Plastiek is toe nie nét sleg
Riana de Lange– Die regte plastiekverpakking kan die raklewe van beesvleis met tot ses dae verleng, en slegs 1,5 g se kleefplastiek kan ’n komkommer vir 14 dae vars hou, pleks van drie dae daarsonder.
Internasionale navorsing toon ook 27% minder appels word weggegooi as dit in ’n plastiek-vrugteskinkbord verpak word as wanneer dit los verkoop word.
Omgewingsbewustes en organisasies soos die Wêreldnatuurfonds waarsku egter dat plastiekbesoedeling so erg is dat daar teen 2050 meer plastiek (volgens gewig) in die see kan wees as vis.
’n Geraamde 3% van die wêreld se plastiekafval beland elke jaar in die see. In 2010 het die plastiek in die see reeds sowat 8 miljoen ton beloop, luidens ourworldindata.org.
Kenners sê egter plastiekverpakking is noodsaaklik vir voedselbewaring. Eise om weg te doen met alle plastiekverpakking vir kos om die omgewing te bewaar, moet dus omsigtig benader word.
Dr. Suzan Oelofse, ’n WNNR-navorser oor voedselvermorsing, sê ’n geraamde 10 miljoen ton eetbare kos word jaarliks in Suid-Afrika vermors.
Die plastiekverpakking van piesangs absorbeer etileen (die verouderingshormoon) om die raklewe te verleng en is een voorbeeld van hoe verpakking ’n groot rol speel in die beskerming van voedsel tydens verspreiding en uitstalling, sê sy.
Plastics SA, wat alle sektore van die plaaslike plastiekbedryf verteenwoordig, sê benewens dat plastiek help om talle produkte langer vars te hou, beskerm dit produkte tydens die vervoer-en-stoorproses, en teen bakterieë en temperatuurveranderinge. Volgens Plastics SA is plastiekverpakking verantwoordelik vir net 0,6% van verbruikers se gemiddelde koolstofvoetspoor.
Monya Vermaak, woordvoerder van Plastics SA, sê die wetenskaplike feite oor plastiek is belangrik omdat sommige anti-plastiek-aansprake nie op geloofwaardige navorsing gegrond is nie, maar paniek probeer stook.
Plastics Europe het in 2018 bevind die regte plastiekverpakking kan die raklewe van vars produkte in baie gevalle verdriedubbel. So is die verlies in die winkel aan druiwe en bessies wat in plastiek-vrugteskinkborde of sakkies verkoop word, 20% minder as wanneer dit los verkoop word.
Die breekskade van eiers in plastiekhouers is 80% laer as met alternatiewe verpakkingsmateriaal.
Vermaak sê omdat plastiek dieselfde chemiese samestelling het ongeag waar in die wêreld dit gebruik of vervaardig word, is die data ewe toepaslik vir Suid-Afrika. Plaaslik werk Plastics SA saam met die WNNR om navorsing op kleiner skaal te doen.
Oelofse sê plaaslike studies wys meer as 50% van kosvermorsing vind in huishoudings plaas en sowat 20% gedurende die verwerkingsproses. Dit is hier waar plastiekverpakking ’n belangrike rol kan speel.
Baie anti-plastiek-kampvegters sê kos wat hul eie natuurlike beskerming het, kan maklik vervoer word sonder die nodigheid vir enkelgebruik-plastiekverpakking.
Oelofse sê navorsing wys egter dís net in gevalle waar vars produkte nie ver vervoer moet word nie en waar daar min tussengangers is.
Hoewel boeremarkte, gemeenskapsgegronde produsente en mandjie-aflewerings help om vars, onverpakte produkte by verbruikers te kry, is die uitdaging om dit op ’n groot skaal en steeds ekonomies lewensvatbaar te doen, sê Oelofse.
Die Europese navorsing toon ook die verpakking van kos in enigiets anders as plastiek maak dit tot 360% swaarder.
Dít lei dus tot hoër energieverbruik en die vrystelling van meer kweekhuisgasse in die vervoer daarvan. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie