Plastiekfabriek verduidelik oor gaslekkasie
Plastiekfabriek verduidelik oor gaslekkasie

Plastiekfabriek verduidelik oor gaslekkasie

Francois Williams – Die plastiekvervaardiger Safripol ontken dat hy vroeër vanjaar die gemeenskap in Durban-Suid, wat deur ’n gaslekkasie in sy aanleg geraak is, in die steek gelaat het.

Die maatskappy ontken voorts sprake van ’n chemiese brand in die aanleg op 16 Augustus, en het dit as ’n damplekkasie en ’n gepaardgaande stoomwolk beskryf.

Safripol het ná die voorval boonop agt weke lank ’n mobiele kliniek in die omgewing gehad en die vervoerkoste na die hospitaal betaal van alle inwoners wat deur die besoedeling geraak is.

Die vervaardiger se verweer kom ná aantygings deur die Durban-Suid-gemeenskapsomgewingsalliansie (SDCEA) wat beweer dat dit die tweede voorval binne ’n maand was en dat inwoners wat daardeur geraak is, die minimum steun ontvang het.

Gavin van der Merwe, bestuurder vir beleggersverhoudinge en volhoubaarheid by KAP Industrial, beheergroep van Safripol, het ontken dat daar meer as een voorval in Augustus was waarin gas gelek het.

Volgens hom het Safripol betaal vir ’n mobiele kliniek waar mense behandel is en ambulanse wat geaffekteerdes na hospitale geneem het. Onafhanklike spesialiste in omgewingsbesoedeling en toksikologie het studies gedoen en glo bevind dat die uitgelekte gasse nie enige chroniese gesondheidsimpak het nie.

In die twee maande sedert die lekkasie is 1 668 inwoners na hospitale en klinieke, waarna die meeste ná behandeling huis toe is. Van die sewe mense wat wel in die hospitaal opgeneem is, is almal behalwe een binne ’n dag of twee ontslaan. Een persoon het wel twee weke later gesterf, maar volgens medici was dit weens ’n chroniese lewensbedreigende toestand wat hy reeds voor die lekkasie gehad het. Vier van die ander ses was volwassenes wat ook reeds vroeër aan longtoestande gely het, en twee was kinders wat reeds aan lugwegtoestande soos asma gely het.

Volgens Van der Merwe het Safripol reeds soos voorgeskryf al die nodige verslae oor die voorval aan die nasionale en plaaslike regerings, asook aan die departemente van arbeid en omgewingsake gelewer.

Nico van Niekerk, uitvoerende hoof van Safripol, het verduidelik dit was nie “Dowtherm” wat in die lug vrygestel is nie, maar Therminol VP1. Hy ontken bewerings deur die SDCEA dat aktiviste die fabrieksperseel belet is.

Hy ontken ook die SDCEA se bewering dat die maatskappy nie vir slagoffers se medikasie wil betaal nie. Safripol het tot op datum reeds meer as R750 000 bestee aan medikasie en steun aan die plaaslike gemeenskap weens die lekkasie, en kan volgens hom nie vir die medikasie en dienste aan mense met voorafbestaande gesondheidstoestande verantwoordelik gehou word nie. Dit is waarvoor openbare gesondheidsdienste beter geskik is.

Van Niekerk ontken ook die SDCEA se bewering dat leerlinge en onderwysers van die Umbilo Secondary School geraak is of dat die skool vroeg moes sluit, aangesien die gaslekkasie laat op ’n Vrydagmiddag was toe die skole reeds gesluit was.

Volgens hom is die nodige stappe gedoen om te keer dat ’n soortgelyke lekkasie weer plaasvind. ’n Foutiewe klep het die lekkasie glo veroorsaak. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer