Plek van ontspanning én ’n tuiste
Die stigter van die Arts Performance-sentrum gee bykans 30 jaar klasse vir minderbevoorregte kinders.
Tanja Bause – Langs die hoofpad buite Tsumeb staan 15 klein, bont huisies waaruit verskillende instrumente se klanke spoel.
Sedert 2004 weergalm die gelag van kinders oor die perseel van die Arts Performance Centre (APC) waar kinders van alle ouderdomme leer musiek speel, dans en skilder. Die sentrum word deur die nie-winsgewende organisasie Namibian Art Performance Centres Association (NAPCA) bestuur.
Alles het begin toe Lis Hidber ’n advertensie in ’n koerant in Switserland gelees het: ’n Sendeling wat in 1992 op Otshikuku gewerk het, het om hulp gevra. Hy het ’n vrywilliger gesoek wat bereid was om vir drie maande op Otshikuku te help by ’n nuwe vroueorganisasie wat daar gevestig is. Hulle het iemand gesoek wat vroue kon leer skilder en die groep in sy geheel kon ophef.
“Ek het die advertensie gesien en gedink dit is iets wat ek graag sou wou doen. Ek het drie maande kom help, maar nou is ek al amper 30 jaar in die land,” sê Hidber.
Toe sy destyds hier aangekom het, het sy nie net vroue gehelp nie, maar ook vir kinders die geleentheid gegee om musiek en kuns te leer.
Ná 11 jaar daar het die musiekonderwysers – Hidber inkluis – weens interne stryery en politiek die sentrum verlaat.
“Ek het toe gedink ek moet teruggaan na Switserland, maar die munisipaliteit van Tsumeb het my genader. Hulle het vir my die grond aangebied sodat ek ’n APC op die dorp kon begin.”
Met die hulp van jongmense uit die gemeenskap is die perseel skoongemaak, ’n tuin aangelê en vier huisies gebou. Dié huisies is deur Switsers en Oostenrykse burgers gefinansier.
“Ek het gedink dit is genoeg en ons kan begin. Maar skaars ’n jaar later het ons nog twee huise gebou. Die gemeenskap moes self sê wat hulle behoefte is. Hulle moes eienaarskap neem. Hulle het na my gekom en gesê hulle wil ook dansklasse neem. Ons het egter nie ’n dansateljee gehad nie, maar toe daar weer geld van oorsee gekom het, het ons een gebou. So het die sentrum uitgebrei.”
Vandag beskik die sentrum oor 17 huisies wat kleurvol versier is. Op elke muur is die instrument geverf wat in die spesifieke kamer aangebied word. Tussen die geboue is goed versorgde tuine. Elke tuin is die verantwoordelikheid van die onderwyser wat langs die tuin klasgee. Die binnehof, met sy bankies onder hoë bome, laat kinders toe om tussen lesse met mekaar te gesels.
Daar is ook ’n groot verhoog waar kinders wat tussen lesse is, onder toesig speletjies kan speel. Daar word elke tweede Saterdag op die verhoog konsert gehou. Alle kinders neem deel en maak musiek, en die gemeenskap is welkom om te kom luister. Boonop is toegang gratis.
“Dit is nie net vir die kinders belangrik dat hulle gehoor word nie, maar ook vir die ouers en voogde om te kom hoor hoe hulle vorder en om te sien wat hulle hier leer en bereik,” het Hidber gesê.
Volgens haar het sy in Otshikuku gesien watter verskil die sentrum in die lewe van die kinders gemaak het. “Baie van die kinders het uit gebroke huishoudings gekom. Vandag het hulle ’n goeie werk en dit gee my die vertroue om voort te gaan. Die kinders staan op hul eie voete en ek het iets goeds gedoen.”
Nadat die APC op Tsumeb geopen het, het al hoe meer kinders na die sentrum gekom. Vandag is daar elke dag gemiddeld 120 studente wat daar lesse neem.
“Aanvanklik was die onderwysers teen die sentrum gekant omdat hulle gevoel het die kinders moet eerder op hulle skoolwerk konsentreer. Maar musiek maak die gedagtes oop. Dit help kinders om beter te konsentreer. Baie vinnig het hulle skoolwerk verbeter en hulle het beter rapporte huis toe geneem.”
Hidbe is drie jaar gelede vir haar ma se begrafnis na Switserland.
“Ek het die straat afgeloop en ’n groep mense het van voor gekom. Ek het hulle vriendelik gegroet soos ’n mens hier in Afrika maak. Hulle het na my gestaar asof ek mal is. Dit is toe ek besef dat dit nie meer my tuiste is nie. Afrika en sy mense is my land en my tuiste. Dit is waar ek hoort.”
Op die oomblik is daar 21 werkers by die APC, van wie 16 musiekonderwysers is. Dit sluit nie die vrywilligers van Oostenryk in nie. Al die musiekonderwysers kom uit die plaaslike gemeenskap en almal was voorheen studente daar.
“APC gee vir kunstenaars die geleentheid om lesse te gee, om verder te leer en baie belangrik: Ons bied hulle ’n inkomste,” het Hidbe gesê.
Kinders wat by die sentrum klasse wil ontvang, moet registrasiegeld van N$50 betaal. Alle klasse daarna is verniet omdat hulle deur oorsese ondersteuners geborg word.
Kinders en volwassenes kan leer om ’n groot verskeidenheid van instrumente te bespeel, onder meer klavier, kitaar, tromme, harp, klarinet, saxofoon, trompet, tjello, klawerbord, dwarsfluit, blokfluit en marimba. Daar word ook klasse vir preprimêre kinders aangebied, met kinders van drie tot ses jaar wat in dié groep val.
Die marimbagroep tree gereeld by funksies van veral die munisipaliteit op. Hulle was ook by die onlangse Namibië Toerisme Ekspo (NTE) waar hulle besoekers met hul klanke vermaak het.
“Hulle kan bespreek word vir funksies. Hulle is nou reeds vir ’n troue geboek. Dit is een van die maniere om die APC selfversorgend te maak.
“Ons maak ook musiekinstrumente reg. Een van die mans wat daar werk, is nou genooi om verder in Switserland te gaan studeer. ’n Besoeker het gesê sy buurman het ’n groot werkswinkel waar instrumente herstel word en alles is gereël sodat ons man vir opleiding kan gaan.”
Onderwysers
Die onderwysers is almal oudstudente, soos Eliphas Samuel wat klarinetlesse by die sentrum geneem het.
Hy moet nou vir sy meestersgraad oorsee of Suid-Afrika toe gaan, maar weens ’n tekort aan geld is dit nie op die oomblik moontlik nie. Hy het al aan die Musikwoche in Swakopmund deelgeneem, en bespeel en gee ook klasse in ander blaasinstrumente.
“Ek hou van die klarinet omdat dit vir my ’n baie emosionele instrument is,” het hy gesê. “Een van my groot inspirasies om die klarinet te bemeester was mnr. Abisai Angombe. Ek het nog nooit ’n swart persoon gesien wat die instrument speel nie. Toe ek hom die eerste keer hoor speel, het ek geweet dit is die instrument wat ek wil bemeester.”
Angombe was eers ’n student en later ’n onderwyser by die APC op Otshikuku. Hy het sy meestersgraad in Suid-Afrika met ’n beurs van die regering geslaag. Hy is toe genooi om in die Nederland onderrig in klarinet te gee. Voor hy egter na Namibië kon terugkeer, is hy in ’n ongeluk oorlede.
Immanuel Harenegileo (11) is die jongste onderwyser by die APC. Hy het in 2014 by die sentrum geleer om die marimba te speel en in Januarie ’n onderwyser geword. Hy gee klas aan sowat 15 kinders.
“Wanneer ek groot is, wil ek die marimba op mense se troues en by ander funksies bespeel. Ek wil ’n lewe daarvan maak,” het hy gesê.
Hy was ook een van die spelers by die NTE. Immanuel kan ook die klarinet, trompet, kitaar en viool bespeel.
“Wanneer ek op die marimbas speel, voel ek asof ek baie ‘cool’ is. Wanneer ek kwaad, bang, ongelukkig of omgekrap is, gaan sit ek net agter die marimbas en begin speel. Dan is alles weer goed en ek is weer lus vir die lewe,” het hy gesê.
Martha Djuulume en Rauna Pius is onderwyseresse in die preprimêre afdeling van APC.
Martha het in 2014 Tsumeb toe getrek en by die APC begin lesse neem. Sy het voorheen by die Paul H Musiekopleidingsentrum in Oniipa teorie en die klawerbord studeer. In Tsumeb het sy die trompet leer speel voordat sy ’n onderwyseres geword het.
Rauna is nou sewe jaar by die sentrum. Sy het begin deur elke dag kinders op die verhoog te vermaak terwyl hulle tussen klasse speel en kuier.
Sy speel die klavier, blokfluit en die trekklavier.
“In 2012 het ons ’n oorsese vrywilliger by die sentrum gehad wat vir ons opleiding in preprimêre lesse gegee het. Ek het daarmee begin en dit was vir my ’n plesier om vir die kleintjies lesse te gee. Musiek maak hulle koppe oop, dit hou hulle van die strate af, hulle leer iets na skool, en is produktief,” het sy gesê.
Willem Haneb het na die sentrum gekom om musiek te leer. Hy het egter vinnig besef sy passie is om instrumente te herstel. “Ek het opleiding by ’n man van Oostenryk ontvang. Ek herstel alle instrumente wat die sentrum gebruik, maar ook wanneer mense vir APC ’n stukkende stuur,” het hy gesê.
“Ek kan meeste instrumente bespeel, maar nie op ’n gevorderde vlak nie.
“APC hou kinders uit die strate. Dit gee hulle ’n doel en laat hulle fokus op iets wat mooi is. APC is vir party mense ’n plek om te ontspan en vir ander ’n tuiste.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie