Plastiek: Die nuwe vloekwoord

In Okahandja word plastieksakke herwin en kry ’n tweede lewe in onder meer meubels of pype.
Tanja Bause
Tanja Bause – Al hoe meer winkels vra ‘n bedrag vir plastiekinkopiesakke.

Al hoe meer mense en organisasies dring aan op ‘n verbod op plastieksakke.

“Die plastieksak is nie die probleem nie - die mens is.” So sê mnr. Nico du Plessis, die besturende direkteur van Plastic Packaging (PP).

“Ons gooi die sak op die vloer neer, ons gooi die bottel by die venster uit, ons los ons rommel op die stand agter.

“Die mooi van plastiek is dat ons dit weer en weer kan gebruik. Die verbied van plastiek sal nie die probleem oplos nie; herwinning en hergebruik sal wel.”

Dit is waar Namibia Polymer Recyclers (NPR) op Okahandja in die prentjie kom. Die maatskappy koop plastieksakke van Rent-a-Drum, asook van mense wat op die asgate plastieksakke bymekaarmaak, en pers dit in bale. NPR koop ook die afvalplastiek van PP wat gedurende die maak van die verskillende produkte ontstaan.

Volgens mnr. Johan Oosthuizen, die bestuurder van NPR, verdien mense wat sonder inkomste was, nou geld uit plastieksakke.

“Die mense maak die plastieksakke by die stortingsterreine bymekaar. Ons kom weeg hulle en betaal volgens gewig die mense. Hulle is ook die eerste sorteerders. Veral hier by die asgate op Okahandja het ons baie vroue wat uit die versameling van die sakke ’n bestaan maak. Die vroue is baie goed met sorteer. Hulle sit soort by soort, wat ons werk hier by die fabriek dan ‘n bietjie makliker maak,” sê Oosthuizen.

Wanneer die plastiek by die fabriek aankom, word dit sorteer en kleiner gesny. Dit word dan gewas, gedroog en nog kleiner gesny. Die plastiekstukkies word weer gewas en die herwinbare materiaal word van die nie-herwinbare materiaal geskei.

“Plastiek dryf bo-op die water en enige ander materiaal soos sand of metaal wat ons nie kan herwin nie, sink tot op die bodem. Die plastiek word dan droog gemaak. Die droër word met biobrandstof aangedryf. Die plastiek moet kurkdroog wees voordat dit in die volgende masjien geplaas word waar dit gesmelt word en uiteindelik in korrels gesny word. Die korrels word dan weer verkoop om allerhande items te vervaardig. So kry die gewone plastiek sak ’n tweede lewe. As hy weer op die ashoop beland en terugkom na ons toe, sal hy weer en weer herwin word,” sê Oosthuizen.

(Op Republikein se Facebook-blad is ’n video van die hele proses te sien)

Die plastiekkorrels word aan PP verkoop wat dit gebruik om onder meer die swart Star-asdromsakke, houtsakke en inkopiesakke te vervaardig, asook die swart plastiek wat in die bou- en landboubedryf gebruik word.

Die korrels word ook aan maatskappye in Suid-Afrika en Namibië verkoop wat onder meer meubels, droppers (sparre), landboupype en selfs bakstene uit plastiek vervaardig.

“Enige produk wat nie met voedsel in aanraking kom nie, kan uit die herwinde plastiek gemaak word,” sê Oosthuizen.

Volgens Du Plessis maak die herwinde plastiek baie nuwe deure vir entrepreneurs oop. “Mense kan nou vorendag kom met idees oor hoe om die plastiek te gebruik. Soos die vervaardiging van landboubesproeiingspype of die plastiek-droppers vir die boere. Die voordeel van die droppers is dat hulle nie deur termiete opgevreet sal word nie en dat ’n veldbrand hulle nie sommer sal vernietig nie.”

Die kapasiteit van die herwinningsaanleg is 2 000 ton per maand.

Alle plastiek wat nie meer herwin kan word nie, word fyngesnipper en na Ohorongo Cement by Otavi gestuur waar dit gebruik word as ’n plaasvervanger vir houtskool of houtskaafsels om die oond te verhit.

“Plastiek brand baie warmer as hout. Dus gebruik hulle minder plastiek om dieselfde hitte te genereer as met hout,” sê Du Plessis.

Een ton herwinde plastiek spaar 5,774 kWh energie, 2 604 liter olie en 22 m³ meter ruimte op ’n stortingsterrein.

Volgens Du Plessis moet munisipaliteite en dorpsrade verantwoordelikheid neem vir plastiek wat van ’n stortingsterrein af wegwaai.

“Hulle moet heinings met doringdraad om alle stortingsterreine sit sodat die plastieksakke teen die drade vaswaai en nie in die veld in nie. Die sakke kan dan van die draad afgehaal, bymekaargemaak en herwin word.

“Mense moet ophou rommel strooi. Dit is nie die plastieksak se skuld dat hy iewers in die veld rondlê nie - óf ‘n mens het hom weggegooi óf die munisipaliteit het nie die infrastruktuur by sy stortingsterrein om hom daar te hou nie,” sê Du Plessis.

Volgens hom beplan die Omgewingsbeleggingsfonds van Namibië (EIF) en die ministerie van die omgewing en toerisme ’n 50 sent-heffing per plastieksak te implementeer. Dié geld sal na die EIF gaan.

“Ek hoop net die geld sal dan gebruik word om infrastrukture te skep sodat mense ordentlik en reg van plastiek ontslae kan raak en ons dit kan herwin. Dit begin met genoeg beskikbare asdromme, moet wees, heinings by stortingsterreine, en opleiding vir die gemeenskap sodat hulle nie meer rommel rondgooi nie, maar op verantwoordelike maniere daarvan ontslae te raak,” sê Du Plessis.

Op die oomblik word net plastieksakke, -verpakkings, -asdromme, kratte en pype by NPR herwin.

“Ons kan nie die harde koeldrankbottels herwin nie,” sê Oosthuizen. “Dit is ’n heel ander proses. Die bottels word tans gepers en Suid-Afrika toe gestuur waar dit herwin word. Ons is eintlik nog ’n baie jong herwinningsmaatskappy. Ons ondersoek moontlikhede om uit te brei en ook die koeldrankbottels in die toekoms te kan herwin.”

PLASTIEK- OF PAPIERSAK?

Die oortuiging dat papier beter as plastiek is, is nie op wetenskap of feite gebaseer nie.

Baie mense glo dat papiersakke baie meer omgewingsvriendelik is omdat dit van ‘n hernubare hulpbron gemaak en bioafbreekbaar is, en herwin kan word.

Studie na studie het bewys die gewone plastieksak is beter vir die omgewing omdat dit ’n baie kleiner koolstofvoetspoor as papier het. In vergelyking met papiersakke is die vervaardiging van plastieksakke minder hulpbronintensief en het ’n laer aardverwarmingspotensiaal. Relatief klein hoeveelhede energie en grondstowwe word benodig om plastieksakke te vervaardig, wat dit beter vir die omgewing maak as alternatiewe soos papier- of herbruikbare katoensakke. Die produksie van katoen, byvoorbeeld, met sy hoë gebruik van plaagdoders en water het ‘n negatiewe impak op die omgewingsvoordeel van die katoensakke. ’n Katoensak moet 173 keer gebruik word om so omgewingsvriendelik soos ’n plastieksak te wees wat net een keer gebruik word.

“Mens moet ook voedselsekuriteit in gedagte hou. Nou verbied ons alle plastiek en vervang dit met katoen of papier. Dit beteken dat ons baie meer katoen en bome moet aanplant om die aanvraag te kan bevredig. Meer katoenlande beteken minder lande waarop voedsel geplant kan word,” sê Du Plessis.

Plastieksakke is in die laat 1970s uitgedink as ’n alternatief vir papiersakke om bome en woude te beskerm. Plastieksakke is 'n neweproduk van natuurlike gasontginning en bied 'n omgewingsoplossing vir die verbranding van hierdie gas tydens die verfyningsproses.

Ongeag die sak wat gebruik word, is die sleutel tot die vermindering van sy omgewingsimpak om dit soveel as moontlik te hergebruik.

Papiersakke kan nie soveel kere hergebruik word nie omdat dit nie waterdig is nie en maklik skeur. Plastieksakke word dikwels in kombuise as afvalsakke vir ’n tweede keer gebruik voordat dit weggegooi word, en op stortingsterreine beland en herwin word.

Papierinkopiesakke dra meer volume en tonne tot die afvalstroom by. Die korreleer direk met beduidende toenames in die hoeveelheid uitlaatgasse wat vervaardig word om die papier te vervoer. ’n Gewone papierinkopiesak weeg omtrent 50 gram terwyl ’n plastieksak ses tot agt gram weeg. Sewe vragmotors word gebruik om twee miljoen papiersakke te vervoer, teenoor die een vragmotor wat twee miljoen plastieksakke kan vervoer.

Du Plessis en Oosthuizen se boodskap is: “As Namibiërs moet ons saam hergebruik, verminder en herwin, dan kan ons ’n verskil maak.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!