eises kwaad geword toe sy nie kon regop staan nie en hy het al haar klere van haar lyf afgeruk. Bystanders het ’n kombers gaan haal om vir Eises toe te maak voordat sy saam met die beskuldigde huis toe gestap het.

“Die oorledene se klere is van haar lyf afgeruk en sy is naak op die grond gelos vir almal om haar so te sien. As dit nie vir die goeie samaritaan was nie, sou die beskuldigde haar net so gelos het. Hy het geen respek vir haar menswaardigheid gehad nie,” het Usiku gister gesê.

Terwyl hulle besig was om te stap, het Eises op haar maag neergeval. Shilongo het Eises daar gelos en na sy huis toe gegaan om ’n sambok te gaan haal. Hy het haar toe met die sambok oor haar lyf en op haar agterstewe begin slaan.

Die beskuldigde het vir Eises daar gelos en haar later weer gaan haal. In daardie stadium het Shilongo besef hoe ernstig die oorledene se beserings is. Hy het probeer om haar op te tel, maar sy kon nie regop staan nie. Hy het haar toe aan haar voete huis toe gesleep, op die bed neergesit, haar met ’n kombers toegemaak en haar binne die huis toegesluit.

Volgens die nadoodse ondersoekverslag was Eises se skedel, ruggraat en verskeie ander bene gebreek. Daar was blou kolle oral oor haar liggaam en verskeie diep snywonde aan haar gesig. Haar kakebeen was op verskeie plekke gebreek, haar nek was gebreek en van haar tande was ook gebreek. Volgens die verslag is hierdie beserings deur ’n geweldige harde hou teen die kop veroorsaak.

Shilongo is tot 30 jaar tronkstraf gevonnis, maar twee jaar van dié vonnis is vir ‘n tydperk van vyf jaar opgeskort vanweë die drie jaar wat hy as verhoorafwagtende in aanhouding deurgebring het.

Mnr. Trevor Brockerhoff het namens Shilongo opgetree en mnr. Henry Muhongo het die staat verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer