Plek van stilte en eindelose vistas

In die verre suidooste van die land is 'n uitspanplek met 'n ryk geskiedenis, waar die stilte byna tasbaar is.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Dié deel van Namibië suid van Grünau, Karasburg en Ariams­vlei tot teen die Oranjerivier is een van Namibië se bes bewaarde geheime.

Wanneer 'n mens van Grünau af met die B1 suid ry om via Noordoewer na Suid-Afrika te gaan, weet jy wes van die hoofpad is die Visrivier-canyon met sy onderskeie oorde, lodges en besienswaardighede.

Dié deel oos van die B1 is egter selde op toeriste se radar. En tog is die natuurskoon asemrowend en word van die grootste oewerboerderye in die land stroomop van Noordoewer aangetref.

Dit sluit in dadelboerderye soos Karas Date Farming op die plaas Haakiesdoorn, en Desert Fruit neffens Komsberg. Op laasgenoemde plaas word tafeldruiwe vir die uitvoermark verbou, en reuse-sitrusaanplantings ook gedoen sedert mnr. Ali Saeed Juma Albwardy van die Verenigde Arabiese Emirate dit vier jaar gelede by die Louis-groep gekoop het.

By Velloorsdrif en Ramansdrift word ook op groot skaal ander gewasse soos lusern en botterskorsies verbou.

Namibiërs kan natuurlik ook met die C10 na Velloorsdrif ry en die grens by Onseepkans oorsteek om na die Noord-Kaap te reis.

Dit is nie tans moontlik nie aangesien net die landsgrensposte op hoofroetes tussen Suid-Afrika en sy buurlande tot verdere kennisgewing in gebruik is.

Die Sandfontein Lodge en Natuurreservaat langs die D208-distrikspad sowat 100 km suid van Karasburg, is 'n móét vir besoekers aan dié deel van die land. Nie net vanweë die uitgestrekte landskappe en volop wild nie, maar ook omdat dit van die geskiedkundigste plekke in die land se militêre geskiedenis is.

Aangesien dit so afgeleë is, verkies van die gaste om liewer daarheen te vlieg as om die 9 uur lange pad vanaf Windhoek aan te pak. Dié private wild- en natuurreservaat is 80 000 hektaar groot en strek tot teen die Oranjerivier.

Die lodge is 'n goeie 20 km vanaf die D208 geleë en onderweg daarheen kom 'n mens soms troppe gemsbokke en springbokke teë.

Besoekers word nie toegelaat om alleen die natuurreservaat te verken of in die veld te kamp nie.

Die lodge bestaan uit vyf rondawels, waarvan een ruimer en 'n tikkie luukser is. Die lodge kan nie meer as tien mense op 'n slag huisves nie.

Norman Williams, die plaasbestuurder, sê die aktiwiteite sluit bedags en snags wildbesigtigingsritte in, 'n stap­roete van 20 km van die lodge af tot by die rivier, asook visvang en kanovaart.

Volgens Chéri Morkel, die bemarkingsbestuurder, besoek mense naas die natuurskoon, Sandfontein vir die byna tasbare stilte en afgesonderdheid.

Omdat daar geen ligbesoedeling in die gebied is nie, is Sandfontein ook gewild by mense wat in sterrekunde geïnteresseerd is.



NAKED AND AFRAID

Norman vertel Discovery Channel het kort voordat Namibië in Maart verlede jaar sy grense weens Covid-19 gesluit het, 'n episode van die realiteitsreeks Naked and Afraid daar verfilm.

Dié episode is nog nie uitgesaai nie en daarom kan hy nie te veel uitlap soos wie die man en vrou was wat vir 21 dae kaal langs die Oranjerivier moes oorleef nie.

Franci, Norman se vrou, sê dit was baie warm en die deelnemers moes met net 'n pot en 'n mes oorleef deur self 'n skuiling te bou, vis te vang, sonder vuurhoutjies vuur te maak en die rivierwater te kook voor hulle dit drink.

Sy sê gelukkig was hulle klaar met die verfilming toe die streng inperking afgekondig is, en hulle moes skarrel om die span se vlugreëlings te verander.



SLAG VAN SANDFONTEIN

Sandfontein is een van die mees geskied­kundige plekke in die land se militêre geskiedenis en vir baie van die besoekers is dít die groot trekpleister.

Die Slag van Sandfontein, een van die eerste veldslae kort ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, het op 26 September 1914 tussen die Duitse en Suid-Afrikaanse magte plaasgevind.

Sandfontein is genoem na 'n heuwel ongeveer 28 km noord van die Oranjerivier en oos van die pad tussen Ramansdrift en Warmbad.

Dit is ongeveer 50 m hoog en daar was destyds drie fonteine. Dit was die enigste plek met water langs dié roete.

Die Duitsers, onder bevel van kol. Joachim von Heydebreck, het sommer vroeg tydens dié bloedige slag die oorhand gekry.

Die geveg het omstreeks agtuur die oggend begin en om sesuur die aand het die bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse manskappe, lt.kol. RC Grant, 'n junioroffisier opdrag gegee om die wit vlag te hys.

Tien Suid-Afrikaaanse en 14 Duitse soldate het dié dag gesterf.

Die grafte van die gevalle soldate is stapafstand van die lodge geleë.

Daar lê ook Duitse soldate begrawe wat dood is in skermutselings tussen die Schutztruppe en die Namas, 'n goeie dekade of wat voor die Eerste Wêreldoorlog.

Vir diegene wat nie geskiedenis-boffins is nie, is daar by die lodge 'n spesiale uitstalling van aktefate, kaarte en 'n uiteensetting van hoe die slag verloop het.

Gaan loer gerus by www.sandfontein.com as jy meer van dié lodge en natuurreservaat wil weet.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!