Plastiek-staking raak gewelddadig
Plastiek-staking raak gewelddadig

Plastiek-staking raak gewelddadig

Francois Williams – Die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika (Numsa) kan hom ’n boete van R1 miljoen op die hals haal en Irvin Jim, hoofsekretaris van die vakbond, kan weens minagting van die hof met R100 000 beboet word.

Dit spruit uit die staking van Numsa-lede in die plastiekbedryf wat gewelddadig geraak het. Talle fabrieke oor die land heen waar plastiek verwerk word, het onder die geweld deurgeloop en hulle loop nou die gevaar om permanent te sluit, wat tot die verlies van honderde en selfs duisende werkgeleenthede kan lei, het die Plastiekverwerkingsvereniging van Suid-Afrika (PCASA) Maandag in ’n verklaring gewaarsku.

’n Hofaansoek is op 19 Oktober in die arbeidshof aan die PCASA toegestaan om stakers te dwing om hulle te weerhou van gewelddadigheid en intimidasie tydens die landwye staking by meer as 450 maatskappye.

Volgens die PCASA het stakers egter daarna “in opdrag van Numsa se topbestuur” hul geweldsoptrede verskerp met aanvalle op werkgewers en werknemers in “uiterste minagting” van die arbeidshof se interdik.

In reaksie daarop het die PCASA ’n aansoek by die arbeidshof ingedien oor Numsa se minagting van die hof. Die saak sal op 1 Februarie volgende jaar voorkom.

As Numsa nie goeie redes kan verskaf vir waarom die tussentydse bevel nie ’n permanente bevel gemaak moet word nie, kan die vakbond met R1 miljoen beboet word, en die vakbondleiers kan boetes van R100 000 elk of gevangenisstraf opgelê word.

Die loononderhandelings het reeds misluk nadat die partye nie verlede week tot enige vergelyk in die dispuut kon kom nie. Ná die gewelddadige optrede het werkgewers die gesprekke opgeskort en hulle sê hulle sal nie na die onderhandelingstafel terugkeer totdat alle geweld en intimidasie stopgesit is nie.

Johan Pieterse, uitvoerende hoof van die PCASA, sê die bedryf sukkel reeds weens goedkoop invoer uit die Ooste, hoë kragpryse en ander bedryfs- en arbeidskoste. “Die verliese wat gely is weens die staking kan vernietigend vir die bedryf wees.”

Numsa kla op sy beurt oor die plastiekonderneming Mpact wat by sy perseel in Pinelands, KwaZulu-Natal, ’n private veiligheidsmaatskappy gehuur het wat verlede week met rubberkoeëls op Numsa-lede geskiet het.

Numsa het gevra hoe Mpact en ander werkgewers geld het om private veiligheidsmaatskappye te huur, maar hulle wil nie ’n loonverhoging aan werkers toestaan nie.

Numsa het op 10 Oktober gesê meer as 10 000 Numsa-lede sal aan die staking in die plastiekbedryf deelneem. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer