Plekname word litanie van verdriet as virus regeer
Alles was beplan, álles.
Ons sou die wekker vir 4 uur vanoggend stel, aantrek, die fles vol koffie maak en die klaar bereide padkos uit die yskas haal en in die pieknieksak pak.
Nie fênsie Woolies-happies nie; net doodgewone padkos – hardgekookte eiers, hoenderboudjies, toebroodjies, gekerfte biltong en naartjies.
Ek sou myself hardop herinner om ’n klam jammerlappie in ’n Jiffy-sakkie te sit, in te pak, en my man sou oudergewoonte sy bril soek toe alles al in die bakkie gelaai is en ons net nog die voordeur moet sluit.
Dan sou ons die honde groet en in die pad val.
Dit is hoe ons Vrydag vanoggend sou begin het.
Maar helaas is 2020 die jaar waarin ’n miniskule virus magtig regeer. . .
Die nuus oor die blomdeken uitgesprei oor die einders by Klein-Aus Vista was die hele Facebook vol.
Ons het een aand in die bed op ons fone na die foto’s en video’s gekyk en daar en dan begin beplan.
’n Paar weke al hoop ek die geleentheid doen hom voor om ’n onderhoud met die Suide se enigmatiese Wini Esterhuizen aan te lê oor haar boek wat pas verskyn het. Die dag toe ons Krismis gaan soek het is ’n bundel “nostalgiese kontreistories, jeugherinneringe en gekantelde fabels”, lees ek.
Deborah Steinmair, haar uitgewer by Protea Boekhuis, beskryf Wini as “’n kaalvoet-sigeuner, ’n grootmens-Pippie Langkous wat agter rooi duine aan die einde van die wêreld op ’n plaas naby Koës in Namibië woon”.
Só kon ek en Wini eindelik afspreek om die onderhoud op die rooi duine by Klein-Aus Vista te doen. In my geestesoog neem ek by voorbaat foto’s van haar – kaalvoet en kruisbeen tussen die geel en pers blomme, haar bos rooi hare wild in die wind.
Om ons sloertoer oor Maltahöhe by Duwisib en Betta verby tot waar ons op die D707 sou klim, nóg lekkerder te maak, bel ek vir Louisa Campbell van Lovedale. Haar man, Malcolm, is die vyfde geslag op dié Campbell-plaas wat al van 1854 af aan die familie behoort. Die Lovedale Swakara-stoet is die oudste karakoelstoet in die land.
Ons spreek af om so tienuur by hulle te arriveer vir ’n plaasbesoek, onderhoud, foto’s en videomateriaal vir September se uitgawe van Die Boer.
Met dít agter die rug, sou ons deurdruk Aus toe.
Ons sou met die C27 eers weer terugry in die rigting van Betta en dan afdraai op die D707. Volgens gesoute reisigers en die Namib se talle minnesangers en liefdesdigters, is dit dié mooiste roete in die land.
Met die skurwe Tirasberge aan die een kant en die golwende duine aan die ander kant, ry ’n mens ure lank aan die 123 km omdat die mooi jou kort-kort laat stilhou om foto’s te neem.
Hoewel die naamborde van gasteplase soos Koiimasis, Landsberg, Namtib en Gunsbewys getuig van siele en mensgeskepte lewe, kom 'n mens selde ’n enkele voertuig langs die pad teë.
Maar die plekname in dié mooie geweste waarna ons vandag sou ontvlug, het met Woensdag se nuwe inperkings ’n litanie van verdriet geword. Ons leef nou in ’n wêreld waar ’n virus ons wel en wee, sowel as ons weë, bepaal.
Vir die volgende weke “reis” ons weer tussen die huis, die kantoor en die Spar.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie