Poetin sien rooi oor Trump se missiele

Jo-Mare Duddy Booysen
Die Russiese weermag het 'n ooreenkoms opgeskort om inligting oor sy vliegoperasies in Sirië met Amerika te deel.

Dit is in reaksie op pres. Don­ald Trump se magtiging van 'n lugaanval op Siriese regeringsmagte.

Dit was een van Trump se verkiesingsbeloftes om beter samewerking met Moskou te verseker, selfs te midde van kritiek dat Rusland ingemeng het in verlede jaar se Amerikaanse presidentsverkiesing. Dit blyk nou dat Trump se hoop op beter samewerking aan skerwe is ná 'n diplomatieke konfrontasie waarin die twee lande mekaar in die openbaar gekap het, het The New York Times gister berig.

Pres. Wladimir Poetin se kantoor het Amerika se lansering van 59 Tomahawk-missiele as 'n skending van internasionale reg en 'n “beduidende terugslag” vir die verhouding tussen Rusland en Amerika beskryf. Rusland se premier, Dmitri Medwedef, het daarna gesê Trump het verhoudings tussen die twee lande “heeltemal vernietig”.

Die Trump-administrasie het daarop gesinspeel dat Rusland medeverantwoordelik is vir die chemiese aanval Dinsdag in die Idlib-provinsie waarin meer as 80 mense dood is. Dit was dié aanval wat Amerika teen Sirië se regering laat optree het.

Baie Amerikaners, onder wie Hillary Clinton van die Demokratiese Party, het Trump ondersteun, selfs al het oudpres. Barack Obama vier jaar gelede in ­soortgelyke omstandighede geweier om op te tree.

Clinton het wel 'n stekie ingekry en Trump van skynheiligheid beskuldig omdat hy die dood van Siriese babas veroordeel, maar weier om Siriese vlugtelinge in Amerika te aanvaar. Amerika se bondgenote in Europa, Israel, Turkye en Saoedi-Arabië het Trump vir sy optrede geloof.

“Amerika is bereid om verdere stappe te doen, maar ons glo nie dit is nodig nie,” het Nikki Haley, Amerika se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Vrydag op 'n spesiale vergadering van die Veiligheidsraad gesê.

Sowat 100 Russiese troepe was glo by die Siriese lugmagbasis gestasioneer wat Donderdag in die missielaanval deur Amerika geteiken is. Volgens 'n Amerikaanse amptenaar is die Russe tussen 60 en 90 minute voor die aanval in kennis gestel dat missiele op pad is.

Rusland het nie sy lugverdedigingstelsel teen die missiele gebruik nie, maar agterna sy militêre spiere gebult met 'n aankondiging dat hy 'n fregat stuur om sy lugverdediging te versterk.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!