• Tuisblad
  • Sport
  • Pogacar (21) wen TdF se geel, wit én polkadot-trui

Pogacar (21) wen TdF se geel, wit én polkadot-trui

Fietsry
Marnus Kok – Die Sloweense fietsryer Tadej Pogacar kon seker nie vir ’n beter geskenk gevra het as om die dag voor sy verjaarsdag as Tour de France-kampioen bekroon te word nie.
Wanneer Pogacar (UAE) Maandag sy oë oopmaak sal hy 22 wees – minder as 24 uur nadat hy Sondagmiddag die mees gesogte wedren in die wêreld gewen het. Hy is die eerste ryer van sy land om dié prestasie te vermag.
Dit maak Pogacar die tweede jongste wenner in 116 jaar. Die Fransman Henri Cornet was 19 jaar en 350 dae oud toe hy in 1904 met die titel weggestap het.
Pogacar se landgenoot Primož Roglic (Jumbo-Visma) het algeheel tweede klaargemaak (+59 sekondes), gevolg deur die Australiër Richie Porte (Trek-Segafredo, +3 minute, 30 sekondes).
En watter poging het Pogacar nie opgedis nie! Hy het Saterdag se 20ste skof, ’n individuele tydtoets gewen, om die geeltrui by sy landgenoot Roglic oor te neem.
Voor die aanvang van daardie skof was hy 57 sekondes agter die 30-jarige Roglic en min mense sou voorspel dat die geeltrui ’n nuwe eienaar sou kry.
Vir 19 skofte het Jumbo-Visma die wedren beheer om Roglic in die beste moontlike posisie te plaas om Sondag die Tour te wen.
Maar Pogacar het ander planne gehad en het Sondag se laaste skof na Parys met ’n voorsprong van 59 sekondes bo Roglic begin. Dié skof, wat basies seremonieel is, is oor 122 km van Mantes-la-Jolie na Parys beslis.
Iemand wat nie verbaas oor Pogacar se vertoning nie, is die 75-jarige Eddy Merckx, ’n vyfmalige wenner van die Tour. Hoewel Pogacar Saterdag sy derde skofsege vanjaar behaal het, het hy grootliks onder die radar beweeg. Hy het nie onnodige aanvalle geloods nie – voordat hy op die 20ste skof stem dik gemaak het.
“Ek het Pogacar op ’n myl sien aankom en ek het gesê die enigste oplossing vir hom is om vir die tydtoets te wag – want tyd was aan sy kant.
“Hy is net 21 en veel varser as Roglic – iets wat die afgelope paar dae duidelik was. Hy het geweet hy moet nie aanval nie, omdat Jumbo-Visma sterker is,” het Merckx aan die Franse publikasie L’Équipe gesê.
Behalwe vir die groot prys, het Pogacar boonop ook die wittrui – as die beste jong ryer – gewen én in die Bobaas van die Berge-kategorie koning gekraai.
Vir die rekord: Die Ier Sam Bennett (Deceuninck-Quick-Step) het die laaste skof in ’n naelrit na die wenstreep gewen. Sy wentyd was 2 uur, 53 minute en 32 sekondes. Mads Pedersen (Trek-Segafredo) van Denemarke was tweede, gevolg deur Slowakye se Peter Sagan (Bora-Hansgrohe).
Dit is nie net in Slowenië waar daar fees gevier word nie. Bennett se sege het verseker dat daar ook in Ierland feesgevier gaan word. Behalwe vir die skofsege, het hy weggestap met die groentrui, as wenner van puntekategorie. In die proses is Sagan se houvas op dié trui verbreek. Sagan het die groentrui klokslag van 2012 gewen – met die uitsondering van 2017.
Suid-Afrika se Daryl Impey (Mitchelton-Scott) het algeheel in die 97ste plek klaargemaak, met Ryan Gibbons (NTT) 121ste.
Die plaaslike NTT het 20ste uit 22 in die spankompetisie geëindig.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!