Poging misluk om banksluiting te vertraag
Volgens die sentrale bank se regspan kan die SME Bank heeltemal geplunder word as die hof nie dadelik optree nie.
Jacqueline Louw
'n Regstegniese punt wat deur die prokureur van twee minderheidsaandeelhouers in die SME Bank geopper is, is Vrydag deur regter Hannelie Prinsloo van die hand gewys.
Dit het die likwidasie-aansoek gebring deur die Bank of Namibia (BoN) aanvanklik vertraag, maar die hoërhof het Vrydag wel die partye se argumente oor dringendheid aangehoor.
Vrydag is namens die BoN aangevoer dat die komende dae kritiek sal wees om die ineenstorting van die SME Bank te verhoed.
Die sentrale bank voer aan die bank is insolvent weens die verlies van N$174 miljoen wat wederregtelik in Suid-Afrika belê is.
Twee Zimbabwiese minderheidsaandeelhouers, die Metropolitan Bank of Zimbabwe (Metbank) en World Eagle Properties (Edms.) Bpk., wat onderskeidelik 35% en 5% van die aandele in die bank besit, staan die aansoek teen. Die Namibiese regering, wat 65% van aandele besit, staan die aansoek nie teen nie.
Die hof het beslis dat die aansoek nie eers aan die meester van die hoërhof voorgelê moes gewees het nie.
Vrydag het mnr. Sisa Namandje namens Metbank en World Eagle Properties versoek dat die kwessie van dringendheid eerste aan bod moet kom.
Volgens hom is die saak nie dringend nie en skryf die Maatskappyewet voor dat likwidasie altyd die laaste uitweg moet wees. Ander regsopsies moet volgens Namandje voorkeur kry.
Volgens Namandje sal sy kliënte se regte benadeel word indien hul nie genoeg tyd het om hul saak te stel nie.
Die president van die BoN, mnr. Ipumbu Shiimi, voer aan die regering wil die bank nie red nie en daarom is likwidasie die aangewese uitweg.
Senior advokaat Andrew Corbett het benadruk die BoN vra net 'n voorlopige likwidasiebevel om die bates en belange van die bank en sy krediteure te beskerm. Daar word volgens hom steeds hard gewerk om buitelandse beleggings te herwin.
Die saak is volgens Corbett dringend omdat partye verdere skade kan ly indien daar nie dadelik opgetree word nie. Voorlopige likwidasie sal verliese en die grootskaalse onttrekking van geld voorkom, volgen hom.
Teen volgende jaar kan die SME Bank volgens Corbett heeltemal geplunder wees. Die BoN is volgens hom wetlik verplig om die likiditeit van die instelling te verseker. Die SME Bank mag volgens Corbett nie toegelaat word om aan te hou “bloei” nie.
'n Verslag opgestel vir die BoN deur mnr. Romeo Nel toon dat die komende dae van kritieke belang is om die totale vernietiging van likiditeit te verhoed.
Die Nasionale Energiefonds beoog byvoorbeeld om sy deposito van sowat N$400 miljoen te onttrek. Hiervan kan N$117 miljoen binne 'n dag onttrek word, terwyl die balans in Oktober betaalbaar is.
Regter Prinsloo sal vandag om 14:15 uitspraak lewer of die saak dringend is, al dan nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie