Platteland se perdepassie

Vir inwoners van die Rehoboth-distrik is hul perde ’n saak van erns, en soos Suiderland op 1 Julie self gesien het, is dié stokperdjie nie perdekoop nie.
Yochanaan Coetzee
Yochanaan Coetzee - "Dit verg aandag, liefde en toewyding. Dan kan jy wondere verrig, maak nie saak hoe opreg of volbloed jou perde is nie,” sê mnr. Dawid Engelbrecht, ’n ervare perdemens en perdesportentoesias.
Hoewel baie van die deelnemers aan Schlip Perdesportklub se onlangse tweede byeenkoms halfbloed- of sogenaamde Bossiekop-perde ry, was die toeskouers ’n aanduiding van die prestige wat op die baan nagejaag word.
“Daar is groot belangstelling in ons streek,” sê mnr. Frederick Mouton, die voorsitter van die perdesportklub. “Van die ou mense tot die kinders sien uit na hierdie byeenkomste en ons sien hoe die gehalte van die perde en die joggies verbeter.”
Die eerste byeenkoms vanjaar, op 7 Mei, was ’n reusesukses en het dit die saal-gek-joggies die geleentheid gegee om met ’n parade deur die dorp ‘n bietjie te spog.
“Wat vir ons so gelukkig maak, is om jong mense hier te sien. Nie net langs die baan nie, maar besig met die perde. Jy sien sommer hoe hulle uitsien na hulle kans in die saal,” sê Mouton.
Wat hom verder verbly, is die teenwoordigheid van perde van onder meer Rehoboth en Tsumis, al is twee ander perdesportbyeenkomste, insluitend die groot Rehoboth July Handicap, ook daardie dag gehou.
Een van die perde wie se naam op almal se lippe was, is Royal Defender – ’n jong halfbloedmerrie wie se reputasie haar by byeenkomste vooruitloop.
Sy en Vrrrpha was Engelbrecht se twee inskrywings op die dag en hoewel Vrrrpha nog baie afronding kort, is Royal Defender ’n pragtige dier om te aanskou.
“Sy is ons trots. Sy mag klein lyk, maar sy het al baie groter en meer opregte perde verras,” sê oom Hiets, soos Engelbrecht bekend is.
Hy sê sy liefde vir perde het hy by sy pa geërf, en sê dit is spesiaal om dit nou met sy kinders te deel.
“Perde verg tyd en aandag, so ek is baie bevoorreg dat, al het hulle bietjie dorpsjapies geword, my kinders só lief is vir ons perde, en al is ek nie daar nie, hoef ek nie bekommerd te wees nie,” sê hy.
Net voor die resies was die opwinding en die spanning reeds ewe veel en die joggies druk besig om vir aksie gereed te maak.
Een van hulle, mnr. Willow Olivier, kort ná ’n oorwinning in die 400 m, sê sedert hy die eerste keer aan ’n wedloop deelgeneem het op die ouderdom van nege, droom hy daarvan om ’n professionele joggie te word.
“Ek het grootgeword met perde en hulle is my eerste liefde en my lewe,” sê Olivier wat sy huidige perd vir sy 21ste verjaardag gekry het.
“Selfs toe ek moes wegtrek vir werk, was ek net nie gelukkig sonder my perde naby my nie. Ek het toe besluit om terug te kom Schlip toe en hoewel ons ons perde op die plaas hou, moet ek ten minste een hier op die dorp by my hou,” sê hy.
Volgende op die program was die 1,2 km-resies, en om ’n lang storie kort te hou, het Royal Defender en haar joggie, mnr. Dawid Kheibeb, ’n riller van ’n resies vir die toeskouers gebied.
Al is ek nie ’n kenner nie, was dit duidelik dat die ander net nie kon byhou nie.
“Sjoe, sy loop lekker,” het Kheibeb gesê terwyl hy sy asem terugkry en sy glimlag probeer keer. “Sy’s net iets anders. Sy is lekker om te ry en wanneer sy aanvoel dat sy op die baan is, is daar min wat haar kan keer.”
Deur die loop van die dag was daar nog baie opwindende resies waarin Royal Defender drie eerste plekke ingepalm het.
“Ons is baie tevrede met die resultate en ook om al die belangstelling te sien. Ons kort nou net borge wat ons kan ondersteun om die sport verder te vat,” het Engelbrecht gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!