Planne vir ononderbroke voorsiening van stapelkos
Planne vir ononderbroke voorsiening van stapelkos

Planne vir ononderbroke voorsiening van stapelkos

Planne is beraam om seker te maak Namibiërs ervaar nie binne die volgende ses maande ‘n tekort aan mielie- en koringmele, groente en vrugte nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Namibiese Akkerbouraad (NAB) sê dit het maatreëls getref om die ononderbroke beskikbaarheid van stapelvoedsel in Namibië in die komende ses maande te verseker.

Boonop sal Namibiese produsente in dié tydperk genoeg mahangu vir plaaslike vraag produseer, terwyl daar ‘n baie klein hoeveelheid wit mielies ingevoer sal moet word, om aan die vraag te voldoen.

Planne om genoeg koring, groente en vrugte vir Namibiërs in te voer, is ook reeds beraam.

Die Akkerbouraad se uitvoerende hoof, dr. Fidelis Mwazi, sê die raad, asook die akkerbou- en tuinboubedryf se maatreëls sluit in dat meulens kontrakte met verskaffers gesluit het om ‘n konstante vloei van grane soos witmielies, koring en mahangu te verseker.

Die Akkerbouraad sê na verwagting sal die plaaslike vraag na witmielies oor die volgende ses maande 70 000 ton wees, terwyl daar plaaslik 64 039 ton verkry sal kan word. Enige tekorte sal deur invoere vanuit Suid-Afrika aangevul word.

Na verwagting sal formele markte oor die volgende ses maande 1 800 ton mahangu benodig. Oesverwagtinge vir Namibiese produsente oor die volgende ses maande is 1 823 ton – ‘n aanduiding dat plaaslike produksie voldoende behoort te wees.

“Enige tekorte sal aangevul word deur invoere vanaf Indië.

“Goeie reënneerslae in die meeste mahangu-produserende gebiede beteken ‘n goeie oes word verwag, wat sal help met verligting van voedseltekorte op huishoudelike vlak,” sê Mwazi.

Wat koring betref, sal die plaaslike vraag daarna oor die volgende ses maande na verwagting 59 861 ton wees. Plaaslike produsente sal waarskynlik slegs 265 ton kan produseer en aan prosesseerders bemark.

“Daarom verwag ons om 59 596 ton koring in die tyd in te voer – hoofsaaklik vanaf Rusland, Pole en Suid-Afrika,” het Mwazi gesê.

Die Akkerbouraad sê wat vars groente en vrugte betref, is die verwagte vraag 48 580 ton oor die volgende ses maande. Namibiese produsente sal na verwagting 22 042 ton self produseer en die tekort sal van hoofsaaklik Suid-Afrika ingevoer word.

Die Akkerbouraad sê hulle verwag nie logistieke- of vervoeronderbrekings nie, alhoewel daar vertragings mag voorkom.

Die raad het ook met die bedryf geskakel om seker te maak pryse vir die produkte bly bekostigbaar tydens die krisis. Pryse by handelaars sal ook gemonitor word vir skielike prysstygings.

Die raad sê sy personeel is 24 uur per dag by grensposte beskikbaar om die nodige beheer en inspeksies te doen, terwyl personeel wat vervoerpermitte vir akkerbou- en tuinbouprodukte uitreik, ook op weeksdae tussen 08:00 en 17:00 beskikbaar is.

“Meulens word aangemoedig om seker te maak daar is genoeg voorrade van stapelvoedsel in hul silo’s en pakhuise beskikbaar sodat kos ononderbroke verskaf kan word,” het Mwazi gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer