Planne om miljoene dosisse in Afrika te vervaardig
Planne om miljoene dosisse in Afrika te vervaardig

Planne om miljoene dosisse in Afrika te vervaardig

Egipte gaan danksy ’n ooreenkoms met Sinovac die eerste groot entstofprodusent in die Midde-Ooste en Afrika word.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Verskeie beleggings in Afrika is aan die gang ten einde binne die volgende paar jaar miljoene dosisse entstof teen Covid-19 te vervaardig en in die vasteland te versprei.

Hoewel die kontinent 25% van die globale aanvraag vir entstowwe verteenwoordig, produseer dit minder as 0,1% van die wêreld se voorsiening en bestaan plaaslike vervaardiging volgens die jongste verslag van die Mo Ibrahim Stigting byna glad nie. Sowat 99% van Afrika se roetine-entstowwe word ingevoer.

Volgens Covid-19 in Africa – A challenging road to recovery is daar tans net tien plaaslike rolspelers in die plaaslike entstowwe waardeketting wat sowat 30% van die algehele waardeketting op die vasteland verteenwoordig. Die meeste fokus op die verpakking en verspreiding van dit wat hulle invoer.

Net ses het tot ’n mate die huidige kapasiteit om medikasie te vervaardig wat meestal op ’n baie klein skaal is. Dit sluit in Biovac (Suid-Afrika), Biovaccines (Nigerië), Ethiopian Public Health Institute, Institut Pasteur Algeria, Institut Pasteur Dakar (Senegal) en Institut Pasteur Tunis (Tunisië).

Kapasiteit vir navorsing en ontwikkeling bestaan net in Suid-Afrika en Nigerië. Verskeie ooreenkomste met internasionale farmaseutiese maatskappye gaan egter die prentjie in die komende paar jaar verander.

In Junie het die Amerikaanse Ontwikkelingsfinansieskorporasie in samewerking met die Wêreldbankgroep, Duitsland en Frankryk ’n gesamentlike beleggingsplan aangekondig om ’n Suid-Afrikaanse maatskappy, Aspen Pharmacare, te help om sy vervaardigingskapasiteit te verhoog en meer as 500 miljoen dosisse van die Johnson & Johnson-entstof teen die einde van 2022 te vervaardig.

Die Medikasie Patentpoel (MPP), ’n nuut gestigte konsortium met onder meer die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) as ’n vennoot, gaan volgens die verslag ’n Suid-Afrikaanse spilpunt vir die oordrag van boodskapper RNA (mRNA)-tegnologie skep.

Senegal en Rwanda het ’n ooreenkoms met die Duitse maatskappy BioNTech onderteken vir die ontwikkeling van entstowwe teen malaria en TB. BioNTech, wat verantwoordelik was vir die Pfizer BioNTech-entstof teen Covid, werk ook nou saam met die Institut Pasteur in Dakar in Senegal en die Rwandese regering om te begin met die konstruksie van die eerste fabriek wat teen die middel van aanstaande jaar mRNA-entstowwe in Afrika gaan vervaardig.

Egipte gaan danksy ’n ooreenkoms wat in September met die Chinese farmaseutiese maatskappy Sinovac onderteken is, die eerste groot entstofprodusent in die Midde-Ooste en Afrika word. ’n Fabriek in Kaïro beplan glo om meer as 200 miljoen Covid-entstofdosisse per jaar te vervaardig, genoeg om in nasionale behoeftes te voorsien. ’n Tweede fabriek sal die kapasiteit hê om drie miljoen dosisse per dag te vervaardig wat na die res van die vasteland versprei sal word.

In Oktober het Moderna ’n belegging bekendgemaak van tot US$500 miljoen om ’n mRNA-vervaardigingsfabriek in Afrika binne twee tot vier jaar op te rig met die doel om 500 miljoen dosisse van sy entstof jaarliks te vervaardig.

Volgens die verslag is ’n sleutelfaktor vir die relatief laer aantal Covid-19-gevalle en verwante sterftes in Afrika die vroeë en gekoördineerde optrede danksy ondervinding met vorige pandemies soos die 2013-2016 Ebola-uitbreking in Wes-Afrika.

Die verslag maan egter die pandemie het die vasteland se gebrek aan kapasiteit blootgelê wat nodig is om meer komplekse gesondheidsuitdagings te hanteer.

Dit sluit hoë gekwalifiseerde personeel en gespesialiseerde toerusting soos kritieke hoësorggeriewe en ventilators in. In Afrika is daar gemiddeld 135,2 hospitaalbeddens en 3,1 beddens in intensiewesorgeenhede per 100 000 inwoners, met minder as 2 000 werkende ventilators om mense in staatshospitale in 41 lande te bedien. Tien lande het geen ventilators nie.

Met verwysing na menslike hulpbronne sê die verslag daar is 0,2 dokters en 1,0 verpleegsters of vroedvroue vir elke duisend inwoners. Net 28% van gesondheidsgeriewe in sub-Sahara Afrika het betroubare elektrisiteit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!