Poetin een van die gaste by Brics-beraad in Jhb
Poetin een van die gaste by Brics-beraad in Jhb

Poetin een van die gaste by Brics-beraad in Jhb

Sarel Van der Walt - Die rooi tapyt is skoongemaak, die veiligheid is opgeskerp en Suid-Afrika is gereed vir die 10de Brics-beraad wat Woensdagoggend in Johannesburg begin en tot Vrydag duur.

Rusland se pres. Wladimir Poetin, China se pres. Xi Jinping, Narendra Modi, Indië se premier, en Brasilië se pres. Michel Temer sal pres. Cyril Ramaphosa se gaste by die beraad wees.

Suid-Afrika is vanjaar die voorsitter van Brics.

Xi sou Maandagaand reeds op die lugmagbasis Waterkloof in Pretoria aangekom het vir ’n staatsbesoek voordat die beraad Woensdagoggend in die Sandton-konferensiesentrum begin.

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Maandagmiddag op ’n nuuskonferensie gesê Suid-Afrika is gereed om die beraad aan te bied.

Suid-Afrika het die Brics-beraad ook in 2013 aangebied toe Durban die gasheerstad was.

Uiters streng veiligheidsmaatreëls is reeds in die omgewing van die Sandton-konferensiesentrum in plek. Verskeie strate sal gesluit wees.

Buiten die vyf Brics-staatshoofde wat daar sal wees, sal verskeie ander staatshoofde ook die beraad bywoon.

Onder hulle tel pres. Tyyip Erdogan, Turkse president, wat die beraad as voorsitter van die organisasie van Islamitiese state bywoon.

Die verwagting is dat Erdogan en Poetin tydens die beraad afsonderlik oor Sirië sal beraadslaag. Dié twee lande werk ten nouste in die Siriese konflik saam.

Andrew Holness, eerste minister van Jamaika, is ook genooi.

Suid-Afrika hoop om op die beraad nouer samewerking tussen die Brics-groepering en Afrika te bewerkstellig.

Daarom het hy heelparty staatshoofde van Afrika genooi om Donderdag die beraad by te woon en met die Brics-leiers te vergader en skouers te skuur.

Onder die Afrika-leiers wat in Sandton sal wees, is die staatshoofde van Namibië, Gaboen, Angola, Senegal, Togo, Uganda en Rwanda.

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) sal ook goed verteenwoordig wees.

Sisulu sê die staatshoofde hoop om aan die einde van die beraad ’n sogenaamde “Johannesburg-verklaring” te doen oor wat Brics se planne is vir die res van die jaar.

Ministers van die vyf lande, asook diplomate wat as “sherpas” bekend staan, het die laaste paar maande agter die skerms gewerk om alles gereed te kry.

Sisulu sê Suid-Afrika sal voorstel dat ’n komitee saamgestel word wat sal kyk na die moontlike ontplooiing van vredesmagte in konflikgebiede.

Suid-Afrika hoop ook dat Brics sal instem tot die ontwikkeling en finansiering van ’n entstof-navorsingsentrum in Suid-Afrika, ’n forum sal stig wat aandag gee aan gender- en vrouesake, en dat daar gefokus sal word op die sogenaamde vierde nywerheidsrevolusie.

Sisulu het gesê die staatshoofde sal ook sake van internasionale belang bespreek.

Sy glo nie die sogenaamde “tariefoorlog” wat onlangs deur pres. Donald Trump van die VSA begin is, sal ’n oorheersende besprekingspunt tussen die Brics-leiers wees nie.

Hulle sal volgens haar eerder fokus op maniere om die samewerking tussen die Brics-lande te verbeter.

Op ’n vraag of Suid-Afrika nie bekommerd is dat van die leiers wat daarvan beskuldig word dat hulle nie ware demokrasie in hul lande toelaat nie en ook nie respek het vir menseregte nie, ook by die beraad sal wees, het Sisulu gesê sy hoop Suid-Afrika stel aan hulle ’n voorbeeld oor dinge gedoen moet word.

Die minister glo Ramaphosa sal ook die beraad gebruik om vir die Brics-lande te wys Suid-Afrika is ’n goeie plek om in te belê.

Die ouddiplomaat Gert Grobler sê Suid-Afrika se lidmaatskap van Brics hou nie net beduidende ekonomiese voordele vir die land in nie, maar ook geo-politieke voordele.

Die ekonoom Mike Schüssler sê Brics verteenwoordig die grootste ontluikende markte wat steeds besig is om groter te word. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!