Plan vir Eskom kan SA se gradering knou
Plan vir Eskom kan SA se gradering knou

Plan vir Eskom kan SA se gradering knou

Francois Williams – Almal weet Eskom is in die moeilikheid, maar pres. Cyril Ramaphosa het dit nou net weer duideliker gestel deur te bevestig Eskom se geld gaan teen Oktober op wees, sê die ekonoom Mike Schüssler.

Maar daar is nog te min detail oor presies hoe Eskom gered gaan word. sê hy.

Schüssler verwelkom wel Ramaphosa se klem dat mense sal moet begin betaal vir hul elektrisiteit - ’n duidelike verwysing na die inwoners van Soweto wat regstreeks van Eskom krag kry, maar wat meer as R17 miljard aan Eskom skuld, asook na munisipaliteite, wat meer as R23 miljard aan Eskom skuld.

Ramaphosa se plan om die bedrag van R230 miljard wat oor die volgende tien jaar belowe is, nou bloot vroeër aan Eskom te bestee, is volgens Dawie Klopper, ekonoom van PSG Wealth, nie bemoedigend nie. “Dit gaan die staatsfinansies laat sleg lyk en die kredietgraderingsagentskappe gaan nie daarvan hou nie.”

Marubini Raphulu, uitvoerende hoof van die JSE-genoteerde groenkragbeleggingsgroep Hulisani, sê dis goed en wel dat Ramaphosa gesê het ’n nuwe uitvoerende hoof en ’n herstruktureringshoof gaan binnekort by Eskom aangestel word. “Maar dis teleurstellend, want ons sou ’n bietjie meer detail wou hoor.”

Daar is geen fynere besonderhede oor Eskom se omdraaiplan en hoe die R230 miljard bestee gaan word nie.

Ramaphosa se afstof van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) beteken terselfdertyd dat ambisieuse teikens gestel word. “Die plan is vir hoe Suid-Afrika teen 2030 moet lyk, en daar is nog net 11 jaar oor. Die NOP fokus sterk op die kragsektor en infrastruktuur, asook op hernieubare energie, want dit voorsien ’n inklusiewe en volhoubare kragstelsel wat veerkragtig is vir klimaatsverandering.”

Raphulu wys daarop dat die NOP voorsiening maak vir 40 GW se nuwe kragopwekkingsvermoë teen 2030, waarvan die helfte hernieubare energie moet wees.

Maar teen die tempo waarteen die koste van hernieubare energie daal, behoort eerder 75% van die nuwe kragopwekking van hernieubare energiebronne wees, meen hy.

“Onafhanklike kragprodusente kan hierdie opwekkingsvermoë vinnig en op begroting bou.

“Ramaphosa sê elektrisiteit moet goedkoper wees. Maar dit gaan nie goedkoper word deur nuwe steenkoolkragstasies te bou nie, maar wel as sonkrag en windkrag gebou word.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!