Planne vir krisisbeheer op Hosea Kutako
Planne vir krisisbeheer op Hosea Kutako

Planne vir krisisbeheer op Hosea Kutako

Die opgraderings by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako is só dringend dat ‘n tussentydse plan vir noodmaatreëls ingevolge die verkrygingswet versoek kan word.
Ellanie Smit
Ellanie Smit - ‘n Omvattende plan om opeenhopings by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako te verlig, sal ongeveer N$230 miljoen kos.

Dit sal onder meer die uitbreiding behels van die bestaande eindpuntgebou, wat die vertreksaal, sekuriteitspunte, aankomssaal en areas vir bagasiehantering insluit.

Hierdie maatreëls sal egter net vir vyf jaar lewensvatbaar wees, want ‘n nuwe lughawe-eindpuntgebou, asook ‘n aanloopbaan en rolbaan (taxi way) moet gebou word.

Dit sal tussen N$4 miljard en N$5 miljard kos.

Mnr. Albertus Aochamub, waarnemende uitvoerende hoof van die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC), het Dinsdag bevestig die tussentydse maatreëls, wat daarop gemik is om opeenhopings by die lughawe te verlig, sal net vir vyf jaar doeltreffend wees.

“Om dié rede moet die beplanning van ‘n splinternuwe lughawe begin en sal daar besluit moet word of ‘n nuwe aanloopbaan ook nodig is,” het hy gesê.

Hy het verduidelik die huidige eindpuntgebou, wat in 1985 gebou is om 250 000 passasiers per jaar te hanteer, hanteer tans meer as ‘n miljoen passasiers per jaar.

Aochamub verwag die getal passasiers sal binne die volgende 10 jaar verdubbel, wat meer druk op die geriewe sal plaas. Boonop sal nuwe lugrederye binne die volgende paar jaar ook na Namibië vlieg.

Die Wêreldbank het onlangs ’n studie oor uitbreidings aan Hosea Kutako onderneem.

Opeenhopings is onder meer ondersoek en daar is bevind dit sou ongeveer N$230 miljoen kos om ‘n lughawe wat aan die toepaslike vereistes voldoen, vir die volgende vyf jaar moontlik te maak.

Om ‘n nuwe lughawe-eindpuntgebou teen tussen N$4 miljard en N$5 miljard op te rig, word verskillende finansieringsopsies ondersoek, insluitende ‘n openbare-private-vennootskap.

Aochamub sê die NAC het reeds ‘n advertensie geplaas vir ’n konsultant om te help om die oorlading van die lughawe te verlig. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 22 Junie.

Die konsultant sal ‘n plan vir tussentydse maatreëls moet opstel, asook ‘n finale dokument vir ’n kontrakteur, wat waarskynlik teen September aanstaande jaar aangestel sal word.

Aochamub sê die verkrygingswet maak voorsiening vir noodmaatreëls indien lewens in gevaar is. Die kabinet kan die besluit neem om dié bepaling in werking te stel.

“Tans voldoen ons nie aan internasionale beste praktyke nie en die lughawe is ‘n bron van groot frustrasie vir passasiers,” het hy gesê.

“Ons maak daarop staat dat die bepaling in die verkrygingswet toegestaan sal word, omdat dit ons in staat sal stel om vinniger te werk. Indien dit nie toegestaan word nie, sal ons die stappe moet volg soos in die wet voorgeskryf.

“Wat veiligheid betref, voldoen ons ook nie heeltemal aan die vereistes nie. Ons het tydelike maatreëls in werking gestel, maar dit hou heelwat risiko in. Die opeenhoping op die lughawe raak die lughawe se lisensie en sy voldoening aan internasionale beste praktyke,” het hy bygevoeg.

Aochamub het beklemtoon die tydelike maatreëls om die omstandighede op Hosea Kutako te verlig, word ook by Windhoek se Eros-lughawe benodig.

“Eros voldoen ook nie aan die standaarde nie en dáár is ook ernstige kwessies.”

Wat kommer oor die saamgooi van algemene lugvaart- en internasionale passasiers op Hosea Kutako betref, sê Aochamub die lynministerie het voorgestel alle binnelandse passasiers word na Eros verskuif, maar het bygevoeg dit is nie ‘n oplossing nie en sal probleme net vererger.

Al is geld in die begroting vir die opgradering van die aanloopbaan by Eros-lughawe beskikbaar gestel, sê Aochamub dit kan nie gedoen word alvorens Hosea Kutako uitgebrei is en aan standaarde voldoen word nie.

Hy het verduidelik terwyl die aanloopbaan opgegradeer word, sal binnelandse vlugte na Hosea Kutako verskuif moet word. Dit sal egetr verdere druk op dié internasionale lughawe plaas.

“Ons moet Hosea Kutako eers regstel, dan alle binnelandse vlugte daarheen verskuif en dán eers kan Eros se aanloopbaan herstel word. Ons het geen ander keuse nie.”

Wat die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie (ICAO) se ouditering van Hosea Kutako in November betref, sê Aochamub die organisasie het ongeveer twee weke gelede ‘n skyn-ouditering voltooi waarin verskeie areas geïdentifiseer is waar verbeteringe nodig is.

“Indien ons dit verbeter, sal ons in ‘n goeie toestand verkeer.”

Een van die kwessies wat geopper is, is die feit dat internasionale en binnelandse passasiers op die lughawe saam hanteer word.

Aochamub het verduidelik passasiers op binnelandse vlugte van gasteplase, wat nie deursoek is en toegelaat is om verder te reis nie, kom in kontak met “steriele” internasionale passasiers.

Hy sê passasiers van binnelandse vlugte kan moontlik in die besit van vuurwapens en wildprodukte wees wat hulle aan passasiers van internasionale vlugte kan oorhandig.

Volgens internasionale vereistes behoort passasiers die eindpuntgebou binne 45 minute ná hul aankoms te bereik en deur te gaan. By Hosea Kutako neem dit tans langer as twee ure.

Die uitbreidingsplanne sluit 12 bykomende vertrektoonbanke in, wat beteken daar sal altesaam 26 toonbanke wees.

Agt sekuriteitspunte sal ook by die bestaande twee gevoeg word, en drie bykomende paspoortbeheerpunte sal bygevoeg word sodat daar altesaam 30 is.

Een punt om bagasie in te teken en twee ander beheerpunte sal ook bygevoeg word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!