Plant groente vir 'n beter lewe
'n Man in die Goreangab- informele nedersetting met 'n passie vir landbou het 15 huishoudings geïnspireer.
Tanja Bause – Mnr. Jesaja Shipingana (40) is 'n man met 'n passie vir plant, landbou, voedselsekuriteit, volhoubaarheid en om selfversorgend te wees.
Hy het in 2017 in Windhoek se informele nedersetting Goreangab begin om mense in sy gemeenskap aan te moedig en te inspireer om met hul eie groentetuine op hul erwe te begin.
Vandag is daar meer as 15 sinkhuise met hul eie tuine waar onder meer spinasie, bone, soetrissies, groen rissies, patats, soetpatats, tamaties en mielies geplant word. Vrugtebome soos koejawel, lemoen, mango en appel word ook geplant.
Shipingana se liefde vir landbou is op skool in die Erakana-nedersetting in die verre noorde van die land gekweek.
“Ek het in graad 9 'n landbou-onderwyser van die Caprivistreek (nou Zambezi) gehad wat so baie inheemse kennis van landbou gehad het en die liefde vir plant in my gesaai het.”
Hy het nog altyd 'n tuin by sy huis gehad.
”Ek is passievol oor my tuin. Wanneer ek kwaad, moeg óf gestres is, gaan ek na my tuin. Plante hou daarvan as jy met hulle gesels en ek sit in my tuin en praat met hulle tot ek beter voel.”
Volgens Shipingana kan die Goreangab Backyard Gardening – Fighting Food Insecurity-projek baie goed doen en verandering in die land bring.
“Kyk net na wat die mense in Goreangab vermag het. Hulle het self met pikke en grawe in die klippe 'n tuin gemaak en met sand opgevul. Die waterput is op 'n ander koppie – sowat 150 m verder – geleë, maar dit keer niemand nie. Ek het daagliks 34 dromme met 25 liter water vir my tuin aangedra. Ek het onlangs 'n tuinslang gekoop en dit maak my lewe baie makliker, maar baie van die ander tuiniers dra nog steeds daagliks hulle water aan.”
Shipingana het briewe aan verskeie mense in die regering en die Windhoekse munisipaliteit geskryf en hulle uitgenooi om die projek te kom besoek.
“As ons grond vanaf die regering of munisipaliteit kan huur om tuine aan te lê, kan ons selfversorgend word en voedselsekuriteit bevorder en ons kan armoede, wanvoeding en hongersnood bekamp. Ons kan werk verskaf en geslagsgeweld bekamp. Wanneer mense die hele dag op die landerye werk, sal hulle te moeg wees om nog te wil baklei. Mense is gefrustreerd. Daar is niks om te eet nie, daar is niks om te doen nie; daar is net niks nie. Gee ons grond om te huur en ons kan 'n verskil maak.”
Hy het meer as 'n maand later nog geen antwoorde op sy briewe en uitnodigings ontvang nie.
“Niemand het eers gesê dat hulle die uitnodiging ontvang het nie.”
GEMEENSKAP
Mnr. Joseph Nghivafe (40) spog ook met 'n tuin rondom sy sinkhuis.
“Ek het vir Jesaja dopgehou en besluit dit is iets wat ek ook kan doen. Ek het hom genader en hy het vir my gehelp en geleer. Ek het 'n appel geëet en besluit om die pitte te saai en nou het ek talle appelbome op my erf. Ek het ook ander saailinge soos papaja, koejawel, lemoen en moringa wat ek verkoop. Ek is nie 'n opgevoede man nie, graad 8 is my laaste skooljaar, maar ek kan kos kweek en my familie onderhou,' het hy gesê.
Mnr. Hendrik Gabriel (33) plant nie net groente nie, maar ook blomme en struike omdat hy van plante hou.
“Hier is baie jeugdiges wat kan werk en groente plant. Ons vra die regering vir grond om dit te kan doen. Ons soek nie grond van hier tot in Tsumeb nie, ons soek net 'n paar hektaar. Ons kan die land bewerk en diegene wat nie produseer of werk nie moet gaan en ander kan in hul plek kom. Ek verkoop my groente aan die mense van die omgewing teen baie goedkoop pryse omdat hulle almal hier rond nie baie geld het nie,” het Gabriel gesê.
“As ons dit op die klipperige berg sonder die regte gereedskap kan doen, dink net want ons kan doen as ons die kans gegun word,” het Shipingana gesê.
– [email protected]
FOTO
Die tuiniere mnre. Hendrik Gabriel, Jesaja Shipingana, Joseph Nghivafe en me. Maria Phillipus by die tuin van Gabriel in die Goreangab informele nedersetting. Foto Tanja Bause

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie