• Tuisblad
  • Sake
  • Plastiek: SA maatskappye nou deel van wêreldpakt
Plastiek: SA maatskappye nou deel van wu00eareldpakt
Plastiek: SA maatskappye nou deel van wu00eareldpakt

Plastiek: SA maatskappye nou deel van wêreldpakt

Luidens die verklaring is die idee om 'n kring-ekonomie vir plastiek te skep, wat beteken alle plastiekprodukte word hergebruik.
William Horne - Te midde van 'n wêreldwye uitkringende plastiekkrisis het talle Suid-Afrikaanse maat­skappye en instellings die mees ­ambisieuse pakt nóg gesluit om plastiek­besoedeling hok te slaan.

Die SA Plastiekpakt sluit aan by die internasionale ­Plastiekpakt-netwerk en is ontwikkel deur die Wêreld­natuurlewefonds (WWF SA) in vennootskap met die Suid-­Afrikaanse plastiekherwinningsorganisasie (Sapro) en die Britse organisasie sonder winsbejag Wrap (Waste & ­Resources Action Programme).

Navorsing van die Britse Ellen Mac­Arthur-stigting, wat hom beywer vir die bekamping van plastiekbesoedeling, wys dat agt miljoen ton plastiek jaarliks in die oseane beland.

As dinge so voortduur, sal daar teen 2050 per gewig meer plastiek in die oseane wees as visse.

Die WWF sê Dinsdag in 'n verklaring die dreigende plastiek-ramp vereis onmiddellike samewerking om die manier waarop die wêreld plastiek gebruik, te verander.

Die SA Plastiekpakt betrek reeds 30 maatskappye en instellings en is op 30 Januarie amptelik van stapel gestuur.

Hulle verbind hulle tot teikens om die ganse waardeketting van plastiek op sy kop te draai. Hulle onderneem om teen 2025:

• 100% van hul plastiekverpakkings herwinbaar, herbruikbaar of as kompos bruikbaar te maak;

• 70% van plastiekverpakkings te herwin;

• Gemiddeld 30% van alle plastiekverpakkings met herwinde plastiek te vervaardig; en

• Weg te doen met onnodige plastiekverpakking.

Luidens die verklaring is die idee om 'n kring-ekonomie vir plastiek te skep, wat beteken dat alle plastiekprodukte hergebruik word sodat plastiekafval geëlimineer word. Herwinning is klaar op dreef in Suid-Afrika, maar 'n kring-ekonomie behels meer as herwinning. Produkte moet ontwerp word sodat plastiek meer waarde het en dit dus nie ekonomies sin maak om plastiek weg te gooi nie.

Aangesien die herwinning van ­plastiek nie 100% doeltreffend is nie, is die eerste prys om die gebruik van plastiek so ver moontlik te vermy. Eers daarna is die prioriteit om minder plastiek te gebruik, dit te hergebruik, en laastens om dit te herwin.

Deur maatskappye in elke deel van die waardeketting te betrek, glo SA Plastiekpakt dit is haalbaar om 'n kring-ekonomie vir plastiek in Suid-Afrika te behaal.

Dit beteken ook dat poste in die proses geskep sal word, sê Lorren de Kock, projekbestuurder van WWF SA.

“Die beste manier om plastiek uit die omgewing te hou, is om dit te waardevol te maak,” sê Johann Conradie, voorsitter van Sapro.

“As produkte goed ontwerp is en daar voldoende vraag daarna is, weet ons dat die Suid-Afrikaanse on­dernemingsgees sal intree om te verseker dat dit 'n volhoubare tuiste vind. Daarom is die teikens soos dié van die SA Plastiekpakt so belangrik – om die ontwerp van produkte as herbruikbaar of herwinbaar aan te moedig, en om die gebruik van herwinde inhoud in nuwe produkte aan te wakker.”

– Netwerk24

Hierdie maatskappye het die pakt onderteken:

• Clicks

• Coca-Cola Afrika

• Danone

• Distell

• HomeChoice

• Massmart

• Myplas

• Nampak Rigids

• Pick n Pay

• Polyoak

• Polyplank

• Shoprite

• Spar

• Spur

• TFG

• Tigerbrands

• Tuffy

• Unilever

• Addis

• Waste Plan

• Woolworths

Ander organisasies wat dit ondersteun is:

• Fruit South Africa;

• Sapro;

• Die poli-alkeen-verantwoordelikheidsorganisasie;

• Die Polistireenvereniging van Suid-Afrika;

• Die PET-herwinningsonderneming;

• Die Suider-Afrikaanse vinielvereniging;

• Die Instituut vir Afvalbestuur van Suider-Afrika;

• Die departement van omgewing­sake, bosbou en visserye; en

• Die Kaapstad-metro.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!