Plek van gruwels
Plek van gruwels

Plek van gruwels

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die oorweldigende stank van liggaamsvloeistowwe van liggame wat reeds maande, selfs jare, terug dood is, tref jou reeds op die parkeerterrein voor die polisie se lykhuis in Windhoek.
In 'n kort gang, op pad na die vertrekke waar die lyke geberg word, is aan die regterkant 'n reusevenster waardeur naasbestaandes 'n gestorwe familielid uitgestoot op 'n trollie kan uitken. Die gewone swaaideure, wat nie behoorlik toemaak nie, lei na 'n voorkamer waar twee mense besig is om 'n lyk in 'n wit plastieksak uit die koelkamer te sleep. Geen teken van rigor mortis van die liggaam nie, wel liggaamsvloeistowwe wat 'n vrot sleepspoor maak soos die sak oor die vloer gesleep word. In 'n aangrensende vertrek lê liggame in rye op trollies. Van dié lyke is toegedraai in wit plastieksakke, twee lê steeds in die klere waarin hulle gesterf het, bo-op plastieksakke.
In die koelkamer, waarvan die temperatuur dieselfde as dié van buite is, is drie vlakke waarop lyke opgestal lê, die vloer ingesluit. Van dié lyke is in ligte plastiek toegedraai wat lukraak met kleefband toegeplak is en tot drie-drie op mekaar op die vloer lê. Rooi plastieksakke geoormerk vir mediese afval en met van ledemate tot babalyke baklei in deurmekaar bondels wat op hope gegooi is vir 'n plek in die beknopte ruimte. Sonder waardigheid, sonder respek.
In die een hoek op die vloer staan 'n karton gemerk “fragile” met ? Styrofoam-koelboks binne-in. Bo-op klou nóg 'n karton met ledemate aan 'n rak wat dit met verskeie rooi plastieksakke moet deel. 'n Nat kol onder 'n wit plastieksak verklap ontbinding. In die ander hoek lê lyke opgestapel op teen-mekaar-gedrukte trollies.
In die agt jaar wat hy hier werk, het hy dit nog nooit só erg beleef nie, sê ao. Oscar Shatipamba, hoof van forensiese patalogie by die lykhuis.
Gister was daar 184 liggame, dit terwyl daar eintlik net plek vir 24 is. Van die die lyke lê reeds jare onopgeëis hier. Die langste is dié van 'n man wat sedert 2009 nog nooit deur 'n vriend of 'n familielid opgeëis is nie.
Van hulle se families is laat weet om hulle te kom haal, maar het dit eenvoudig nog nie gedoen nie.
Volgens Shatipamba kan die rede hiervoor 'n gebrek aan geld vir 'n begrafnis wees.
Die lykhuis is die tydelike tuiste vir mense wat aan onnatuurlike oorsake gesterf het. Dit sluit van moord, selfmoord tot motorongelukke in.
Mense wat by hul huis sterf, word ook hier gehuisves totdat 'n dokter en of 'n lykskouing die oorsaak van die dood kan bevestig.
Benewens Windhoek, word liggame uit Okahandja, Rehoboth, Dordabis en Klein-Aub hierheen gebring, terwyl lyke uit die Hardap-, //Kharas- en Erongostreek ook hier gehuisves moet word.
Volgens adj.komm. Jooste Mbandeka word daar nie in die polisie se begroting voorsiening gemaak vir die begrawing van armlastiges nie.
“Die laaste keer wat so 'n begrafnis gedoen is, was in 2012 en wel deur die ministerie van gesondheid se lykhuis.”
Gesondheidsinspekteurs is volgens hom ook 'n rariteit by die lykhuis.
“Die groot vraag is wie is daarvoor verantwoordelik om hierdie mense te begrawe?”
Hy het verwys na regulasie 15 van die Wet op Staatshospitale en Gesondheidsinstellings van 1994 dat sou 'n liggaam nie binne 14 dae opgeëis word nie, “die hoof van die staatshospitaal 'n skrywe kan rig dat dit in die begraafplaas die naaste aan die lykhuis begrawe word”.
Volgens die woordvoerder van die Windhoekse munisipaliteit, me. Lydia Amutenya, het die regering gewoonlik armlastiges in die hoofstad se begraafplase begrawe en was die rekening hiervoor vir dié van die regering.
“Die dienste is dus betaal.” Ná konsultasie met die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste in 2011, het die munisipaliteit begin om onopgeëiste lyke in Oktober 2011 te veras.
“Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste is verantwoordelik vir onopgeëiste liggame en stel daarom 'n begrafnisondernemer aan om die proses te versnel.”
Volgens Amutenya is verassing meer bekostigbaar as 'n teraardebestelling.
“In 'n poging om die ministerie te help om onopgeëiste lyke op 'n waardige manier te begrawe, het die munisipaliteit verassing ingestel as 'n alternatief en bekostigbare manier om iemand te ruste te lê.”
Sy het voorts beklemtoon die hoofstad het 'n tekort aan grond wat 'n tekort aan ruimte vir begraafplase vir toekomstige teraardebestellings insluit. Ook bemoeilik die “harde grondstruktuur in die hoofstad se omtrek” die grawe van grafte.
“Ons wil daarom die lewensduur en die gevolglike gebruik van die huidige begraafplase verleng, omdat dit ook die onderhoudkoste sal verlaag. Die oomblik wanneer die begraafplase vol is, gaan die munisipaliteit steeds voort om dit te onderhou.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!